Ballade vir ’n enkeling. Leon van Nierop
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop страница 32

Название: Ballade vir ’n enkeling

Автор: Leon van Nierop

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624070313

isbn:

СКАЧАТЬ nou werklik interesseer?” vra Mysi terloops. Die luitenant kyk stip na Carina.

      Sy knik. “Ek dink hier steek meer agter as iemand wat net uit die publieke oog wou verdwyn. Dan sou hy die verdwyning ná die prys gedoen het, want ek dink hy het baie te sê gehad. En die aand op die verhoog was die aangewese plek om byltjies te slyp en sy verbroke verhouding aan die groot klok te hang.”

      “Ek dink die slimste stelling wat hy ooit gemaak het, is om niks te sê nie, want dan sê jy die meeste,” antwoord Mysi.

      Alberts antwoord sy telefoon. “Yes, bru. Fine. Okay. Will see you.” Hy kyk op. “Jammer. Ek moet oor ’n kwartier uitgaan.”

      “Mag ons bietjie in sy woonstel gaan rondkyk?” waag Carina.

      “Dit sal julle vir sy vriendin, Lena Aucamp, moet vra. Sy het die sleutel.”

      “Maar ek moet ook jou toestemming kry, luitenant.”

      Alberts kyk vinnig na sy uitgedrukte SMS’e vol vierkantjies en halwe sinne en spelfoute en halfklaar boodskappe. “Nee. Nie sonder dat ek of ’n ander offisier by is nie.”

      “Ons gaan hierna na Lena toe,” verduidelik Mysi.

      Carina se vinger beweeg oor die res van die boodskappe en nommers van mense wat Jacques iewers sou gesien het. Geen name van die afsenders is bekend of maak vir haar sin nie. “Interessant dat nie een van hierdie name uit die vermaaklikheidswêreld kom nie.”

      “En dat daar feitlik geen negatiewe kommentaar oor hom is nie,” beduie die luitenant na die rekenaarskerm. “Seker goed 90% van die inskrywings oor hom is positief en spreek die wens uit dat hy weer iets moet skryf … Maar die ander tien persent – dís waarin ek belangstel. Soos hierdie een: Jy neuk met meisies se harte, nou neuk jou eie hart met jou.”

      Sy beduie na die inskrywing van ene Robert: Jis ou gabba. Tyd dat ons weer bietjie ballas saam bak en oor die verlede praat. Of hoe swaer?

      Die luitenant klik op Robert se naam. Oomblikke later verskyn ’n kennisgewing: Facebook page closed.

      Carina maak aantekeninge. Die res van die boodskappe is neutraal of vleiend. En dan: Het Alicia se koekie toegeklap vir jou, of het sy jou wêreld so warm gemaak dat jy moes vlug?

      En nog ’n Facebook-boodskap: Dalk bly jy in een van Alicia of haar pa se huise iewers in die land. Bel my, ons soek jou vir ’n storie. Jy kan al jou navorsing op my kom doen he he he.

      En dan ’n interessante twiet. Ek ken jou ander skuilname. Jy gaan braai, my maat.

      Soon Alberts vroetel aan sy snor. “Waarom nie vir sy beste vriend Jan-Paul Otto of sy ma sê waarheen hy is nie? Waarom sonder sy motor padgee en die motorsleutels in die huis los? Sy woonstel se sleutels is ook aan sy motorsleutels. Hy het nie eers die deur gesluit nie.”

      “The plot thickens,” sê Mysi. “So. Waarheen moet hierdie twee Gehasi’s nou gaan?”

      “As ons leidrade kry, kan ons selfs met ’n lugsoektog begin.” Die luitenant klink asof hy hierdie inligting al dikwels gegee het. “As sy naasbestaandes dus dink dat sy lewe in gevaar is of dat hy ’n gevaar vir homself of ander mense is, moet hulle dit aanmeld. Maar tot dusver het niemand nog met enigiets nuuts gekom nie.”

      Poliesman-speak.

      “Waar het julle nóg gesoek?”

      “Ons het hospitale gebel, ook ander polisiestasies, onder meer in Kleinbegin waar sy ma bly. Hy is nie in ’n hospitaal nie. Of nie waarvan ons weet nie.”

      Carina se instink sê vir haar dat Alberts nou in ’n meer spraaksame bui is en inligting gee wat hy dalk tevore sou verswyg. Sy gooi die lokaas uit.

      “Presies wat sê Lena Aucamp alles?”

      Alberts maak weer ’n lêer oop. “Juffrou Aucamp het ’n SAPS 55A-vorm ingevul. Sy het presies beskryf hoe Jacques Rynhard lyk. Dis nie die gewone beskrywings wat almal gee wat hom van foto’s af ken nie.” Hy kyk op asof hy wonder of hy tog nie maar die inligting moet verswyg nie.

      Carina lig haar wenkbroue om hom aan te moedig.

      “Dalk vind julle dít interessant.”

      Mysi blaai saam met Carina deur Lena se beskrywings.

      Carina steek vas by: Merke, geboortevlekke of tatoeëermerke: Sy lees: Daar is ’n tatoeëermerk – DB.”

      Carina onthou dat sy dit op een van die weinige kaalbolyffoto’s van hom gesien het en skryf dit in haar notaboekie. Sy kyk na die lys vrae wat aan Lena gestel is.

      Die vermiste se gewoontes: Jacques het gereeld in Newtown se strate rondgeloop of die middestad besoek. Dit was sy geliefkoosde kuierplekke. Onder meer Café Hu! in Newtown en Daleahs in Braamfontein. Ook die Arts On Main-kompleks in Fox- en Mainstraat. Hy het gereeld in restaurante daar op sy tikmasjien gesit en werk of saam met vriende gekuier. Dit was egter nie vriende uit die bedryf nie. Hy het altyd genoem dat ’n mens nie eintlik vriende in die bedryf kan maak nie. Hy het met doodgewone mense uitgehang. Hy het saans saam met sy vriend Jan-Paul gegim en dikwels ver ente deur die stad gehardloop om fiks te bly, of met sy fiets gery.

      “Watse doodgewone mense?” vra Carina.

      “Volgens juffrou Aucamp …” Die luitenant blaai weer tussen sy dokumente rond. “Gimvriende, kunsstudente, bedelaars. Hy het straatkinders glo gevoer en een of twee leer lees en skryf. Ook liefdadigheidswerk gedoen en by ’n sopkombuis gewerk.”

      Carina maak weer ’n aantekening in haar oorvol boekie.

      “Hy bly vir my net te goed om waar te wees,” sê Mysi. “Dis onmoontlik dat iemand net,” Carina skop haar onder die tafel, maar Mysi gaan volstoom voort, “nice kan wees. In elk geval. Nie in die joernalistieke wêreld of die vermaaklikheidsbedryf nie. My ma het altyd gesê oppas vir mense wat te … wat’s die Afrikaans vir nice?”

      “Seker maar ‘goed’. Hoe ook al. Dis die voorlopige inligting wat ons oor Jacques Rynhard gekry het. Intussen …” Die luitenant beduie na ander sake oor vermiste kinders en nuwe gevalle. Die stapel dreig om van sy lessenaar af te skuif, so hoog is dit.

      Alberts staan op en neem sy baadjie.

      Carina kyk weer na die wyse waarop Lena Jacques Rynhard se gemoedstoestand beskryf het. Veral die woorde reg aan die einde tref haar amper as ’n nagedagte: Jacques was verskriklik romanties.

      Interessant dat sy die verledetydsvorm gebruik het.

      Vermoedes van vyande? Individue wat sy lewe sou bedreig? het Lena geskryf. Carina blaai om. Daar is baie mense wat jaloers is op hom en wat sy loopbaan gedurig probeer verongeluk of saboteer. Maar in sy onmiddellike vriendekring is ek van niemand bewus nie.

      Verhoudings: staan daar en Carina trek haar oë op skrefies, want Lena het hier duidelik vinnig geskryf, asof sy moeg geraak het om inligting te gee. Ek en Jacques is reeds sedert skooldae in ’n verhouding en hy het my verseker dat hy my nooit verkul het nie. Ons is Vrydagaand doodgewoon uitmekaar sonder ’n rusie. Ek het by vriende gaan bly. Kort en kragtig. Niks verder nie.

      Ander vroeëre verhoudings/vriendskappe: staan op die vorm.

      Carina СКАЧАТЬ