Ikarus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ikarus - Deon Meyer страница 3

Название: Ikarus

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798169783

isbn:

СКАЧАТЬ En hy weet dit gaan die benouing van die afgelope maande vererger. PCSI, die elite Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekeenheid, se bussie staan ook daar. Wat maak hulle hier? En hoekom is hy en Vaughn van die Valke af ingeroep?

      Hy haal diep asem en laat die stuurwiel stadig los, klim traag uit. Hy loop.

      ’n Wit muur versper sy uitsig, sodat hy eers moet omstap na die oprit waar ’n konstabel toegang beheer.

      Die huis lyk soos die meeste van die ander in die straat. Daar is nog SAPD-mense in uniform voor die deur, in ’n kring, koppe omlaag.

      Die konstabel keer hom met ’n verbiedende handpalm. Hy wys sy eieningskaart.

      Die oë meteens groot: “O, kaptein Griessel. Kaptein Cupido het gevra dat jy net hier wag. Ek laat hom gou roep …”

      “Vir wat?” vra Bennie, en stap om die man.

      “Nee, kaptein, asseblief.” Benoud. “Hy’t my beveel. Ek moet hom laat roep.”

      “Nou roep hom.” Hy het nie lus vir Vaughn se streke nie.

      Die konstabel vra luidkeels vir die uniforms voor die deur om “die Valke-kaptein” te laat kom. Een van hulle draf haastig na binne.

      Griessel wag ongeduldig.

      Cupido kom uit, haastig in sy Hawk-in-Protest-uitrusting – denim, geel T-hemp, blou baadjie, en die skril stelling van die geel-en-oranje drafskoene, wat hy gisteroggend met groot geesdrif verduidelik het: “Nike Air Pegasus Plus, pappie, almost a thousand bucks regular price, ma’ Tekkie Town het ’n sale gehad. Cool comfort in technicolour, it’s like walking on air in a wet dream. Haal die ‘werk’ uit ‘voetwerk’, every time. Ma’ die eintlike bonus is lat dié sneakers vir major Mbali heavy gaan afpis.”

      Vaughn betoog die afgelope week of wat teen “major Mbali” (die nuwe rang elke keer ironies beklemtoon) se edik van netheid. Kaleni het die vorige Maandagoggend tydens ’n groepvergadering plegtig gesê: “If you want to be professional, you have to look professional. We have a responsibility to the DPMO and to the public.” En het hulle toe gevra om das en baadjie en “formal shoes” aan te trek. Of dan minstens ’n hemp met ’n kraag en ’n baadjie. Wat die laaste strooi was vir Cupido, want hy het al klaar baie swaar gesluk aan haar aanstelling as groephoof: “Jy dink dis ’n coincidence, so ná die laaste election? I don’t think so. Oorlat sy ’n Zoeloe is, ethnic affirmative action, dis Zuma time all the time, Benna. Ek én jy het meer experience, meer jare diens, meer savvy. En sý kry die promotion?”

      Griessel het geweet die probleem is eintlik Cupido se diepe bekommernis dat die nuwe bevelvoerder nie sy streke gaan duld nie. Mbali is nougeset en konserwatief; Vaughn is nié. Toe sê hy sy is die regte mens vir die pos, in die omstandighede.

      Dit het nie ’n verskil gemaak nie.

      Ondanks sy haas en die vrolike uitrusting is Cupido se gesig somber terwyl hy aangestap kom.

      “Benna, dis nie nodig dat jy ingaan nie. Our work here is done.”

      Griessel kan die toon in sy kollega se stem hoor, die aangeplakte saaklikheid wat ontsteltenis wegsteek.

      “Ek het nie al die pad gery om … Wat gaan aan, Vaughn? Wat het hier gebeur?”

      “Trust my, Benna, asseblief. Dis ’n open and shut, kom ons loop.” Cupido plaas sy hand paaiend op Griessel se skouer.

      Bennie voel die humeur in hom opstoot. Wat gaan aan met Cupido? Hy trek sy skouer weg. “Gaan jy my sê wat aangaan, of moet ek gaan kyk?”

      “Benna, for once in your life, trust me,” sê hy met ’n desperaatheid wat Griessel se agterdog net verder aanblaas.

      “Jissis,” sê Griessel en begin voordeur toe stap.

      “Dis Vollie,” sê Cupido.

      Griessel steek vas. “Vollie?”

      “Ja. Onse Vollie. Vollie Vis. En sy family.”

      Adjudant Tertius van Vollenhoven, wat saam met hulle al twee gewerk het, destyds toe die Provinsiale Speurtak nog bestaan het. Vollie, wat sy Weskus-sêgoed spaarsamig en droog in sy Namakwaland-aksent opgedis het wanneer die nag te lank en die moreel te laag was. Vollie Vis, die boorling van Lambertsbaai wat naweke teruggegaan het en Maandae vir die hele span seekos gebring het. Met presiese instruksies vir die gaarmaak, want “om ’n krefie op te fok is heiligskennis, kollega”. Die man wat in die bestek van vier jaar twee reeksmoordenaars op die Kaapse Vlakte vasgetrek het. Met eindelose geduld en toewyding. En toe loop hy, Bothasigstasie toe. Hy het gesê hy het sy deel gedoen en hy soek ’n rustiger lewe – hy wil sy huwelik red, sy kinders sien grootword. Maar almal het geweet dit was die trauma van die ondersoeke, die maand ná maand by nog ’n verminkte slagoffer se lyk staan, wetend dat net ’n bietjie geluk die monsters kan keer, al doen jy wat.

      Die ou onreg ontwaak in Griessel, die wrewel vir hulle wat verantwoordelik was.

      “Huisroof?”

      “Nee, Benna …”

      “Wat het gebeur, Vaughn?”

      Cupido se stem is amper onhoorbaar. Hy kan nie vir Griessel in die oë kyk nie. “Vollie het hulle geskiet, laas nag, en toe vir homself.”

      “Vollie?”

      “Ja, Benna.”

      Hy onthou die twee oulike dogters, vroeë tienerjare, en Vollie se vrou, mollig, sterk, ondersteunend. Mercia of Tersia … Hy wil keer, hy wil dit nie in sy kop sien nie – Vollie met sy dienspistool by ’n kind se bed.

      “Here, Vaughn,” sê hy en voel hoe die engte terugkom, versmorend.

      “Ek weet.”

      Griessel wil aanhou praat, hy wil van die drukking ontsnap. “Maar hoekom? Wat het gebeur?”

      Cupido beduie na die uniforms voor die deur. “Bothasig-stasie het gister ’n meisie gekry, in die veld onderkant Richwood. Die tweede een. Selfde M.O. as ’n moord ’n maand gelede. Dis ’n serial. Bad stuff, Benna, very sick fucker. Vollie was daar.”

      Griessel sit alles bymekaar, sy hand op sy agterkop. Hy probeer verstaan wat gebeur het. Al die demone wat teruggekom het om vir Vollie van binne af op te vreet.

      “Kom, Benna. Kom ons loop.”

      Griessel staan versteen.

      Cupido sien sy kollega is wasbleek. “Benna, dis regtig beter as ons …”

      “Wag …” Griessel kyk skerp na Cupido. “Hoekom het Mbali ons laat kom?”

      “Bothasig se S.C. het haar gevra dat ons moet kom kyk. Hy sê hy wou net seker maak hulle mis nie iets nie, want die media …”

      “O.” En dan: “Vir wat wil jy my daar uithou, Vaughn?”

      Cupido kyk hom in die oë en tik met ’n wysvinger teen sy slaap. “Want jy’s nog nie reg nie, Benna. Ek weet dit.”

      * * *

      Jamie СКАЧАТЬ