Storms van die liefde. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Storms van die liefde - Elza Rademeyer страница 5

Название: Storms van die liefde

Автор: Elza Rademeyer

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624071242

isbn:

СКАЧАТЬ toe sy weer vir De Wet ’n koppie tee neem, vertel sy vir hom van die man wat sy by die kafee gesien het, en ook van die man van wie oom Frik gepraat het. “Ek is seker dis dieselfde mens,” sê sy vir hom. “Ek wens ek kan hom weer raak loop, want as hy Frans Bruwer ken … Ek is oortuig daarvan dat Richard eendag vir my gesê het hy het ’n vriend met die naam van Frans Bruwer … Ek dink amper hy het gesê hy bly in Natal … Dalk het hy gedink om by hom te gaan hoor van werk …” Esbeth kyk De Wet vas aan. “Ek sal baie graag met dié Opperman wil gesels.”

      “Dit was nie dalk Frans Bruwer wat saam met jou man in die vliegtuig was nie?”

      “Nee, die vliegtuig het aan Jack Benade behoort. Hy was van die Transvaal. Jack het nog by ons oorgeslaap die nag voor hulle weg is Natal toe.”

      “Haai, daar’s mense by jou winkel,” sê De Wet. En toe sy vinnig by die deur uitskarrel: “Ek hoop hulle koop hom leeg!”

      Die twee vroue koop toe nie haar winkel leeg nie, maar Esbeth voel baie tevrede toe hulle die winkel verlaat. Sy weet hulle gaan weer kom. Mense moet net eers weet van haar boetiek.

      Die aand toe sy en De Wet huis toe ry, nooi hy haar om by sy huis te kom kaartspeel.

      “Kom jy liewer na my toe. Ek wil nie graag vir Eben laat in die aand uitvat nie. Dis winter en as hy siek word, sit ek met ’n probleem. Ek wil tant Ralie nie met ’n siek kind opsaal nie, en ek ken niemand hier wat my winkel sal kan behartig nie.”

      Hy maak dan ook so, en dit word ’n genoeglike aand. Esbeth hou van De Wet. Hy is aangename geselskap; ’n mens sonder pretensie. Daarby is hy nog deksels aantreklik ook. Maar sy sal haar nooit weer aan ’n man bind nie. Haar teleurstelling in Richard … Sy stop haar gedagtes vinnig. Dis nie mooi om nou net sleg te dink van hom nie. Hy het baie goeie eienskappe ook gehad. Dalk was dit juis sý wat die minder goeie eienskappe in hom ontlok het. Dis dalk haar eie skuld dat hul kortstondige huwelik so stormagtig verloop het.

      Die volgende paar aande kom De Wet gereeld na haar woonstel toe. Soms speel hulle kaart, en ander kere luister hulle musiek. Sy geniet dit saam met hom, maar dit kan nie so aanhou nie. Sy het, toe sy nog op die plaas was, baie klere gemaak en opgegaar. Maar dit verminder nou vinnig. Sy sal saans moet begin naaldwerk doen.

      “Ek gaan ons kuiertjie saans mis,” sê De Wet toe sy een aand aan hom verduidelik waarom hy nie meer elke aand na haar toe sal kan kom nie. “Ek het al begin gewoond raak daaraan.”

      “Toe maar, ek ook,” troos Esbeth hom. “Maar werk kom voor plesier, soos oupa Janus so lief is om te sê. En as ek nie gaan begin klere maak nie, kan my winkel nie bestaan nie.”

      De Wet is traag om te loop. Hy draai en draai. Uiteindelik skraap hy sy moed bymekaar en loop op haar af voordat hy hom weer ’n keer kan bedink.

      Esbeth skrik toe hy so onverwags voor haar kom staan en haar deurdringend aankyk. “Wat is verkeerd?” vra sy ietwat verdwaas.

      “Ek wonder of jy weet wat jy aan my doen.”

      “Hoe bedoel jy?” vra sy onthuts. “Wat het ek verkeerd gedoen?”

      “Niks nie. Jy doen niks verkeerds nie. Dis wat dit vervlaks soveel erger maak!”

      “De Wet, wat gaan aan? Waarvan praat jy?”

      “Kom, dan wys ek jou.”

      Toe Esbeth haar weer kom kry, het hy haar in ’n vurige omhelsing. Eers staan sy asof versteen, maar toe sy lippe warm oor haar mond sluit, ruk sy haar met een vinnige beweging los van hom. “Is jy gek? Wat dink jy doen jy!”

      “Ek het maar net gedoen wat ek lankal lus was om te doen. En ek moet sê, dit was baie lekker. Net teleurstellend kortstondig. Geniet jou nagrus. En onthou, dis môre Saterdag. Jy hoef my nie te kom oplaai nie.”

      Hy is seker al by sy huis, toe staan Esbeth nog net daar op dieselfde plek waar sy gestaan het toe hy haar so doodluiters ingelig het hoekom hy haar gesoen het. Toe haar kop ophou duisel, raak sy versigtig aan haar mond. Dit was die laaste ding wat sy verwag het … dat De Wet haar sou soen.

      ’n Ruk later klim sy steeds half verdwaas in die bed. Min mense het haar nog in die lewe gesoen. Voor sy Richard ontmoet het, het sy so af en toe saam met van die jong boere in die kontrei uitgegaan, maar sy het nooit ’n begeerte gehad om sommer behoorlik deur enigeen van hulle gesoen te word nie. Hulle was ook te lugtig vir oupa Janus om kanse te waag. Richard was die eerste man wat haar regtig gesoen het, soos ’n man ’n vrou soen van wie hy meer as platoniese vriendskap verwag. En nou, vanaand, De Wet! Soos hy tereg gesê het, dit was kortstondig … Maar dit was nie só kortstondig dat sy nie kon agterkom hy soen ook soos ’n man nie!

      Gelukkig slaap sy vas en droomloos.

      Maar die volgende oggend is dit die eerste ding waaraan sy dink toe sy wakker skrik: die soen van die vorige aand. Tot haar ontnugtering voel sy hoe haar wange warm raak. Hoe gaan sy hom weer in die oë kyk? Dankie tog dis Saterdag, en sy hoef hom nie te gaan oplaai nie.

      Teen teetyd is sy heeltemal onseker van wat haar te doen staan. Vat sy vir De Wet tee, kan hy dalk dink sy loop agter hom aan. Vat sy nie vir hom tee nie, dink hy dalk sy is kwaad vir hom. Sy voel verlig toe daar klandisie vir haar opdaag. Nou het sy immers ’n verskoning om nie vir hom tee te vat nie.

      Sy is nie daarop voorbereid dat hy na háár toe gaan kom nie.

      “Haai, hoekom het ek nie vandag tee gekry nie?” vra hy beskuldigend toe hy by haar winkel inloop.

      “Omdat ek kopers in my winkel gehad het en nie hier kon wegkom nie.”

      “O, ek het net gedag jy’s dalk vies vir my oor die ou halwe soentjie wat ek gesteel het. Volgende keer sal ek jou eers voorberei daarop, miskien kry ek dan ’n hele.”

      Esbeth kan nie anders as om te lag nie. Sy voel ook sommer verlig. De Wet wys mos nou vir haar dit was sommer net ’n ligte flirtasie. Dis sý wat so simpel was om te veel waarde aan sy optrede te wou heg. Dankie tog, dit was maar net ’n speletjie. De Wet is ’n lekker maat en sy hou van hom, maar … hy is darem goed drie jaar jonger as sy. Al lyk hy dit nie. En al soen hy soos … wel, soos iemand wat wéét hoe om te soen.

      De Wet sien hoe sy skielik bloos. Hy het die hele nag amper nie ’n oog toegemaak oor sy onbesonne daad nie, maar die feit dat sy bloos, wys vir hom sy staan nie heeltemal onverskillig teenoor hom nie. Dalk staan hy tog ’n kans om … Om te wat? vra hy homself af.

      “Gaan ek glad nie vandag tee kry nie?” vra hy vinnig om sy eie gedagtes kort te knip.

      “Goed, man, ek skakel die ketel aan.”

      Minute later sit hulle weer saam en tee drink soos dit al ’n gewoonte geraak het, maar die atmosfeer is nie soos voorheen nie. Daar het ’n soort versigtigheid tussen hulle ingesluip. Die een is oorbewus van die ander en hulle lag en skerts nie so ongedwonge soos vroeër nie.

      Later verwonder Esbeth haar hieroor. Hoekom is jy skielik sku vir De Wet? Dis tog nie dat hy gevoelens in haar wek nie. Of is dit? Hoekom bloos sy elke keer as sy aan sy soen dink? Sou De Wet weet sy is goed drie jaar ouer as sy?

      Toe sy haar boetiek se deure sluit, weet sy nog nie hoekom sy nou skugter teenoor hom voel nie.

      Op pad terug huis toe, nadat sy Eben by tant Ralie gaan oplaai het, sien sy weer die man wat so baie na Richard lyk. Hy СКАЧАТЬ