Название: Storms van die liefde
Автор: Elza Rademeyer
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624071242
isbn:
“Hoekom sal hy my van die werf af jaag?” vra Gustav wat maar geduldig geluister het na die familie-uitleg wat oom Frik so ongevraag gegee het.
“Nee, ou Janus is ’n anderster soort mens. Glo mos glad nie aan vooruitgang nie. Hy was omtrént omgesukkel toe hulle die dam hier kom bou het. Al die weiveld wat nou onder die water lê en vergaan. Hy voer aan die regering praat van die land selfonderhoudend maak, maar nou lok hy allerhande uitlanders en volksvreemdes met die Mossgas-besigheid om hier te kom werk, en ons belastingbetalers is die mense wat die spit moet afbyt om die indringers se hoge salarisse te betaal.”
Gustav skud sy kop. “En wat dan van die voordele wat die projek vir ons land inhou en die werkgeleenthede wat dit vir die mense van die omgewing geskep het?”
“Dis mos nou juis waarteen ou Janus dit so het: die werkgeleenthede. Buiten die klomp vreemdes wat die regering ingevoer het, het al wat leef en beef hier kom afklim om werk te soek. En dié wat nie kon kry nie, of wie se dienstyd om was, met hulle sit ons nou hier. G’n een van hulle wil terug Transvaal toe nie, want daar’s ook nie werk nie.”
Gustav voel ’n ergerlikheid in hom opkom, maar die oom raak skielik haastig.
“Ek dink die vrou soek al na my daar in die huis. Neef wou nie ingekom het nie?”
“Nee, dankie,” sê Gustav. “Ek wil ook maar verder.” Toe hy wegry, weet hy hy versuim eintlik sy plig. Hy moes oom Frik meer inligting oor Mossgas se bedrywighede gegee het en die voordele uitgestip het, want dis ’n feit dat baie mense maar baie negatief ingestel is teenoor die projek. Maar hy is nie vandag lus vir dispute oor werkaangeleenthede nie.
Esbeth ry half verslae van die Wolwedansdam af terug huis toe. Van die dominee se preek onthou sy weinig. Haar gedagtes was te besig met ander dinge. Eintlik het sy haar daarop ingestel dat sy Richard by die dam sou raak loop. Wat sy vir hom sou sê as dit wel gebeur het, weet sy nie.
Sy sug. Toe sy Richard ontmoet het, was sy baie onervare. Sy’t net geweet hy is heeltemal anders as die jongmanne van die kontrei. Hy het daardie onbepaalbare iets gehad wat die boerseuns nie het nie. Selfvertroue, sjarme en ’n sportmotor wat by sy persoonlikheid pas. Baie van haar vriendinne het haar beny. Hy het haar oorlaai met juwele en blomme en haar soos ’n begeerlike vrou laat voel. Sy het gevoel sy sweef iewers tussen die hemel en aarde. Sy het nie geweet van al sy skuld en dat die spoggerige motor ’n week ná hul troue teruggevat sou word omdat hy nooit die paaiemente betaal het nie!
Toe sy by die T-aansluiting stilhou, jaag ’n motor in ’n stofwolk voor haar verby. Sy draai onmiddellik haar motor se ruit op, maar proe nogtans die stof op haar lippe.
“Ongeskikte vent!” uiter sy haar misnoeë hardop. Wie dit ook al is, hy kan beslis nie van dié kontrei wees nie. Die plaasmense ry almal ordentlik.
Toe sy by die huis kom, sit hul buurman by haar oupa op die stoep. Hulle is besig om oor die Mossgas-projek te gesels toe sy by hulle aansluit nadat sy haar kerkklere gaan uittrek het.
“Moet my niks vertel van Mossgas nie,” hoor sy haar oupa sê. “Dis ’n onding wat die regering hier kom skep het. Kyk net die dubbelpad wat hulle hier tussen Mosselbaai en George gemaak het, asof daar nie klaar genoeg mense op die enkelpad verongeluk het nie! En die lughawe wat hulle hier gekom bou het. Dis nie net oor P.W. Botha hier van George af in die parlement moes kom nie! Nee, my ou vriend, dis om ’n handige afklimplek te maak vir alles en almal wat boos is. Het die petrolprys altemits al met een enkele sent afgekom? Dit gaan net op en op!”
Hul buurman se blik val op Esbeth waar sy stil in die deur vasgesteek het. “Môre, Esbeth. En hoe gaat dit met jou rokmakery daar in die Baai?” begroet hy haar.
“Môre, oom Frik. Nee, ek kan darem nie kla nie. Ek het Vrydag en Saterdagoggend baie goed gedoen.”
“Ek vertel nou net hier vir jou oupa van die man wat vaneffe daar by my was om die pad Baai toe te vra. Hy het my tog alte veel aan Richard herinner. Net sulke swart hare.”
“Wie was hy?” vra Esbeth vinnig, oortuig dat dit dieselfde persoon is wat sy voor die kafee gesien het.
“Opperman. Ek kan nie nou sy naam onthou nie. So ’n fênsierige naam. Werk glo by Mossgas.”
“Met watse motor het hy gery, oom?”
“Met ’n Mercedes. So ’n roomkleur.”
“Wat wou hy gehad het?” vra sy amper angstig toe sy onthou van die motor by die T-aansluiting.
“Was glo verdwaal. O ja, en hy wou weet of ek nie sy vriend geken het wat met die dam se bouery hier gewerk het nie. Ek het hom geseg om vir jou oupa te kom vra. Maar hy was toe glo nie hier aan nie.”
Esbeth voel hoe daar ’n skokgolf deur haar lyf gaan. Frans Bruwer … Die naam klink bekend. Sy sal haar kop op ’n blok sit Richard het daardie naam genoem.
“Waar is die man … dié Opperman nou?” vra sy so oorstelp dat oupa Janus skerp na haar kyk.
“Watse belangstelling het jy in dié Opperman?” wil hy vies weet.
“Ek verbeel my Richard het van ’n Frans Bruwer gepraat destyds. As ek reg onthou, het hy vir my gesê hulle lyk baie na mekaar. As Opperman dié Frans ken, sal hy dalk vir Richard ook … ken. Of geken het.”
“Kind,” sê oom Frik, “jy moet liewerster aanvaar Richard is dood. Los die dinge van die verlede uit.”
“Ja, sê tog vir haar,” por oupa Janus sy buurman aan. “Laat die dooies met rus.”
“Julle wil darem verskriklik graag hê Richard móét dood wees, nè!” vererg Esbeth haar. “Ek wonder wat Oupa gaan maak as dit nié so is nie. As hy dalk net geheueverlies opgedoen het en op ’n dag hier uitslaan!”
“Behoede my dit!” mompel oupa Janus binnensmonds, maar nie so sag dat Esbeth hom nie hoor nie. Voordat sy daarop kan reageer, kom roep Siena hulle etenstafel toe, dus sluk sy die katterige opmerking wat sy wou maak maar terug.
Oom Frik groet en Esbeth-hulle gaan deur eetkamer toe.
Oupa Janus is uitgeslape. Hy praat oor alles behalwe dinge wat Richard se naam dalk te berde kan bring aan die etenstafel. En ná die ete skuif hy sy stoel terug en strek hom behaaglik uit. “Nou vir ’n lekker middagslapie … Wat hoor ek dan nou?”
Esbeth hoor ’n dreuning. Daar plooi ’n glimlaggie om haar mond toe sy deur die venster kyk. “Dis tant Stien.”
“Og, nee!” kreun oupa Janus. “Sê vir die klaende skinderbek ek slaap.”
“Nee, wag,” keer Esbeth vinnig toe hy kamer toe wil skarrel, “dis sonde om te jok. En ek is doodseker dis nie vir mý wat sy kom kuier nie.”
“Bedoelende?” vra haar oupa kwaai. Maar Esbeth lag net en begin ywerig die tafel afdek.
Toe sy vieruur terugry dorp toe, kuier tant Stien steeds by haar oupa. Eintlik kry sy haar oupa jammer, want die vrou kan omtrent niks anders doen as om te kla en te skinder СКАЧАТЬ