Eindspel. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindspel - Wilna Adriaanse страница 3

Название: Eindspel

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780624075318

isbn:

СКАЧАТЬ restaurantjie sit volgepak, maar sy kry nog ’n tafeltjie op die sypaadjie en bestel ’n Hunter’s Dry en ’n bord pasta. Sy het net haar eerste hap geneem toe motorbande baie naby haar skreeu en ’n kwaai stem opklink. Voor sy haar kan bedink, gaan haar hand onder haar arm in. Dan onthou sy haar rewolwer is by die huis. Sy sien deur die venster hoe ’n bestuurder en voetganger op mekaar skreeu en sy neem ’n sluk van die Hunter’s en eet verder.

      Terwyl sy eet, speel daar verskillende scenario’s in haar kop af. Wie soek haar en waarom? Haar eerste instink was dat dit Reggie is wat hulle gestuur het. Dat hy na vyf maande besluit het sy is tog ’n swaard oor sy kop en dat hy iets daaraan moet doen. Sy dink nie hy het ooit verwag sy sal die aanval oorleef nie. Die ondersoekeenheid kon destyds nie genoeg getuienis kry om hom te vervolg vir die aanval op haar nie. Die feit dat sy so lank bewusteloos was en omtrent eers twee weke na die aanval kon getuig het, het nie haar saak gehelp nie. Veral nie toe sy sekere fyner detail nie kon onthou nie. ’n Psigiater het op die ou end getuig die moontlikheid bestaan dat sy Reggie as haar aanvaller onthou omdat sy hom die laaste gesien het. Daar was ’n motor vol mense wat getuig het hulle het haar net afgelaai en toe dadelik weer gery. Dat hy dit nie kon doen nie. Op die ou end het hulle dit reggekry om haar oor haar eie getuienis te laat twyfel, en dit is fataal vir jou saak. As die beeld voor jou geestesoog eers een keer ’n moontlike ander gesig gekry het, kan jy daardie alternatief nooit weer miskyk nie. Wat sy tot vandag nie weet nie, is wat Albert se getuienis omtrent die aand se gebeure was. Daar was nie tyd om daaroor te praat nie, maar miskien moet sy hom eendag vra.

      Clara was so ontsteld dat dit wat sy kón onthou ten beste onsamehangend was.

      En nou soek iemand na haar. As dit nie Reggie is nie, wie dan? Ellie stoot haar halwe bord kos eenkant toe en drink die Hunter’s klaar.

      Hoofstuk 2

      Toe sy hom vroeër vanmiddag vir ete genooi het, het Nick Malherbe geweet daar is meer as pizza op die spyskaart.

      Hy was nie verkeerd nie. Sy is nie ’n vrou wat speletjies speel of skimpe gooi nie. Die borde met pizzakorsies was nog nie eers in die kombuis nie, toe begin sy sy hemp losknoop.

      Sy hande gly onder haar sygladde bloes in, voel hoe haar vel liggies saamtrek. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n vrou se vel onder sy hande gevoel het nie. Hy wil liewer ook nie probeer onthou nie. Hy kry homself dalk jammer.

      Hy is besig om met sy een hand haar bra se knippie los te maak, toe sy selfoon lui. Hy voel hoe haar hande verstil en hy kreun. Hy moes die ding afgeskakel het, of ten minste die klank afgesit het.

      Hy kyk eers op sy horlosie en dan op die selfoon se skermpie. Dis Monica. Senior analis by Interpol, en tegnies sy baas. ’n Mens antwoord as Monica Blake jou op ’n Sondagaand bel. Veral as jy goeie nuus verwag. As die oproep is waaroor hy dink dit is, knoop hy hierdie week nog die grootste en langste saak van sy lewe toe. In sy geestesoog sien hy al die bordjie: Gone fishing. Miskien moet hy sy buurvrou nooi om vir hom langs die viswaters te kom kuier.

      “Malherbe.”

      “Kan jy praat?”

      Nick voel hoe warm lippe hom in die nek begin soen. “Die sein is swak, gee my ’n sekonde dat ek buite kom.” Hy staan op. “Sorry, ek moet dit vat. Dis werk.”

      “Solank jy terugkom.” Sy strek haar op die rusbank uit.

      Hy voel nog hoe sy lyf reageer terwyl hy op die balkon uitstap.

      “Het jy gaste?” vra Monica.

      “Dis die TV.”

      “Wanneer laas het jy vir Clara Veldman gesien of van haar gehoor?” val sy met die deur in die huis.

      Nick huiwer ’n oomblik lank. Dis nie die gesprek wat hy verwag het nie. “Ek het haar ’n maand of wat gelede in die stad raakgeloop, maar Williams se mense was by haar en ons het net vinnig gegroet. Ek kon sien sy was senuweeagtig. Waarom vra jy?”

      “Sy is vermoedelik Vrydagaand buite ’n restaurant in Kampsbaai ontvoer.”

      Die hitte van ’n paar oomblikke tevore is weg uit sy lyf en in die plek daarvan voel dit of ’n koue windjie oor hom waai. Hy trek sy twee hempspante na mekaar toe. “Waar hoor jy dit?”

      “Ek het nog een of twee betroubare kontakte daar. Jy weet hulle het nie altyd detail nie. Hulle stuur maar aan wat hulle hoor. Soms is dit net gerugte.”

      “Is die saak by die polisie aangegee? Weet iemand wie dit was en is daar al kontak gemaak met haar familie?”

      “Stadig. Soos ek sê, ek het nie al die inligting nie. Dis …”

      “Wat het ek vir jou gesê?” val hy haar in die rede.

      “Ek weet.”

      “Herhaal wat ek vir jou gesê het, ek wil hoor of jy dit woordeliks onthou.”

      “Jy het gesê Clara bly ’n risiko.”

      “Waarom het jy my nie geglo nie?”

      “Dis nie dat ek jou nie geglo het nie. Jy weet hoe ons sukkel om samewerking te kry. Ek het jou destyds gewaarsku hierdie gaan nie maklik wees nie.”

      Hy antwoord haar nie.

      “Is jy nog daar?”

      “Ja.”

      “Ek hou nie daarvan as jy stil raak nie. Dis wanneer jy gevaarlik raak en ek nie seker is wat om te verwag nie.”

      “Moenie worry nie.”

      “En daardie woorde wil ek glad nie hoor nie.”

      “Niemand van ons kry altyd alles wat ons wil hê nie. Ek wou beslis ook nie vanaand hierdie nuus gehoor het nie. Hoe ver is julle met die papierwerk?”

      “Feitlik klaar.”

      “En?”

      “Sover lyk dit of alles daar is. Ek hou nie van die woord ‘waterdig’ nie, maar jy het ’n goeie job gedoen. As ons nie hiermee slaag nie, moet ons vir ons ander werk kry.”

      “Ons kan niks sonder die finale papierwerk doen nie, so sê die ouens moet hulle gatte roer. Ek wil verkieslik nog hierdie week klaarmaak.”

      “Ek sal die boodskap oordra. Wil jy hê ek moet probeer uitvind oor Clara?”

      “Nee, los dit vir my. Ons weet in hierdie stadium nie eers of dit ’n ontvoering was nie.”

      “Nick, tegnies het haar verdwyning niks met ons te doen nie. Ons is nie vir haar veiligheid verantwoordelik nie.”

      “As jy dit glo, verstaan jy beslis nie wat hier aangaan nie.”

      “OK. Ek gaan dit in jou hande laat, maar ek wil op hoogte gehou word. En laat weet as jy hulp nodig het.”

      “Wil jy nou my hand kom vashou?”

      “Ek sal as dit nodig is.”

      “Dis nie nodig nie. Sorg jy eerder dat die papierwerk klaarkom. Ek is gatvol.”

      Sy СКАЧАТЬ