Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 26

Название: Koors

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798173865

isbn:

СКАЧАТЬ Voorsitter moet deur die Komitee self verkies word, en sal ’n jaar lank dien.

      Daardie selfde aand van 14 Julie, in die eetkamer van die Orphanage, verkies hulle my pa Willem Storm tot die eerste Voorsitter van Amanzi. Pa probeer keer, maar hy huil. Hy sê in sy toespraak hy weet dit is ’n simboliese gebaar, daar is ander wat dit beter sal kan doen as hy. Maar dit is vir hom ’n groot eer, en hy beloof sy trou en sy beste pogings aan almal in hierdie moeilike, moeilike tyd.

      Ou tannie Nandi Mahlangu sterf op 29 Julie. Haar begrafnis word ontwrig wanneer die hele Amanzi se watertoevoer ineenstort op die dertigste. In die daaropvolgende twee weke moet die hele gemeenskap skarrel om dit te probeer regmaak.

      Die ekspedisies wat terugkeer, bring nie veel meer as slegte nuus nie, veral oor die desperaatheid en aggressie van troppe jagtende honde wat al hoe nader aan ons gesien word. Pa sê dit maak sin, die groot feesmaal vir dié diere is verby, die winter eis ook sy tol. Domingo stuur patrollies uit om die paaie rondom Amanzi dop te hou. Hulle sien in die tweede week van Augustus ’n paar keer ’n groot trop honde, op ’n afstand. Wanneer hulle nader gaan, smelt die diere weg in die veld. Hulle sien oral oorblyfsels van die honde se verskeurde prooi – klein bokkies, springhase, ’n ou, sterwende koedoebul.

      Teen dié tyd slaap my pa omtrent nie meer nie. Hy is so maer soos die laaste van ons skape. Hy bekommer hom erg oor die meer as twintig mense wat siek is weens wanvoeding en ontbering, en die feit dat die gerantsoeneerde kos se einde in sig is.

      28

      13 Augustus

      Ek en Jacob Mahlangu stel ’n wip vir die kransduiwe bo in die reservaat, ’n eenvoudige lokval van stokke en ogiesdraad en ’n lang stuk lyn. Voëlsaad as lokaas. Ons vang sewe terwyl ons veewagterdiens verrig. Ons slag hulle daar. Ons is bedrewe met slag, ons het baie geleer in die afgelope maande. Ons kan skaap en bees en springbok en hoender en kransduif slag sonder om te mors, sonder om deur die proses ontstel te word.

      Die sneeuvalle was die groot uitsonderings. Die meeste van die winterdae op die rand van die Karoo is blou, oop hemel, sonskyn, maar delikaat, soos iets waaraan jy met omsigtigheid vat.

      Ek onthou hy het die sout gebring. Ek onthou die verterende honger en die ongeduld terwyl die duiwe op ons spit oor die kole draai, ek wat sê: “Hulle is reg,” en Jacob wat sê: “Nee, nog ’n bietjie, onthou jy laas?”

      Laas was hulle nog rou, omdat ons te honger en gulsig was. Rou duif is nie lekker nie.

      Ons sit in die son terwyl ons eet, soos dassies op ’n rots. Agterna help ons mekaar skoonmaak, sodat daar geen bewysstukke is nie.

      Dié aand is dit koud in die Orphanage se sitkamer, want die vuur brand net terwyl die klein kinders nog wakker is, om hout te spaar.

      Domingo kom na my toe aangestap, met wapens in sy hande. “Kom saam met my,” sê hy. “Ons moet met jou pa praat.”

      Ek skrik, want hy lyk kwaai. Ek dink hy weet van die duiwe wat ons so alleen vreet, so skelm. Ek vergeet Domingo lyk altyd kwaai.

      Hy gaan sit langs Pa, hy sit die twee R4’s op die koffietafel neer. Die een is die DM- skerpskuttersgeweer met ’n teleskoop. Hy sê vir Pa: “Dis vir Nico en Jacob Mahlangu. Die bushek se guards sê hulle het vanoggend die honde gesien teen die flank van die suiderberg, aan die sirkel se kant. Hulle gaan die vee daar bo kry, Willem. Die night shift op die berg is al klaar armed and ready. Die seuns moet ook kan skiet. Ons kan nie afford om nog skape te verloor nie. Ek wil vra of Nico en Jacob eers die skool kan los, tot ons met die honde gedeal het.”

      Pa se kop is by al die ander ellendes. Hy kyk na Domingo. Hulle verhouding is deesdae meer formeel. Pa kyk na my. “Dis goed.”

      “Dankie.”

      Domingo staan op, neem die gewere, loop voor my uit sitkamer toe. Hy beduie ek moet langs hom kom sit. Hy gee vir my die DM-geweer en ’n swart seilsak met agt magasyne. “Jy oefen hiermee, hoor jy?”

      “Ek hoor,” sê ek en probeer my geesdrif onderdruk.

      “Begin op honderd meter, en oefen tot op seshonderd. Skiet al die ammunisie uit, ek bring vir jou môre nog agt.”

      “Okay, Domingo,” sê ek. “Dankie.”

      “Niks dankie nie. This is business. Daai honde kan ons uitroei as hulle by die herd kom.” Hy gee ’n kleiner sakkie met magasyne aan. “Dis vir Jacob. Help hom, lat hy ordentlik kan skiet. Jy’t hom nodig.”

      “Okay.”

      Hy staan op en loop.

      14 Augustus

      Ek help eers vir Jacob. Hy het baie goeie oë, die vermoë om ’n springbok of selfs ’n steenbokkie van ver af in die vaal wintergras raak te sien. Maar hy is net ’n redelike skut. Ek dink dit is omdat hy nie regtig daarin belang stel nie.

      Daarna skiet ek al die magasyne uit.

      Domingo bring die aand nog agt Orphanage toe. “Hoe het jy gedoen?”

      Ek sê vir hom van vierhonderd meter af sukkel ek. Hy vra waarheen my skote gaan. Bietjie bont, sê ek, maar oor die algemeen te links en te kort. Hy kyk of my teleskoop reg gemonteer is. Hy sê hy kom môre ’n draai maak in die berg. Want die honde is weer gesien.

      15 Augustus

      Hy kom elfuur die oggend. Hy kyk deur ’n verkyker na waar my skote tref. Dan sê hy: “Jy is net inconsistent. First thing to remember, as jy baie skote op mekaar skiet, gaan jy te veel barrel heat generate, en jy gaan inconsistencies kry. Tweede ding is inconsistent trigger pull. Elke een moet dieselfde wees. Derde ding, inconsistent shoulder pressure. Try hom so bietjie stywer druk, en try dit elke keer dieselfde doen.”

      Ek skiet weer.

      “Much better,” sê Domingo. “One more thing. Jou skoot is nie klaar as jy die sneller getrek het nie. Dis soos ’n golf swing. Jy moet follow through. Jy moet deel bly van daai rifle, jy moet visualise hoe die bullet die target tref. En jy kyk deur die scope, vir die target, tot hy tref. Eers dan is die skoot verby.”

      Ek skiet weer, ’n hele magasyn.

      “Perfect,” sê Domingo.

      Ek gloei van trots.

      “Now both of you, remember, if those dogs come up here, you aim for the leaders first, the ones in front of the pack. You get them, they will get confused. Keep shooting, we need to get them all. You hear me?”

      Ons knik, ek en Jacob Mahlangu, en ons harte klop vinniger.

      “Waar het jy dit alles geleer?” vra ek vir Domingo.

      Sy oë is agter sy donkerbril, soos altyd bedags. Sy gesig vertrek effens na wat moontlik ’n glimlag kan wees. “You’re talkin’ with Davy, who’s still in the Navy.”

      “Jy was in die Navy?”

      “Nee,” sê Domingo. “Billy Joel.”

      “Wie?”

      Hy sê niks.

      Ek verstaan glad nie. “Was СКАЧАТЬ