Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 7 Eerste Addisionele Taal - Riens Vosloo страница 4

СКАЧАТЬ hoër en hoër op stap die bongo, en al hoër en hoër op loop Kaninu, o, so stilletjies. Naderhand hou die groot bome op en die bongo beweeg verder tussen yslike geel en groen bamboese deur wat ritsel en kraak. En agter hom aan, hande-viervoet, kom Kaninu, met ’n hart wat soos ’n jagter s’n klop.

      En toe skielik is hy in die volle sonlig. Kaninu staan op en bevind hom in ’n vreemde nuwe wêreld – en die bongo het spoorloos verdwyn.

      Het ek dan gedroom? wonder Kaninu. Waar is ek nou?

      Kaninu is hoog teen die hange van ’n magtige berg wat spierwit teen die lug glinster, asof die spits met wit as bedek is. En naby hom is die bergstroompie wat vir hom ’n paadjie tussen die gras oopgebeur het. Maar kyk net hoe klein is dit hier. Net ’n skraal ou stroompie tussen donker walle. Kaninu kniel en drink, en toe sien hy die spore van die bongo in die modder.

      “Die bongo was dus voor my hier,” sê hy. “Ek gaan sy spore volg tot ek hom weer kry. Die bongo sal my vriend wees.”

      Die spore loop al met die stroompie saam, al hoër en hoër, maar die hele tyd word die stroompie kleiner en kleiner. En oplaas hou die stroompie heeltemal op, en daar is net ’n fonteintjie wat onder ’n groot grys rots uitborrel. En daar, langs die groot rots, staan die bongo.

      Hy staan vir Kaninu en kyk.

      “O, bongo, jy is baie mooi, en so groot soos ’n hut,” sê Kaninu saggies. “Sê vir my, is dít waar die stroom gebore word?”

      Die bongo kyk vir Kaninu en dis asof hy sê: Ja, dit is waar die stroom gebore word. Hierdie rots is die prop op die groot kalbas van die aarde. As jy die rots wegskuif, dan sal al die water in die aarde uitstroom. Dit sal die dorpies wegveeg, die hutte en die bome en die beeste en die bokke. Dit sal soos ’n verskriklike wind verbystorm en al die mans en vrouens en kinders wegveeg …”

      “En die swart vark?” vra Kaninu bly.

      “En die swart vark,” sê die bongo. “Net jy, Kaninu, ken hierdie groot en vreeslike geheim, die geheim van die prop op die groot kalbas van die aarde. En wanneer jy ’n man is, Kaninu, met groot krag in jou skouers en jou arms, dan sal jy hierdie rots kan wegskuif, en al die waters in die aarde sal uitgestroom kom, net soos die water uit jou pa se kalbas wanneer hy die koeistert uittrek wat hy as prop gebruik. En die ganse wêreld sal deur die water weggespoel word.”

      “O, o!” roep Kaninu uit, sy oë yslik groot. “Sal ek, Kaninu, soveel krag hê?”

      “Ja,” sê die bongo. “Maar jy moet jou krag net gebruik om goed te doen, en jy mag die klip net in tye van droogte en hongersnood wegskuif om die water te laat vloei, om jou mense te red. Maar as jy met woede in jou hart kom om die klip te kom wegskuif, sal die vloed al die mense in die wêreld doodmaak, en jy, Kaninu, sal eensaam en in groot droefheid sterf, want die mense vir wie jy lief is, sal nooit weer terugkom nie. Die toorn van Ngai, God, sal vir altyd met jou wees.”

      “O, dit is werklik verskriklik,” sê Kaninu. “Dit is ’n baie groot geheim wat jy my vertel het, bongo van die woud. Dit maak my bang.”

      “Dit is goed om bang te wees vir sulke wonderlike dinge,” sê die bongo. “En tog behoort jy ook bly te wees. Volg nou die stroom bergaf deur die woud en jy sal jou pad terug na jou dorpie toe kry. En as jou voete weer die pad hierheen volg, eendag wanneer jy ’n man is, laat jou hart dan bly en vol vrede wees. Moet nooit in woede hierheen kom nie. Vaarwel.”

      En sonder dat Kaninu mooi weet hoe, smelt die bongo weg teen die pers hange van die hoë berg, en Kaninu bly daar staan met oë en mond wyd oop op soek na hom.

      Maar die bongo kom nie terug nie. En oplaas, toe die son begin ondergaan, vat Kaninu die paadjie wat al langs die stroompie loop, dwarsdeur die woud en tot by sy tuiste, waar die vrouens pap kook oor die aandvure en die bokke na die krale gelei word.

      “En waar was jy vandag heeldag, Kaninu?” vra sy ma en pa en broers en susters waar hulle in die hut sit en kyk hoe die vlamme onder die swart pot lek.

      “Ek het na die woud toe gegaan,” sê Kaninu.

      “Hu, wat is daar te sien in die woud?” sê Wamai. “Hoekom was jy so lank weg?”

      “Ek het ’n wonderlike dier gesien,” sê Kaninu.

      “Vertel vir ons hoe hy gelyk het,” sê sy pa en hou sy hande na die vuur toe uit om dit warm te maak.

      “Groter as ’n groot koei, en bont asof hy vir ’n dansparty geverf is, Pa,” sê Kaninu.

      “Ai-ai-ai!” sê sy pa en hy kyk Kaninu met ontsag aan. “Dit moet ’n bongo gewees het. My seun, jy is gelukkig. Baie min mense het al die bongo gesien – ’n pragtige dier, groot en baie skugter. Ai-ai-ai! Om te dink dat ’n kind van my die bongo gesien het. Vertel vir my, hoe lyk sy hoewe, en hoe groot is sy ore, en is sy oë regtig rooi?”

      “Hulle sê daar is towerkrag in die hart van die bongo,” sê Kaninu se ma, en sy vergeet om die pap op te skep. “Goeie towerkrag, en baie sterk.”

      “Ha,” lag Wamai, “dis die stories van ou vrouens wat nie meer tande het nie. Towerkrag in ’n dier, nou toe nou.”

      Maar Kaninu se ma kyk vir hom. “Is jy seker jy het geen towerwoord by die bongo gehoor nie?” vra sy met ’n fluisterstem.

      En Kaninu lag met hulle almal, daar in die lig van die vuur, en hy sê nóg ja, nóg nee. En hy los hulle dat hulle maar wonder en wonder en wonder. Want dit is die heel lekkerste daarvan om uiteindelik jou eie geheim te hê.

      Woordverklarings

      byekorf – beehive

      geslepenheid – slyness

      kolibrie – hummingbird

      krygsman – warrior

      laat spaander – take to one’s heels

      lawe – refreshed

      nietigheid – insignificance

      skuifel – shuffle

      slingerplant – creeper

      sog – sow

Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe).
1.Waaroor gaan Kaninu se vrae? Skryf net een korrekte antwoord neer: krygsmanne / die natuur / olifante / die bongo.
2.Die beroemde Suid-Afrikaanse pottebakker Esias Bosch het geleef van 1950 tot 2010. Kaninu se tante lag egter en sê potte maak is nie ’n werk vir seuns nie. Wat is die verskil tussen Kaninu en Esias Bosch? Skryf net een korrekte antwoord neer: Kaninu se verhaal speel af in ’n tradisie waarin slegs vroue potte bak / Esias Bosch was ’n vrou.
3.Kaninu het nie ’n towerwoord by die bongo geleer nie. Maar hy het wel ’n lewensles geleer. Skryf in een sin wat hierdie les is.
4.Wat beteken “cio irogea thaai”? Jy hoef nie hierdie taal te kan praat om uit te vind nie; die antwoord is in die verhaal.
5.Die meeste van ons weet nie eens wanneer die lande in ons omgewing geoes word nie en party van ons kan die lande nie eens sien nie. Waarom is die oes in Kaninu se wêreld so belangrik? Skryf net die korrekte antwoord neer: Kaninu se mense woon in ’n woestyn / Kaninu se mense is tradisioneel en plant self hulle kos / Daar is soveel stakings dat daar nie meer kos СКАЧАТЬ