Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 21

Название: Proteus

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157476

isbn:

СКАЧАТЬ

      Die volgende dag het hy buite gewag. Nie iewers teen ’n muur aangeleun nie, maar reg voor die ingang, met sy bene wyd geplant en sy hande voor sy bors gevou. Toe sy die sonskyn van Thibaultplein wou gaan opsoek tydens haar middagete, was hy daar.

      “Kan ek saam met jou stap?”

      “Wat wil jy hê?”

      “Ek wil met jou gesels.”

      “Waarom?”

      “Want jy is ’n mooi vrou en ek wil jou ken.”

      “Ek ken genoeg mense.”

      “Jy het nooit gesê of jy ’n seun of ’n dogter het nie.”

      “Dis reg.” Hy het langs haar gestap, sy het op ’n trappie gaan sit en die waspapier van haar toebroodjie afgehaal.

      “Kan ek hier sit?”

      “Dit is ’n openbare plek. Jy kan sit waar jy wil.”

      “Ek is nie ’n tsotsi nie.”

      “Ek kan dit sien.”

      “Ek wil net gesels.”

      Sy het hom laat gesels. Daar was ’n tweestryd in haar – aan die een kant die vrees, aan die ander kant die verlange. Die ervaring wat agter haar lê, teenoor die moontlikhede voor haar. Die beskerming van haar kind en haar hart teenoor die mooi, groot, rustige, ordentlike man wat in die lentesonskyn langs haar sit. Haar oplossing vir dit alles was om te wag en te kyk, om te sien wat gebeur, om passief te bly. Laat hy gesels.

      En hy hét. Elke paar dae was hy buite, en soms het hy iets te ete saamgebring. Nooit luukshede nie: Bunny rolls, slapskyfies met hul onweerstaanbare geur van sout en asyn, soms ’n klein bakkie kerrie en rys of sy gunsteling, ’n chilli bite van die Maleier-wegneemplek in Adderleystraat, vars en geurig en skerp. Hy het haar laat proe, sy ete met haar gedeel. Stadigaan het sy ontdooi, het sy ontspan, het sy hom vertel van Pakamile en haar huis waarvoor sy so hard gewerk het, waaraan sy so moeilik afbetaal. Toe bring hy ’n geskenk vir die seun, ’n legkaart, en sy sê nee, dit is genoeg, sy wil hom nie meer sien nie, sy gaan nie vir Pakamile blootstel nie. Mans gaan weg, mans bly nie. Hy is ’n goeie mens, maar sy dink nie mans kan dit help nie, dit is hoe die lewe is: Mans is tydelik. Onbetroubaar. Onnodig. Onnodig vir Pakamile.

      Nie alle mans nie, het hy gesê en dit was op die punt van haar tong om te sê: “Dit is wat julle almal sê,” maar daar was iets in sy oë, in sy kyk, in die trek om sy mond en die klemming van sy tande wat haar weerhou het, wat haar geraak het en sy het stilgebly en toe sê hy: “Ek het ’n rowwe lewe gehad. Ek het dinge gedoen …”

      “Watse dinge?”

      “Dinge in die naam van die Struggle. Ek was anders. Ek het ’n ander lewe gehad. Ek is nie skaam daaroor nie. Ek het gedoen waarin ek geglo het. Dis verby. Hier is ek nou. Net soos jy my sien.”

      “Ons het almal dinge in die naam van die Struggle gedoen.” Sy was verlig.

      “Ja,” het hy gesê. “Ek het gesoek na myself. En nou het ek myself gekry. Ek weet wie ek is en ek weet wat ek wil hê. Ek is nie ’n wegloper nie.” Sy het hom geglo. Hy het in haar oë gekyk en sy het hom geglo.

      * * * * *

      “Ons het ’n weersituasie, Rooivalk Een,” sê die toring by Bloemspruit. “Trog aan die ontwikkel in die weste, al die pad van Verneukpan tot by Somerset-Oos en ’n swak frontale stelsel op pad. Dit kan nat raak.”

      Die vlieënier kyk na sy lugplan. “Kan ons nog deur?”

      “Affirmatief, Rooivalk, maar julle sal moet wikkel,” sê die toring, wat weet die Rooivalk se operasionele plafon is net onder die twintigduisend voet.

      “Rooivalk Een gereed vir opstyg.”

      “Rooivalk Twee gereed vir opstyg.”

      “Rooivalk Een en Twee, klaring vir opstyg. Laat julle voete raas.” Die lawaai van die dubbele Topaz turbo-asmotore is oorverdowend.

      * * * * *

      In die pas net voor die Hexriviervallei raak hy die R 1150 GS baas. Hy besef dit wanneer hy uit ’n draai kom en die versneller draai, en daar is genot uit die krag en die uitlaatpyp snork sag agter hom as hy een rat terugskop; hy kies die lyn vir die draai, kantel die motorfiets, sy skouer sak in die draai in en daar is nie ongemak nie, daar is nie vrees vir die hoek van masjien en pad nie, net die tinteling van ’n sekere behendigheid, vir ’n klein oorwinning, beheerde krag. Hy versnel anderkant uit, sy oë daar voor vir die volgende een, neem kennis van die rooi agterligte ’n kilometer vorentoe, ’n vragmotor. Hy voel meer in beheer, stukke en brokke van die instrukteurstem by die Gevorderde Ryskool het nou betekenis. Hy kan hiervan hou – bietjie adrenalien, bietjie meer vaardigheid. Vragmotor voor. Hy manipuleer koppelaar en ratte en versneller, knypie van die voorrem, skiet verby en dan kyk hy op en die maan breek weg van die bergpieke, vol en helder en groot, en in dié oomblik weet hy dit gaan werk, die moeilikheid lê agter hom. Net die kronkelende, oop pad voor hom. Hy draai die krane oop, en dan ontvou die vallei voor hom, ’n sprokieslandskap in die silwer lig van die maan.

      * * * * *

      Monica Kleintjes sit ineengekrimp in die sitkamerstoel in haar pa se huis, traanstrepe oor haar wange. Oorkant haar sit Williams op die punt van sy stoel, asof hy in empatie na haar wil uitreik. “Juffrou Kleintjes, ek sou presies dieselfde gedoen het as dit my vader was, dit was ’n nobele optrede,” sê hy sag. “Ons is hier om u te ondersteun.”

      Sy knik, haar onderlip vasgebyt, haar hande beklemmend op haar skoot, haar oë groot en nat agter die bril.

      “Daar is net twee sake waarop ons graag wil hê u moet lig werp: U vader se verbintenis met meneer Mpayipheli en die aard van die data wat hy by hom het.”

      “Ek weet nie wat op die hardeskyf is nie.”

      “U weet nie?”

      “Name. Rekords. Nommers. Inligting. Toe ek my pa vra waaroor dit gaan, toe sê hy dit is beter as ek nie weet nie. Ek dink … Name …”

      “Wie se name?”

      “Bekendes.”

      “Watter bekendes?”

      “ANC. Die Regime …”

      “Kan u spesifieke name onthou?”

      “Hy het nie gesê nie.”

      “Niks?”

      “Niks.”

      “Juffrou Kleintjes, dit is noodsaaklik dat ons weet waaroor hierdie data gaan. Dit is in landsbelang.”

      Haar hande kom los van haar skoot, die trane spoel oor ’n keerwal. “Ek wou nie weet nie en ek dink my pa wou nie sê nie. Asseblief …”

      “Ek verstaan, juffrou Kleintjes.”

      “Dankie.”

      Hy gee haar ’n oomblik om te kalmeer. Sy reik na die sneesdoekies en СКАЧАТЬ