Christine le Roux Omnibus 6. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux страница 3

Название: Christine le Roux Omnibus 6

Автор: Christine le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780798166119

isbn:

СКАЧАТЬ en sy is nogal preuts.” Sy kyk na hom van onder haar wimpers. “Maar ek sal jou my telefoonnommer gee en jy mag my enige tyd bel.”

      Flink haal hy ’n sakboekie uit sy binnesak en skryf die nommer neer.

      “Ekskuus tog,” sê ’n beleefde stem langs hom.

      Dis die lesende meisie. Sy het haar boek teruggesit in haar groot skouersak en stoot versigtig verby hom. Dis nie maklik nie, daar is orals mense op die vloer, op die leunings van meubels, selfs op die koffietafel. Hy skuif sy bene eenkant toe en kyk haar agterna.

      Sy is langerig en baie skraal. Wat sy hier maak, kan hy nie dink nie, sy praat met niemand nie en sy is definitief nie aangetrek soos die ander nie. Sy dra ’n dun, lang donkerblou rok met ’n wit kantkragie en sy vleg haar pad deur die mense, die dansers en die groepe voor die deur en verdwyn dan uit sig.

      “Wat is dit?” vra Jenny.

      “Niks nie.” Hy staan op. “Kom ons dans?”

      Sy staan gewillig op en vat die hand wat hy na haar uithou. “Daar is so min plek,” protesteer sy toe hy haar teen hom vastrek.

      “Dis die bedoeling,” sê hy speels.

      Die gedreun in die kamer is so hard dat hulle omtrent nie die musiek kan hoor nie, maar dit lyk nie asof dit iemand pla nie, paartjies wieg in mekaar se arms, die meisies se koppe teen hulle maats se skouers, arms om nekke gestrengel.

      “Dit ís warm,” sê hy skielik.

      “Ek het nie gekla nie,” sê Jenny.

      Hulle bly op die dansvloer tot die partytjie begin opbreek. Mense begin jasse bymekaarmaak en elke keer dat die voordeur oopgaan, kom ’n vlaag koue lug in. Theo sit sy arm om Jenny se skouers en saam soek hulle vir Petro, bedank haar vir die aand en kry hulle jasse.

      Theo begelei Jenny na haar motor, bied aan om haar huis toe te neem, maar aanvaar haar speelse teregwysing.

      “Jy’s te vinnig,” sê sy vir hom. “Buitendien – wat sal ek met my motor doen?”

      Hy buk af, soen haar op haar wang en bly op die sypaadjie staan tot haar motor om die draai verdwyn. Dan wikkel hy sy skouers teen die koue, druk sy hande diep in sy sakke en stap vinnig terug na sy woonstel.

      Belowend, dink hy toe hy tussen die geil plante stap, elkeen presies deur hom gekies. Definitief belowend, hierdie Jenny-meisiekind. Miskien ’n bietjie voor op die wa, maar van wanneer af het dit hom afgesit?

      Hoofstuk 2

      Die ysige winterwindjie laat Theo vinniger stap en hy is bly vir die verskansing wat die slim geplaaste muur bied toe hy die trappies opspring na die voordeur. Hy het dit spesifiek so beplan om elke bewoner die illusie te gee dat sy of haar wooneenheid privaat en afgeskans is van al die ander.

      Hy buk, steek sy hand in onder die kleitarentaal wat by sy voordeur waghou en skrik. Sy sleutel is nie daar nie. Hy sak af op sy hurke, tel die tarentaal op en draai dit om. Die holte, deur homself gemaak, is nog daar – die sleutel nié.

      Voor hy aan die handvatsel raak, staan hy fronsend en dink. Watter meisies weet almal van sy geheime wegsteekplek? Byna almal, moet hy erken. In elk geval almal wat nog ooit saam met hom huis toe gekom het. Die rede vir die wegsteekplek is omdat hy sy sleutels al op te veel plekke vergeet het. Plekke wat ’n verleentheid veroorsaak het. Meisies wat hy nie weer wou sien nie, maar na wie hy druipstert moes teruggaan om sy sleutels te kry.

      Hy kyk op sy horlosie. Dis byna eenuur en sy irritasie neem toe. Waarom hy so ergerlik voel, kan hy nie sê nie. Die begin van ’n nuwe verhouding vervul hom altyd met energie. Hy geniet dit elke keer om weer met die jag te begin en Jenny lyk asof sy pret kan wees. Vir ’n inbraak het hy nie nou krag nie. Hy wil nie die deur oopmaak en sien hoe sy huis gestroop en omgedolwe is nie. Hy is nie lus om nou die polisie te bel nie, hy wil eintlik net gaan slaap.

      Ná hy nog ’n sekonde na die deur gekyk het, draai hy die knop en stoot dit versigtig oop. Tot sy verligting lyk dit nie of daar ingebreek is nie; die plek lyk net so netjies soos dit gelyk het toe hy vroeër die aand daar weg is. Hy druk die deur saggies toe en stap in die woonkamer in.

      Daar bly hy sprakeloos staan, een hand nog behoedsaam voor hom ingeval hy skielik moet spring. Op die rusbank, sy spesiaal ontwerpte rusbank, lê die meisie in die donkerblou rok en slaap. Sy lê netjies op haar rug, haar voete bymekaar, die boek wat sy vroeër gelees het, omgekeer op haar bors en haar bril bo-op die boek.

      “Wat?” vra hy. “Wat op aarde maak jy hier?”

      Sy skrik haar buite weste en sit so vinnig orent dat haar boek en bril oor die mat vlieg. Een hand gryp in die lug, die ander klou ’n hand vol rok vas. “Wie?” stamel sy en soek rond na haar bril.

      “Wie?” herhaal hy kwaad. “Dis wat ék gevra het. Wat maak jy in my huis?”

      Sy knipper haar oë wat van die skrik selfs groter lyk. “My bril,” sê sy. “Waar’s my bril?”

      Hy buk, tel die bril op en gooi dit op haar bors, ’n beweging wat sy brein laat swem. Sy gryp die bril en druk dit op haar neus. “Is die partytjie al verby?” vra sy.

      “Ja,” sê hy koud. “Lankal. Dit verklaar egter nie wat jy in my huis maak nie.”

      Sy is besig om haar kalmte te herwin. Sy swaai haar voete van die bank af, tel haar skoene op en trek dit aan. “Dit het so geraas. Regtig, ek kan nie so ’n gedreun uitstaan nie en toe jy sê jou woonplek is hier, het ek gedag dit sal stiller wees.”

      “Geraas?” vra hy sarkasties. “Hoe vreemd. Partytjies klink natuurlik normaalweg na die leeskamer van ’n biblioteek.”

      “Nee, dis nie waar nie,” spreek sy hom vriendelik aan. “Die leeskamer is baie stil. Ek weet, ek is ’n bibliotekaresse.”

      “Ek gee nie om of jy ’n fisikus is nie,” sê hy ontstoke. “Wat maak jy in my huis?”

      “Ek sê dan, ek het gesoek na ’n stiller plek.”

      “Wat van jou eie huis?”

      “Ek het nie ’n kar nie,” sê sy op dieselfde kalm manier.

      “Ja? Dis geen verskoning nie.”

      “Dit is,” verseker sy hom. “Ek moes wag vir my woonstelmaat. Sandra,” voeg sy by. “Ek het saam met haar gekom, maar ek dink sy is seker saam met ’n man huis toe.”

      Hy soek na woorde. Is hierdie . . . hierdie non Sandra se woonstelmaat? “Sandra?” vra hy. “Die Sandra wat . . .”

      “Ja, jou Sandra.”

      “Sy is in jare nie meer my Sandra nie!” sê hy opnuut kwaad.

      “Dis waar. Sy is nou Riaan s’n.” Sy druk die kantkragie van haar rok plat asof dit belangrik is. “Maar ek sal my nie verbaas as sy saam met ’n ander man huis toe is nie. Sy is soos jy.”

      Hy is nou so kwaad dat hy geen woorde het nie.

      Sy sit regop en kyk verstrooid oor die mat tot sy haar boek kry, afbuk en dit optel. “Is sy nog daar?” vra sy.

СКАЧАТЬ