Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo страница 6

СКАЧАТЬ sien ons elke keer met volmaan. En vir die mensekinders wou Maan laat weet: “Net soos ék doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.”

Brown Hare

      Maan moes ’n boodskapper kry om die belangrike boodskap na die mense te bring, en dié boodskapper moes kleiner as klein wees, en vinniger as vinnig. Ná wik en weeg besluit sy op Luis. Want sy het geweet Luis, die luiaard, sit net in ’n bossie se skaduwee en wag tot ’n boklam of die bokwagtertjie daar verbykom. Dan spring hy op en ry saam na die takkraal toe, daar waar die vure is, en dan is die boodskap sommer gou-gou by die mense. So, Luis het die boodskap gekry om te dra.

      Maar ongelukkig is Luis nie net lui nie – hy sien ook nie te goed nie.

      Toe Luis van Maan af weggaan met die boodskap, was dit nog nag. Hy het onder die eerste die beste graspol ingekruip. Daar het hy sy kans afgewag: kom staan ’n bok teenaan die graspol, dan het hy ’n ryding en dan is die boodskap so goed as by die mense.

      Toe die eerste skaduwee oor die graspol val, glip Luis uit, klim teen die skeenbeen voor hom op en klou vas. Maar ai … Luis het hom vreeslik misgis. Terwyl hy nog die boodskap oor en oor opsê sodat hy dit nie straks vergeet nie, raak die grond weg onder hom, en die tkaubome en die melkbosse raak klein onder hom.

      En toe sien hy eers: die bok het nie hare nie, maar vere! En toe hoor hy: kelkiewyn-kelkiewyn! Daar gaan sit die kelkiewyn anderkant die verste melkbos, en sy skud haar vere, en Luis trek met ’n boog deur die lug tot onder ’n biesiepol.

      Daardie aand steek Maan haar kop tussen die melkbosse op die horison deur om te kyk of die mense al dans van vreugde oor die goeie boodskap. Maar dis stil, die vure brand laag en aan die gehuil van die kinders kan sy hoor iemand is weer baie siek. Toe weet Maan Luis het nog nie die goeie boodskap afgegee nie.

      Vroeg die tweede dag, nadat daar die nag ’n paar druppeltjies reën geval het, dreun die sand rondom Luis soos die springbokke en die gemsbokke baljaar. Toe val ’n skaduwee oor die biesiepol waar Luis sit en wag, en Luis sê: Hier’s my kans, en hy klim.

      Aiiii, maar dis nie ’n werfbok teen wie se skeen Luis so vasklou nie! Toe Luis weer sien, galop die gemsbok met hom diékant verby die werf, al met die reënspore langs tot doer waar die son ondergaan.

      En toe die gemsbok later begin wei, sien Luis nog ’n dag is verby en die boodskap is nie afgelewer nie. En die werf lê nou anderkant die rant wat anderkant die verste rant lê.

      Toe Maan ’n rukkie later teen die verste melkbosse deur loer, sien sy dat die vure nog laer brand as die vorige aand, en sy hoor die mense huil. Iemand is baie, baie siek. Toe weet Maan Luis het nog nie by die mense uitgekom met haar goeie boodskap nie.

      Die derde dag, toe Luis tot bo in ’n volstruisdruiwebos klim, kom knabbel Haas aan die vet blaartjies. En Luis vertel hom van sy moeilikheid.

      Haas, wat nuuskierig is, wil dadelik weet wat die boodskap is. En Luis sê dit vinnig op: “Net soos ék, Maan, doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.”

      Aha, dink Haas, dis so ’n vername boodskap … as ék dit aan die mense bring, sal ek Maan se guns wen. En hy bied terstond aan om Luis tot by die werf te vat.

      Maar hulle is skaars by die verste melkbosse of Haas skud sy karos links en regs in die wind – en daar trek Luis. En voor jy kan sê een-jakkals-het-’n-skewe-agterpoot! sê Haas gee pad voor, en hy hol so al wat hy kan werf toe om die boodskap vir die mense te bring.

      Maar waar Luis bysiende is, is Haas kortsigtig. Hy dink net aan die roem wat hy gaan verwerf met die vername boodskap. Hy sê nie die boodskap oor en oor op soos Luis sodat hy dit kan onthou nie, hy hol net dat sy ore en sy witkwasstertjie wip-wip oor die klippers en die graspolle.

      Maar aiiii, toe hy uitasem op die werf aankom, kan Haas nie die boodskap presies onthou soos Luis dit opgesê het nie. Hy sê dit oor en oor, maar hoe meer hy dit opsê, hoe meer raak die woorde deurmekaar.

      Vaal van die stof slaan hy op die werf neer en dit is die boodskap wat hy vir die mense gee: “Net soos ék, Maan, doodgaan, en dood bly, net so sal julle ook doodgaan, en heeltemal vergaan.”

      En die hele werf se mense gaan aan die weeklaag en hulle gooi sand en as oor hulle gesigte, en op dié oomblik blaas die baie, baie, baie siek man sy laaste asem uit.

      Toe Maan dié aand deur die verste melkbosse kyk, sien sy nie eens ’n enkele stomp hout brand nie. Die hele werf is verlate. Die takkraal is leeg. Daar is nie ’n sterfling te sien nie.

      En toe sy nader gaan, sien sy Luis nêrens nie, maar Haas dwaal nog daar by die vuurmaakplek rond en sê die verkeerde boodskap oor en oor op.

      Toe word Maan baie kwaad. Sy gryp ’n stuk uitgebrande stomp en slaan vir Haas deur sy gesig.

      Haas skrik so groot dat hy sy karos in die as van die vuurmaakplek laat val. Hy raap dit op en slaan Maan daarmee deur die gesig.

      Van toe af het Haas ’n gesplete lip, en die vaal asmerke lê vandag nog oor Maan se gesig.

      Woordverklarings

      biesiepol – hassock

      gesplete lip – split lip

      kelkiewyn – Namaqua sandgrouse

      kortsigtig – short-sighted

      skeenbeen – shinbone

      terstond – immediately

      vername – important, distinguished

      werfbok – goat

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Skryf die boodskap wat Luis moes oordra neer.
2.Beskryf in drie sinne die natuurlike proses in die heelal wat dit vir ons laat lyk asof die maan “doodgaan, maar weer lewe”.
3.Noem die diere waarop Luis geklim het om sy boodskap te gaan oordra.
4.Waarom kon Luis nie saam met een van hierdie diere daarin slaag om sy boodskap oor te dra nie?
5.Beskryf in een sin die lewensles wat ons uit hierdie verhaal leer.
6.Watter inligting in hierdie verhaal word herhaal, soos so tipies van die volksverhaal is?
7.Skryf ’n bekende idioom neer wat op hierdie verhaal van toepassing is (sleutelwoorde: haas, spoed).
8.Wat wil Namas sê wanneer hulle simbolies sand en as oor hulle gesigte gooi?
9.Skryf ’n paragraaf van 100 woorde om die landskap in hierdie verhaal te beskryf.
10.Skryf drie sinne uit die verhaal neer wat vir jou mooi is. Skryf by elke sin hoekom dit vir jou mooi is

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу СКАЧАТЬ