Название: Wanneer passie blom
Автор: Madelie Human
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624067986
isbn:
Wanneer
passie blom
Madelie Human
Satyn
1
Geagte meneer Kupido,
Ek staan vandag daar in ons stoorkamertjie by my en Thea se bloemistewinkel om seker te maak dat ons voorraad genoeg is vir Valentynsdag wat om die draai is. Dit laat my toe aan jou dink. Jy is mos die boepensmannetjie met die pyl en boog wat paartjies bymekaarbring, dan nie?
Dis toe dat ek daaraan dink dat dit tyd is om jou hulp in te roep. Thea, my beste vriendin en vertroueling, wat nog altyd daar was vir my, het haar droomman ontmoet en gaan binnekort trou. Dis tyd dat ek terugstaan, ophou om vir so baie dinge op haar staat te maak en haar te laat gaan sodat sy haar eie geluk kan gaan soek. Die enigste ding wat haar sal oortuig dat ek haar nie meer so nodig het as wat sy dink nie, is ’n man van my eie.
Ja, ek weet dat ek mans eintlik heeltemal afgesweer het, maar miskien is dit tyd dat ek ou koeie in ou slote los waar hulle hoort en aangaan met my lewe – my liefdeslewe, om meer spesifiek te wees. Ek is buitendien siek en sat om die verlepte blommetjie teen die muur te wees en Saterdagaande tuis te sit met net my kat vir geselskap.
My begeerte is nou nie juis na ’n miljardêr of selfs nie eens ’n miljoenêr nie, want ek soek nie ’n storieboekromanse nie, net ’n regte-egte hartverloor-romanse. Ja, ’n tonekrullekker halsoorkop verlief raak sal goed wees, dankie. Een waar die held enigiets sal doen om die heldin gelukkig te maak.
Ek soek asseblief tog nie ’n wimp van ’n man nie. Hy moet weet wie nou eintlik die jagter is en hy moet my voete onder my kan uitslaan. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie: hy hoef nie so sterk te wees dat hy my by die trappe op kan dra asof ek niks weeg nie, want ek weeg nie niks nie, dit weet ek maar alte goed. Ek het ’n goeie badkamerskaal, dankie.
Dis ook nie nodig dat jy vir my ’n filmstermooi tall-dark-and-handsome ou met breë skouers, spiere wat bult en sjokoladebruin of mosgroen oë hoef te soek nie. Gewone bruin of groen sal doen, dankie. Laat staan ook maar die vierkantige ken met die kuiltjie in die middel. Hy kan maar ’n doodgewone kennebak hê, hoor. Designer baardstoppels is ook nie nodig nie, dit sal my net kielie.
En o ja, hy hoef nie ’n supersuksesvolle sakeman of kunstenaar te wees nie. Die man wat jy vir my vir hierdie romanse op Valentynsdag uitsoek, kan maar doodgewoon wees solank hy my mouter op hoë revolusies kan laat woema. Ek wil net vir een keer voel hoe dit voel om ’n vuurwarm verhouding aan te knoop.
’n Gewone man met rooi bloed in sy are sal die ding vir my doen. Maar hy moet darem weet wat om met ’n vrou in sy arms te maak. Jy weet tog seker hoe my kêrel op universiteit se onhandige gevroetel in die donker my genees het van alle begeerte om “dit” te beleef. Die man vir hierdie projek moet beslis weet wat om tussen die lakens aan te vang sodat ek ook kan uitvind waaroor die bohaai nou eintlik gaan.
Is dit nou te veel gevra?
Nie?
Ek sou so dink, ja!
So kry jou dinges in rat, meneer Kupido. Asseblief, man. Die ontmoeting sal spoedig moet gebeur, want soos jy weet, is Valentynsdag oor ’n maand en Thea en Jaco se troue heel waarskynlik nie baie lank daarna nie. Ek is moeg om vir almal blomme op Valentynsdag te moet stuur en self niks te kry nie.
Groetnis,
Janie Venter
NS. Sien jy, ek het selfs ’n gewone naam, afgelei van Janetta, niks eksoties of onuitspreekbaar nie. Jig, wat het my ma besiel om my na ouma Nettie te vernoem? Die man wat jy vir my kry, kan maar ’n Jan of ’n Gert of so iets wees. Jacques klink vir my soos ’n sissie en Steve alte veel soos een wat vir ander vroue loer terwyl hy saam met jou is, soos Pa met Ma gemaak het. Ek soek ’n doodgewone man met ’n doodgewone naam, asseblief tog.
Op las!
“Agge nee, Daisy, man!” murmureer Janie toe die ou kombi wat sy en Thea as afleweringsvoertuig vir hul blomwinkel gebruik, viervoet vassteek net toe sy vroeg Maandagoggend by die blommeplaas se hek indraai. “Asseblief tog, Daisy, moenie dit aan my doen nie. Ons het so baie bestellings vir hierdie week. Wat gaan ons maak as ons nie kan aflewer nie?”
’n Ongeduldige getoeter agter haar laat haar omkyk. Een van Bloemendal se wit vragmotors kom teenaan Daisy se agterkant tot stilstand en die bestuurder lê behoorlik op die toeter. Ongeskikte vent. Ai, sedert haar oom Gert se dood ’n paar maande gelede gaan dinge nie alte lekker hier op hul familie se blommeplaas nie. Die bank het kort voor sy dood al haar oom se eiendom gekonfiskeer en verkoop om sy skuld te delg en die ontsteltenis daaroor het hom ’n noodlottige hartaanval besorg.
Die dag van die veiling waarop die plaas met alles daarop verkoop is en haar oom die hartaanval gekry het, wil Janie nooit weer oorhê nie. Een persoon het die plaas met alles daarop teen ’n belaglik lae prys op die veiling opgeraap – alles behalwe die orgideeversameling wat in elk geval nog altyd Janie s’n was. Haar oom het gekeer dat dit nie ook verkoop word nie en daarvoor is Janie bitter dankbaar, want die kweekhuis vol kosbare plante verskaf haar jare lank reeds oneindige vreugde.
Almal gis en wonder nou oor die geheimsinnige man wat die koop deur ’n slinkse prokureur laat hanteer het. Skindertonge weet te vertel dis ’n man met die naam van Ryno Bruwer van wie niemand hier in Krugersdorp se omgewing nog gehoor het nie.
Janie sug en gluur vies na die toeterende lorrie agter haar. Dis tyd dat die man, wie hy ook al is, beheer oorneem sodat die werkers weer dissipline kan leer. Hulle luister nie na haar nie. Kyk nou net hoe gaan hierdie een tekere. Kan hy nie net ’n bietjie geduld aan die dag lê nie?
“Ja, ja, ja. Netnou gaan al die roosknoppe en lelies ontydig oop van jou yslike rumoer. Hoekom gaan jy nie eenvoudig verby nie?” raas sy. Maar ’n vinnige kyk rondom haar verseker haar daar is nie ’n manier waarop die bonkige vragmotor op die tweespoorpaadjie by haar verby kan skuur nie. Die man beduie dat sy haar blombussie van die pad moet aftrek. Janie voel lus om haar ruit oop te draai en hom iets toe te snou. Hoe moet sy dit doen as die dooie ding staan waar hy staan? Verbete probeer sy die kombi weer aan die gang kry, maar verniet. Daisy se aansitter draai en draai lawaaierig, maar niks gebeur nie.
Toe die deur langs haar skielik oopgepluk word, skrik sy haar boeglam. “ ’n Vroumens. Dit kon ek gedink het,” grom ’n diep stem hier langs haar.
“Askies?” Vererg kyk sy op, draai haar kop vinnig weg en dan weer terug vir ’n tweede kyk. Sy ken al die plaaspersoneel . . . wie sou die ongeskikte vreemdeling wees? Meer nog, kan iemand wat so onmanierlik is ooit sulke mooi saffierblou oë hê? Sy voel hoe die aarde rondomtalie met haar draai. Die snytjie roosterbrood wat sy vanoggend so staan-staan ingesluk het, maak net so ’n vinnige omwenteling in haar maag. Wow!
“Skuif oor anderkant toe, laat ek kyk of ek die stuk blik aan die gang kan kry.” Hy mik om in te klim.
Haar oë vernou en haar vinnige temperament neem onmiddellik oor. “Niemand noem my ‘Vroumens!’ nie en nog minder skel jy my getroue Daisy as ’n stuk blik uit.” Vasberade gryp sy die sleutel weer en gee dit ’n venynige draai. Gewillig hoi-hoi Daisy se enjin daar agter, maar niks verder gebeur nie.
“Daar is ’n los draad iewers of jou . . . uhm . . .” Sy oë dwaal spottend oor Daisy se blombeverfde sykant terwyl sy wenkbroue veelbetekenend opwip. “ . . . Blommetjie se brandstof is op,” is die opinie van die wysgeer wat haar met arms oor die bors gevou staan en betrag.
“Dit kan СКАЧАТЬ