Witwatersrand. Wilbur Smith
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 15

Название: Witwatersrand

Автор: Wilbur Smith

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780795707032

isbn:

СКАЧАТЬ in en gaan staan voor hom. Waite slaan met sy karwats teen sy been en die stof warrel op uit sy broek.

      “Kom hier,” sê hy aan Garrick en hy vat ’n hand vol van die seun se hare. Hy draai Garrick se gesig op en kyk na die kneusplek op sy voorkop.

      “Hmm!” sê hy. Hy los Garrick se hare en dit bly soos ’n graspol regop staan. Hy gooi die karwats op die stinkhoutlessenaar neer.

      “Kom hier,” dis Sean se beurt. “Hou jou hande dat ek kan sien. Nee, met die palms na onder!” Daar is verskeie stukkende plekkies op albei hande en een kneukel lyk dik en opgeswel.

      “Hmm,” sê hy weer. Hy draai hom om na die rakkie langs die kaggel, haal ’n pyp daaruit en stop dit uit die tabakkruik.

      “Julle is twee vervlakste gekke,” sê hy, “maar ek sal dit waag en julle op vyf sjielings die week begin. Gaan eet nou, daar’s werk vanmiddag.”

      Hulle kyk hom ’n oomblik ongelowig aan en draai dan om deur toe.

      “Sean.” Sean steek vas; hy het geweet dis te goed om waar te wees. “Waar het jy hom geslaan?”

      “Oral, Pa. Oral waar ek kon bykom.”

      “Dit help niks nie,” sê Waite. “Jy moet mik na die kant van sy kop, hier.” Hy tik met sy pypsteel teen die punt van sy kakebeen. “En jy moet jou vuiste styf toehou anders breek jy elke been in jou hand voor jy baie ouer is.”

      “Ja, Pa.”

      Hy maak die deur saggies agter hom toe en vir die eerste keer glimlag Waite. Hy trek ’n vuurhoutjie, hou die vlammetjie oor sy pyp en toe dit lekker brand, blaas hy dik rook uit.

      “Hel, ek wens ek kon dit gesien het. Daardie pennelekkertjie sal dit nie weer waag om met my seun te lol nie.”

      12

      Nou het Sean ’n baan waarop hy kan hardloop. Hy is gebore om te hardloop en Waite Courtney het hom uit die stal gelei waar hy die hele tyd op die stang staan en byt het. Hy het hom die teuels gegee. En Sean het gehardloop, hy het met vreugde gehardloop, met al sy krag, sonder om hom te steur aan die prys of die afstand.

      Wanneer hy soggens nog voor dagbreek saam met sy pa en Garrick in die kombuis staan en koffie drink, die hande bak gemaak om die hitte van die beker, voel hy hoe die opwinding vir die dag wat voorlê in hom bewe.

      “Sean, vat jy vir Zama en N’Duti en gaan kyk dat daar geen afgedwaaldes daar onder in die ruigtes langs die rivier is nie.”

      “Ek sal net een jong saamneem, Pa. Pa sal N’Duti by die dipgat nodig hê.”

      “Nou goed. Maar probeer om teen die middag terug te wees by die dippery. Ons moet vandag goed ’n duisend deurkry.”

      Sean sluk die laaste paar monde vol koffie en knoop sy baadjie vas. “Nou ja, dan maak ek maar aanstaltes,” sê hy.

      ’n Staljong hou sy perd vir hom reg by die agterdeur. Sean laat sy geweer in die skede gly en spring in die saal sonder om aan die stiebeuel te raak. Hy tel sy hand op, glimlag vir Waite, swaai die perd om en ry oor die werf. Dis nog donker en koud. Waite hou hom uit die kombuisdeur dop.

      So vervlaks selfversekerd, dink Waite. En tog is dit die seun wat hy gehoop het hy sou hê en hy voel trots.

      “Wat moet ek doen, Pa?” vra Garrick hier langs hom.

      “Laat ek sien. Daar’s nog daardie klompie siek verse hier onder in die kamp …” Waite steek vas. “Nee, wag, kom jy liewer saam met my, Garry.”

      Vroeg soggens, wanneer die son nog ’n soort kunsbeligting op die aarde gooi, goudkleurig en dartelend en die skadu’s lank en swart lê, werk Sean. Oor die middag, wanneer die son wit bak en die hitte hom laat sweet, werk hy. En in die reën, wanneer die mis grys en klam om hom dwarrel. In die kort skemer werk hy. En donkeraand kom hy by die huis. Maar hy geniet elke oomblik daarvan.

      Hy begin sy pa se beeste ken, nie op hulle name nie, want net die trekosse het name, maar aan hul kleur, hul grootte en hul eienaardighede. Later kyk hy net na die trop en weet dadelik watter diere makeer.

      “Zama, waar’s daardie ou koei met die krom horing?”

      “Nkosi,” kom die antwoord, “gister het ek haar na die siekkraal gevat. Daar’s wurm in haar oog.” Dis opvallend dat hy nie meer aangespreek word met die verkleinwoord Nkosizana nie. Dis nie meer “kleinbaas” nie.

      Hy ken die veesiektes, selfs nog voor dit begin, aan die manier waarop die bees loop of sy kop dra. Hy weet wat die voorgeskrewe behandeling is. Vir spykerwurm, lampolie in die wond totdat die maaiers uitdop soos ’n skoot rys. Oogontsteking, permanganaat as spoelmiddel. Antraks en sponssiekte, ’n koeël en vuur toe met die karkas.

      Hy help sy eerste kalf die wêreld in. Tussen die doringbome op die wal van die Tugela werk hy heeltemal alleen, met sy moue opgerol en die seepagtige slym op sy hande. Hy kyk hoe die koei die kalf skoonlek en hoe hy waggelend regop probeer bly. En daar is ’n eienaardige, beklemmende gevoel in sy keel.

      Die plaaswerk is nie genoeg om al sy energie op te brand nie. Terwyl hy werk, speel hy ook.

      Hy oefen sy rykuns, swaai af van die saal, hardloop langs die perd, wip op en oor die saal, anderkant af, hy staan op die saal terwyl die perd op volle vaart galop, maak sy bene oop en kom kaplaks! met sy agterwêreld in die saal neer. Sy voete glip in die stiebeuels sonder om te soek.

      Hy oefen met sy koeëlgeweer totdat hy ’n vlugtende jakkals op honderd en vyftig tree kan tref en die klein liggaam middeldeur kan kloof met die swaar koeël.

      En dan is daar nog ’n spul van Garrick se werk wat hy doen.

      “Ek voel nie lekker nie, Sean.”

      “Wat skort?”

      “Ag, my been is seer. Jy weet hoe dit skaaf as ek te veel ry.”

      “Maar hoekom gaan jy nie liewer huis toe nie?”

      “Pa het gesê ek moet die draad rondom dipgat Nommer Drie regmaak.” Garrick leun vooroor op sy perd om sy been te vryf en hy gee ’n dapper glimlaggie.

      “Maar jy het dit dan hoeka verlede week reggemaak,” praat Sean teë.

      “Ja … maar jy sien, die draad het weer so bietjie losgeraak.” Garrick se herstelwerk hou, eienaardig genoeg, nooit baie lank nie.

      “Het jy die draadskêr hier?” Garrick haal dit vinnig uit sy saalsak.

      “Ek sal dit regmaak,” sê Sean.

      “Hel, man, vreeslik baie dankie,” en ná ’n kort huiwering, “jy sal nie vir Pa sê nie, nè?”

      “Nee, jy kan mos nie help as jou been seer is nie.”

      En dan ry Garrick huis toe, sluip in die gang af na die slaapkamer en ontvlug saam met Jim Hawkins na Treasure Island.

      Die plaaswerk maak ’n splinternuwe gevoel in Sean wakker. Wanneer die reën die gras groen laat opslaan en die vlak panne op die plato vol loop, is dit nie maar net ’n teken dat die voëls СКАЧАТЬ