Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen страница 7

Название: Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Учебная литература

Серия: Piekfyn Afrikaans

isbn: 9781776071784

isbn:

СКАЧАТЬ Maar ek weet sy sal my sommer ’n vet klap gee – bang of te nie.

      “Wil jy teruggaan?” vra ek.

      “Nee, ons is nou hier, kom ons kyk …”

      Ons loop nader aan die poel. Die plante se blare streel oor ons bene soos dooie mense se hare. Ek vee oor my been. Gril.

      Stadig loop ons om die poel. My voete sak effens weg in die modder. Ek lig my oë op na die plek waar die water oor die rand van die val tuimel. Ek wonder wat het hier gebeur …

      Het ek dit net gedink? Of het ek dit hardop gesê?

      “Ek wonder wat het hier gebeur …”

      “Iemand het van daar bo af gespring,” sê ’n stem skielik agter my. Ek skrik my derms in ’n knoop. Melody ook. Agter ons staan die rooikopmeisie en haar blonde vriendin.

      “O, dis julle!” sug Melody verlig. “Ek het nou so groot geskrik!”

      “My naam is Christa, en dis Milla,” stel die rooikop hulle voor.

      “Het julle ook die spook kom soek?” vra Milla misterieus.

      Ons knik gelyk.

      “Die beste plek om te sien, is glo van daar bo af.” Christa lig haar oë. Ek kyk ook weer op. Gladde rotse, plante en water – dis al wat daar is.

      “Ons wou nou net opklim. Kom julle saam?” vra Milla.

      “Ja,” besluit Melody sommer vir my.

      Ek is die enigste seun tussen drie meisies. Ek kan nie dat hulle my nou in die skande steek nie. Ek tou maar agter hulle aan. Christa en Milla praat nie veel terwyl ons klim nie. Ek hoor hulle ook nie blaas soos ek en Melody nie. Hulle is seker fikser as ons twee.

      Toe ons uiteindelik bo is, kyk ek af na die waterpoel. Van hier af lyk dit donker en onheilspellend. ’n Koue windjie waai. Ek vou my arms oor my bors. Verbeel ek my of het dit donkerder geword? Dalk is dit die onweerswolke wat weer begin saampak.

      “Sien julle die rooi lelie wat daar op die wal groei?” vra Christa.

      “Ja,” sê ek versigtig.

      “Die rotse om die lelie was vol bloed. Die water ook. Rooi wolke bloed wat al groter en groter geword het.” Milla se stem raak byna weg in die wind wat nou al sterker waai.

      Dit voel meteens of ons binne-in ’n dowwe wolk staan. Die poel los stadig op in die mistigheid.

      “Dis waar hulle afgespring het,” sê ’n seunstem agter my.

      Ek en Melody ruk albei om. My hart ruk in my bors, skop teen my ribbes. Die seun stap uit die mistigheid. Hy is ouer as ons. Die uitdrukking op sy gesig is spokerig, asof hy ’n hartseerdag onthou.

      Die spook?

      Ek kyk vreesbevange na Melody. Ek weet sommer sy dink dieselfde.

      “Hulle het die twee meisies se liggame dáár onder gekry. Een daar by die rooi lelie, die ander in die middel van die poel. Sy het op haar maag gedryf. Haar blonde hare het om haar kop gedein.”

      “Twee meisies?” frons Melody. “Een blond?”

      “En die ander met vlamrooi hare, amper soos daardie lelie,” sê die seun.

      Versigtig kyk ek en Melody oor ons skouers. Maar ek het amper geweet hulle sou nie meer daar wees nie. Christa en Milla.

      “Dit was net ’n ongeluk. Hulle het van hier af gespring, maar hulle misgis met die poel se diepte. Dis vlakker as wat dit lyk, sien.”

      Ek ril. Ek het ook gedink die water is baie diep.

      Die seun se stem word dieper, donkerder. “Nou lok hulle gereeld vakansiegangers hierheen … om hulle ook af te stamp. Julle is gelukkig ek het julle betyds gekry. Ek het gesien hoe julle in die bospaadjie afdraai.”

      Ek kyk verlig na Melody. Ons praat nie verder nie. En skielik is dit net die eggo van twee meisies se gille wat nog teen die water weerklink. Of verbeel ek my dit?

      Woordverklarings

      aangeneem (aanneem) – iets aanvaar sonder om seker te maak of dit reg is, byvoorbeeld jy neem aan die son kom elke oggend op

      aftuimel – afval

      dein – stadig op en af gaan soos kalm branders op die see of op ’n dam

      klewerige (of klewerig) – iets wat aan jou vassit

      misterieus – vol geheime

      onheilspellend – dreigend of gevaarlik

      produseer – maak

      skande – iets wat jou skaam maak; dit laat jou sleg lyk voor ander mense

      staar – kyk lank en met aandag

      Gesels oor die volgende vrae in julle groepe:

      1.Hoekom is Dawid en Melody verveeld? Hoekom gaan Dawid en Melody alleen af strand toe?

      2.Wie of wat was die spook of spoke in die verhaal? Hoe weet julle dit?

      3.As julle die storie weer lees, kom ’n mens vroeg al agter dat die skrywer leidrade gee oor wie die spoke is. Noem ’n paar.

      4.Hoekom lok die meisies vakansiegangers na die waterval toe?

      Leesvaardighede

      Hoe vluglees jy ’n teks?

      •Besluit wat die titel vir jou sê.

      •Die tegniek van vluglees beteken dat jy die eerste en laaste paragraaf heeltemal lees.

      •Lees die eerste sin van elke afsonderlike paragraaf.

      •Kyk dan of jy vlugtig vir jouself kan sê oor wie en wat die artikel handel en of dit vir jou iets vertel van die waar, wanneer en waarom.

      •Lees die stuk in sy geheel. Jy sal nou baie meer daarvan verstaan en onthou.

      Hoe soeklees jy ’n teks?

      •As jy soeklees, beweeg jou oë vinnig oor ’n bladsy of lys op soek na spesifieke inligting.

      •Soeklees stel jou in staat om feite, datums, name of woorde in ’n teks vinnig op te spoor sonder om die teks te probeer lees of die res van die teks te verstaan. Jy is dalk op soek na die betrokke feit, woord of datum as antwoord op ’n vraag.

      •Wanneer jy soeklees, beweeg jou oë vertikaal of diagonaal oor die bladsy. Jou oë beweeg ook vinnig na die kante. Hou in gedagte die tipe inligting waarna jy op soek is. Kyk vir ander woorde wat met die betrokke inligting verband kan hou.

      Конец ознакомительного СКАЧАТЬ