Fees van die ongenooides. PG du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fees van die ongenooides - PG du Plessis страница 19

Название: Fees van die ongenooides

Автор: PG du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624052616

isbn:

СКАЧАТЬ te benewel. Hy het met moeite op die perd gebly. Die toon was amper nie meer seer nie, behalwe wanneer die stiebeuel of die perd se sy aan hom raak en die hel deur die toon, sy been en sy heup skiet. Maar tog was hy nog helder genoeg om agter te kom dat Daantjie saggies aan die huil was. Soos ’n man wat ’n gehate vreemdeling in homself raakgeloop het, sou Soldaat gedink het as hy nog kon.

      In die kamp het Danie sy skoene uitgetrek en sy pyp opgesteek. “Daardie ding” het hom seerder gemaak as enigiets wat hy al ervaar het. Hy’t sy seun verloor. Die brawe dood van ’n gesneuwelde sou vir hom verkieslik gewees het bo “daardie ding”. En hy, Danie van Wyk, is reggehelp deur ’n bywoner se seun wat nie eens ’n oorlogsperd het nie. ’n Swart man, sy gedienstige kneg oor soveel jare, het sy-aan-sy met hom geveg in die plek waar sy seun moes wees. Danie het geweet dat iets tydens die geveg begin meegee het. Die verhoudings was klaar anders en sou nooit weer dieselfde wees nie.

      Later, dit was al aand, het Danie Petrus Minter sonder sy hemp oor ’n skottel water sien staan. Hy was besig om die droë bloed van Van As en die varser rooi van die gewondes waarmee hy gehelp het, van sy hande, arms en bors af te was. En uit sy hemp.

      “Petrus …” Danie het gehuiwer en Petrus het gesien die oom weet nie mooi wat om te sê nie, en albei het geweet hoekom. Dit was “daardie ding”.

      Petrus het, soos altyd, presies en met ’n sagte stem gepraat. Hy het nie begin voor hy Danie nie in die oë kon kyk nie: “Oom Danie, ek het Soldaat vroegaand half deurmekaar in sy kombers gekry. Toe vra ek sommer die hospitaalmense wat ek met die gewondes gehelp het, om na Soldaat se toon te kyk – na die een waarop tante Gertruida se klavier daardie tyd geval het …”

      “Is dit só erg?”

      “Hulle sê hy’t nou die kouevuur in die toon en as die toon nie dadelik afgesit word nie, gaan die vuur al hoër klim en hom doodmaak. Of hy gaan sy voet verloor. Maar hulle kan hom nie help nie, want daar’s te veel gewondes om na om te sien.”

      “Is jy seker?”

      “Oom Danie kan maar na die toon gaan kyk. Soldaat lê daar anderkant. Die toon is pikswart en besig om te vrot. Mens ruik dit. Ek dink ek het wit been by die swelsel sien uitsteek. Die hospitaalmense het gesê ons moet maar bokant die agterste lid sny en kyk of dit help … en ons moet, as daar nog gesonde vel is wat rooi bloei, bietjie daarvan losmaak, sodat ons dit oor die stompie kan rek en vaswerk.”

      Danie het na die tent gegaan wat hy met Daantjie deel en teruggekom met ’n bottel brandewyn.

      “Maak hom so dronk as jy kan, Petrus, maar los ’n bietjie brandewyn om die stompie mee af te was. Ek sal die sout en die salf kry … en nog ’n lantern.” Danie het met die wegloop ’n paar woorde bygesê – en Petrus het geweet dié woorde praat nie net van Soldaat nie, maar ook oor Daantjie, selfs dalk ook oor hom: “Daardie man het vandag saam met ons geveg.”

      Petrus het Soldaat die brandewyn eers vrywillig laat drink en later amper met geweld ingegee sonder om hom te vertel hulle gaan sy toon afsny. Die reeds half-bewustelose man het gedrink tot hy nie meer kon nie.

      “Drink, Soldaat, dit sal help vir die pyn. Drink!”

      Soldaat, al deurmekaarder van die koorsigheid en die brandewyn, het gedrink totdat die hik van naarheid in hom begin stik en Petrus skrikkerig geword het dat hy dalk van die kosbare vog sou begin uitbraak.

      Danie het Daantjie saam met hom gebring. Hy het langs Soldaat gekniel, die kombers oopgevou en sy knipmes oopgemaak. Hy het die mes na Daantjie toe uitgehou: “Ek het hom behoorlik geslyp. Sny daardie toon af.”

      Daantjie het die mes gevat. Gedienstig, maar amper soos iemand wat daar was, maar eintlik afwesig is. Danie het meer vir Daantjie as vir die toon gekyk: “By die boonste lid!”

      Daantjie het weer begin bewe. Hy het die mes laat afsak na die toon toe, maar nie gesny nie.

      “Sny!” het sy pa beveel. “Dis die begin van gangreen. Nat gangreen. As jy nie sny nie, sal hy sy toon en later sy voet en dan sy been verloor, en as dit in die lies op is, is hy dood! Sny!”

      Daantjie het die lem op die toon gedruk en weggekyk.

      “Kyk waar jy sny!” het Danie met sy oë strak op sy seun gerig, aangedring.

      Daantjie het ’n laaste poging aangewend om uit die ding te kom: “Dis sommer ’n swarte, Pa!”

      Woede het Danie oorweldig en hy het sy seun met die vuis op die mond geslaan – met al sy teleurstelling en gramskap agter die hou. Daantjie se kop het teruggeruk. Hy’t van sy hurke af agteroorgeval en bly lê. Danie het sy toorn uitgetier: “Dis ’n mán hierdie, hoor jy! Hy’t geveg toe jy jou natgepis en vol-gekak het. Hy’s ’n mán en jy sal hom verdomp respekteer!”

      Danie het die mes opgetel en Petrus aangesê om Soldaat se bolyf plat te hou. Hy’t op Soldaat se bene gaan sit, sodat hulle vas lê onder sy gewig, en die lanterns nader getrek. Hy het die toon by die boonste lid afgesit, die oop wond met brandewyn gewas, dit gesout en gesalf, en toe’t hy van die vel wat gesond genoeg lyk en nog behoorlik rooi bloei, oor die stomp plek getrek en met naald en gare oorhands toegewerk. Soldaat het net een keer geskreeu, maar daarna was hy stil.

      Toe hy klaar was, het Danie opgestaan en sonder seremonie ’n reep van Daantjie se hemp afgeskeur.

      “Dis al wat my seun in ’n oorlog werd is – ’n wandelende verbande-paal!”

      Daar was volslae veragting in sy stemtoon. En die bitterheid van teleurstelling.

      Met die strook hemp het hy Soldaat se voet verbind.

      Daantjie het opgestaan en weggestrompel. Op die grond waar hy gelê het, het die voortand wat sy pa uitgeslaan het, agtergebly. Van daardie oomblik af het die gaping in sy voortande elke dag vir sy spieël, sy tong, sy hap en sy kou vertel van sy vernedering en verwerping.

      Danie het hulle, nadat Petrus die toon gaan begrawe en hulle die reuk van hulle hande probeer afwas het, bymekaargeroep: vir Petrus en Jakop Minter, én vir Daantjie, en vir hulle gesê dat “daardie ding” wat dié dag met Daantjie gebeur het, nie rugbaar gemaak moet word nie.

      Daarna het hy Petrus Minter gevra om te kyk of hy die kneukel aan sy regterhand kan regdruk, sodat hy die ding met sy linkerhand kan verbind.

      Vier

      Joey Drew het die beleg van Kimberley oorleef. En al was dit nie juis ’n plesier nie, kon hy tog terugkyk op ’n tydperk van groot professionele vordering. Daar was wel bekommernisse, en die grootste vrees wat Joey aanvanklik gekoester het, was dat die hongeres van die beleg die perde wat hy so eerlik by oorlede Hans Bester geërf het, sou slag en opeet.

      Niks verbreed die smaak soos ’n beleg nie, het Joey bevind. Die vermoë om die eetbaarheid van die roerende en onroerende te bepaal verskerp, en fiemies is gou by die agterdeur uit. Honger bring ’n verdraagsaamheid oor wat jy deur jou mond sit en eetgoed wat uiteindelik heel gaaf met jou ingewande akkordeer, sou jy in tye van oorvloed nie aankyk nie. Joey het self gesien hoe gou die dorpsbewoners begin saamstem dat die perd en donkie, trek- en rydiere wat hulle eintlik is, tog onderverdeel kan word in eetbare stukke kookvleis. Hy het gesien hoe roofvoël-stip, en met nuwe oë, mense byvoorbeeld na rotte begin kyk, en hy was seker dat dié wat orals wippe en strikke stel vir Kimberley se mak- en bosduiwe, binne ’n maand al begin het om hulle vanggoed aan te pas om ook die gediertetjies van die nag vas te trek. ’n Koggelmander was sy lewe nie meer seker nie; Kimberley was vir jare СКАЧАТЬ