Название: Kortetjies en 'n lange
Автор: PG du Plessis
Издательство: Ingram
Жанр: Юмористические стихи
isbn: 9780624051350
isbn:
Dis soos dit gebeur het dat ons hier by ons ’n merkwaardig permanente en hewige vyandskap beleef het. Dit was ’n bekende feit dat twee voorbeeldige mense meer Nagmale oorgeslaan het oor siedende woedes as wat behoorlik is.
Oom Koos en sy vyand, meneer Sandvliet, sê ding het glo begin oor ’n stukkie vlei.
In die dae voor Waterwese alles kom beduiwel het met sy verbiedinge, het die oumense leivore uitgehaal. Dan vat hulle dit al hoe verder van die rivier af weg tot hulle naderhand in die rivierlandjies kan lei.
Maar nou het van die leivore hulself mettertyd te buite gegaan. Hulle is so hier en daar met ’n graaf aangehelp, en naderhand loop hulle sterker as die rivier, en hulle begin met elke vloed hul eie pad groter vreet, tot hulle naderhand oorneem en soos die rivier begin lyk. Soos aangetroude familie.
En dan laat so ’n leivoor tussenin ’n vlei, of ’n stukkie land. ’n Nabotsmorgie of twee.
Dan sal oom Koos nou een aand ná huisgodsdiens weer die kaart en transport onder uit die hangkas haal en die ding bekyk, en die strepe sal hy sien, en die omskrywings, en die middel van die rivier soos dit daar staan, en hy sal vir sy vrou sê hy dink daardie draad van meneer Sandvliet is bietjie optimisties gespan.
Dan sal hy meneer Sandvliet nader, en dan sal dié sê hy’s laf, die draad staan al daar van hy sy verstand het, en dis een woord oor die ander, en volgende maand gebruik nie een van die twee Nagmaal nie, oor hulle beswaard is oor hulle naaste en nie ’n oordeel oor hulself wil drink nie, want die sonde lyk na ’n lang en moeisame proses.
As liefde so welig gegroei het soos vyandskap, sou ons ’n wonderlike wêreld bewoon het. Maar nou kan Sarel van oom Koos skielik nie anders as om skelm by die Sandvliet-dogter te kom nie, en met die perdeskou is die twee aanmekaar oor reël drie van die grondwet, en by die koöperasie groet hulle mekaar nie, en hulle skinder hul vrouens warm, en by die Boerevereniging staan hulle teen mekaar vir possies, en soms gee hulle glad nie vir die kerk nie, en soms te veel omdat die ander een baie gegee het.
Die families groei uit mekaar, en by die skool kom die kinders nie meer klaar nie, en hulle begin van hul vriende verwag om van die ander party af weg te bly as hulle wil vriende bly, en so gaan dit aan.
Dis dan soos vyandskap lyk: wanneer die een die ander niks gun nie; wanneer die een net die ergste van die ander verwag; wanneer die een die donker in die ander se liggie sien.
Dan kom doodgaantyd.
Doodgaan is hier by ons nog ’n ernstige saak.
Soms smee hulle ’n tydige vredetjie, soms nie. Maar, soos in boedels, is daar ’n langslewende.
Toe Sandvliet dood is, het die mense vertel hy het nie met oom Koos vrede gemaak nie en die ligsinniges het gesê oom Koos moenie nou aan die drade skuif nie, Sandvliet gaan kom spook.
Die dag met die begrafnis kry ek oom Koos tussen die graf en die onthaal.
Hy is nie in ’n goeie bui nie, en hy spreek my aan:
“Jong, vir jou het ek nou al weke nie tyd nie,” sê hy.
“Maar, oom Koos, ek het oom niks gemaak nie,” sê ek. “Wat’s dit nou met oom?”
“Jy skryf goed in die koerant wat my nie aanstaan nie. Jy skimp op ’n mens soos ’n vrot dominee. Soos die man vandag wat vir Sandvliet neersit sonder om eers te skimp op sy inhaligheid.”
Ek vra na my sonde. Dit handel, sê oom Koos, in terme te sterk vir vandag se koerant, oor daardie storie van die ou vrou wat na’and so alleen geword het oor al haar ou vriende voor haar geplant is.
“Jy skimp op my en Sandvliet se vyandskap,” sê hy. “Ek het mos oë om te lees.”
Ek verstaan nie.
“Dis die dag as jy jou vyand verloor dat alles vaal word,” sê hy. “Hy’t ’n simpel begrafnis gehad, en ek kan dit nie vir hom sê nie. Ek gaan beter begrawe word en hy gaan dit nie sien nie. Nou lê die ou bokker daar en hoe sal ek hom vermaak?”
Dis vyande ook, nie net vriende nie, jammer oom Koos, verskoning, maar hoe op aarde het ek geskimp soos ’n vrot dominee? Ek weet die rivier is ook óns grens, maar dis aan óóm se kant waar daar gesteel word …
Beëllie se versoek
Ek het u al vertel van die nagte wanneer my vriend kom.
Dis gewoonlik aande van ledigheid. Die ledigheid waarvan die oumense gesê het dat dit die duiwel se oorkussing is.
Ook aande wanneer die alleen op jou nek kom sit, wanneer daar te veel vuurvliegies teen die bos wil regs draai, wanneer die bome swart-swart teen die naglug staan, wanneer die honde steun van donker jagdrome uit hul oertyd, wanneer jy self lus raak en tjank saam met die jakkals maan toe.
Sulke aande. Wanneer alles wat jy liefhet, ver is, en tot jou hond verlaat jou in sy drome en loop hol agter droombase en droomhase aan. Moet nooit jou hond en jou geliefde se drome vertrou nie – dis soos joune.
Dan slaan jy ’n vuurtjie aan, braai jou proteïen, kook water vir jou kafeïen en kyk in die kole-grotte wat jou vuur maak.
Dis wanneer my vriend opdaag en met sy voete in die vuur kom sit, my kookwater drink as dit lekker borrel, my pyp aan die brand blaas as dit nodig word.
My vriend, Beëllie, kom uit ’n warm deel en die dinge verbaas my nie meer nie. Die eerste aand toe hy afgekom het vir die sinodesitting en hom voorgestel het as Beëlsebub S. (die S staan vir Satan) was ek nog verbaas. Deesdae is ek dit gewoond. Satan is maar soos ’n gewete – jy raak gewoond aan hom en dan’s dit maklik.
Toe ek van ’n vorige ontmoeting vertel het, het verskeie dominees en ander benaamde geestelikes uit die diverse denominasies wat bestaan, opgebel om te sê ek spel die naam verkeerd. Dis eintlik Beëlsebul.
Ek sê toe maar terug dat dit vreeslik is dat geestelikes meer weet van die naam as ’n randeier soos ek.
Wat hulle daarop gesê het, herhaal ek nie, ’n mens wil nie dié mense slegte publisiteit gee nie, al het hulle talent daarvoor.
Maar nou die nag had die vuurvliegies hul flikkerligte weer aan, die honde droom, en ek sit elmboog op die knie en kyk hoe vrek ’n vuur.
Ek skrik toe Beëllie aansit en die vuur met een asem hoog blaas voor hy sy voete insit.
Ons groet en ek vra hom waaraan sy besoek te danke is.
Kersfees, sê hy. Hulle werk maar hard oor Kersfees. Hy stoot maar elke jaar sy manne vroeg in Desember in, want Kersfees bly hul beste oestyd. Nie alleen wat sonde betref nie, maar hy het ’n paar manne op die paaie wat met dié in die kroeg saamwerk en dan kry jy heelparty siele sommer direk van die pad af.
Geweld doen ook goed met die kroegmanne saam, maar hy trek die personeel van elders in om veral in die Begeerte-afdeling te help.
Ek vra hoe so.
Hy sê met die beplanningsvergadering in November rapporteer ’n direkteur soos Leuen, byvoorbeeld, dat die politici begin stil raak, en СКАЧАТЬ