Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 7

Название: Fees van die ongenooides

Автор: PG du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624052616

isbn:

СКАЧАТЬ vrou nie. Joey het gesien hoe geskok Gertruida was wanneer die twee jonggetroudes se suggestiewe spel te duidelik begin sinspeel op wat kennelik daardie aand sou volg. Sy het dan uit die geselskap verdwyn, en die twee het daaroor gelag. Met daardie spelery was daar amper iets vermakerigs in Magrieta houding. So asof sy vir Joey en Gertruida sê: Ons het dit, julle nie. Wanneer die ouers nie naby was nie, het hulle iets van die geilheid van hulle jong liefde gewys. Van die oomblik van hulle eerste ontmoeting af, toe Joey so verslons voor haar gestaan en die goedheid van God so uitgeblaker het, het Magrieta altyd ’n glimlag vir hom gehad – so effens spottend asof hy steeds vuil is en verward raak voor haar skoonheid. “Ek is sommer net ’n ding in haar oë,” het Joey vir homself gesê, en dis nie hoe hy dit wou gehad het nie.

      Daar was nog twee dogters. Nellie, sestien en blosend voor die geringste, en Sussie, die jongste, stil en eenkant.

      Die grootvader in die huis, oupa Daniël, het al swaar opgestaan en met oumenstreetjies geloop, in die verlede geleef, betigtend met die jongeres omgegaan, en by die geringste aanleiding lank en smekend gebid.

      So het Joey die familie leer ken. Maar dit was altyd oppervlakkig, omdat dit van ’n afstand af moes geskied. Hy moes hulle leer ken soos ’n vreemdeling wat ’n vreemdeling bly, en só agterkom wat aangaan: meer uit afleidings as uit mededelings. Daardie eerste middag het hy nog nie geweet hoe die vurk in die hef steek nie, en het hy nog geglo: ’n Gegoede familie, ’n Engelse familie, goddank.

      Dorothea het hom, toe hy skoongewas en ordentlik aangetrek uit die stronkekamer verskyn, gevra om te kom aansit vir hulle Sondagmiddagete in die eetkamer. Almal het net Engels gepraat, het Joey tot sy sterfdag geglo. En as dit nie so was nie, hoekom het hy dit so gehóór? Wat het jou makeer? het die selfverwyt wat met die herinnering op sy skouer kom sit, altyd gevra. Hy moes tog kon hóór die ou man sê sy tafelgebed in Nederlands. Waar was sy gedagtes? Dis van ordentlikheid dat hulle in sy teenwoordigheid net Engels gepraat het. Dit kon sy smartlike reis, of sy smagting na ’n bietjie verstaan, of die vernedering van sy vuilwees, of die skok van Magrieta se verdomde skoonheid gewees het, of so iets, maar wat ook al die rede, wat gebeur het, was onomkeerbaar gedaan.

      Dalk was dit die noodlot wat gemaak het dat sy oog die kraffie op die tafel die eerste raaksien toe hy die eetkamer binnegaan. ’n Geel vloeistof het in die kraffie gegloei. En daar was belowende wynglase voor die borde. Joey het drie weke vantevore op ’n bitter koue nag met ’n seer hart van die laaste druppels uit oorlede Hans se brandewynfles afskeid geneem. Drie weke is lank.

      Rondom hom was die eetkamer van ’n gegoede familie. By die swaar stinkhouttafel kon veertien aansit, die reuse-buffet was bypassend – met ’n spieël en kerfpatrone op die vlakke en rande. Die leunings van die eetkamerstoele het hoog gestaan. Die harmonium was een van die grotes. Op die tafel was die borde en skottels Delft, die eetgerei silwer. Teen die gebosseleerde muurpapier het daar, in waardige rame, die vergrotings van streng familielede gehang. Dit het Joey darem raakgesien. Hy was nie die eerste fotograaf wat hierdie ver plek besoek nie. Maar, het hy hom voorgeneem, hy sou ’n klomp gratis vergrotings aanbied om te wys hoe hy die mense se gasvryheid waardeer. Ja, hy sal dit doen.

      Die kos wat aangedra en op die Sondagtafel voorgesit is, was oorvloedig. Oupa Daniël het die tafelgebed gedoen. Daar is in ruim porsies opgeskep. Maar Joey het opgelet dat niemand die kraffie nader trek nie. Hulle het gevra wie hy is en waar hy vandaan kom. Niemand het geskink nie. Hy het die geslypte glas van die kraffie hardop bewonder. Niemand skink nie. Joey het die gesprek gestuur in die rigting van die gebruik van wyn aan tafel. Geen reaksie nie. Uiteindelik het hy maar gewaag en gesê dat ’n slukkie van die wyn uit die kraffie dalk goed met sy maaltyd sal deug. Danie het verduidelik dat daar hanepoot uit die Kaap in die kraffie is. Dis baie soet, het hy bygesê – hulle gebruik dit net ná ete as dessertwyn. Joey het deurgedruk en bely dat hy ’n swakheid het vir iets soets saam met sy soutkosse.

      Danie het die kraffie vir hom aangegee en Joey het sy glas volgeskink en uitgedrink. Die gloed het van sy maag af uitgebrei tot in die verste puntjies van sy ledemate. Hy het die wyn geprys en gewonder of hy verkwalik sou word as hy dalk nog ’n glas saam met sy ete geniet.

      Dis waar alles verkeerd geloop het, want Joey het die kraffie nie weer op sy plek in die middel van die tafel teruggesit nie, maar sommer voor sy bord. Hy het nie weer permissie gevra nie, net geskink. Sy tong het los geraak en hy het aangebied om, gesien die wonderlike gasvryheid wat hy by sulke uitnemende mense kan geniet, vir hulle ’n klompie gratis vergrotings van die hele familie te laat maak. Sy aanbod is aanvaar. Dit was toe dat Dorothea vra of meneer Drew sal omgee om dalk die week by hulle oor te staan, want haar man se broer en dié se gesin het laat weet dat hulle die eerskomende Saterdag oorkom. Sal meneer Drew omgee om dan ’n foto van die hele familie te neem?

      Natuurlik was meneer Drew maar alte gretig om ’n dame met soveel gulhartige gasvryheid te akkommodeer.

      “Met die oorlog nou dreigend,” het Dorothea van Wyk voortgegaan, “weet niemand wanneer ons dalk ooit weer bymekaar sal wees nie.”

      Joey het die onderwerp aangegryp en daarop uitgebrei met hanepoot-gedrewe nadruk.

      Hy het begin deur te vertel hoe vrot die sogenaamde republiek in Transvaal regeer word deur daardie ou dik sot met die leep-oë, Paul Kruger, en hoe die ou man wat dink hy’s ’n soort president net na homself en sy vriendjies kyk, terwyl goeie Britte in die modder vertrap word en nie eens ’n stem het om die ou in die bek te ruk nie. Dit was ’n skande soos dinge oorkant die Vaalrivier aangaan. Hy, Joey Drew, dink dis hoog tyd dat die Britse Ryk ’n klomp soldate oorstuur om die spul ongeletterde en onbeskaafde Boere eens en vir altyd op hulle plek te sit.

      “Die spul Boere walg my al van ek hier aangekom het,” het Joey gesê. “Sulke agteraf mense het net nie die kennis of die eerlikheid om ’n land ordentlik te regeer nie.”

      Joey het meer gesê. Baie meer.

      Hy was so weggevoer deur die onderwerp en die weldadige gloed van die hanepoot in sy lyf en kop dat hy nie agtergekom het hoe sy tafelgenote verstyf nie. Hy het nie eens opgelet dat Daantjie van Wyk sy stoel agtertoe skuif en op sy voete kom nie, of dat die seun die vader in die skraperige taal aanspreek nie. Want Daantjie het sy pa gevra of hy sal omgee as hy die bliksemse skeel Engelsmannetjie aan sy broek se gat vat en hom deur die agterdeur vir die honde gooi.

      “Nee wat, ou seun,” het Danie gesê, “laat die klein vloek maar praat. Ek het altyd gewonder hoe hulle koppe werk.”

      Joey is toegelaat om voort te borduur en die algemene mening van die Johannesburgse mynwerker te lug totdat Danie van Wyk se plat hand op die tafel neergedawer het.

      “Genoeg!” het hy gesê, en in die stilte ná die slag het hy koud en afgemete gepraat soos ’n man wat onmiddellik verstaan wil word deur selfs die domste.

      “Ons is Boere, meneer Drew. Ons sal jou Britse Ryk beveg tot die einde. Jou koningin en haar trawante het ander mense se lande die een na die ander gevat asof die wêreld aan julle behoort omdat julle Engelse is. Wat julle voorwendsels nou ook al hierdie keer sal wees, die enigste waarheid is dat julle agter die goud van die Witwatersrand aan is en dat julle dit wil steel soos julle ons diamantvelde gesteel het. Jou Empire het weer geld geruik en julle sal agter die reuk van rykdom aandraf soos ’n reun agter ’n bronstige teef – soos julle nog altyd gemaak het, sonder om om te gee waar julle julle groot pote neersit of wie se bloed julle vergiet. Julle wil ons vryheid saam met ons goud van ons vat. Maar jy en ou Victoria sal nog agterkom hoe hoog ons ons vryheid ag en dat ons daarvoor sal sterf as ons moet. Dis ons land dié. Niemand het julle hierheen genooi nie. Julle was nou al ’n klomp ongenooide rowers oor omtrent die hele wêreld en julle is dit hier ook. Niemand het julle genooi nie! Julle het goud geruik en sélf al kwylend aangedraf gekom. Kry dit in jou kop … Dorothea, wys vir die man waar hy vanaand kan slaap en sê hom hy moet onder my voete uitbly.”

СКАЧАТЬ