Talmende tuiskoms. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Talmende tuiskoms - Louisa du Toit страница 6

Название: Talmende tuiskoms

Автор: Louisa du Toit

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624066569

isbn:

СКАЧАТЬ Jy praat soos Johan.” Sy lag gedemp.

      “Is dit sy naam?”

      “Johan Jooneveld.”

      Hoe musikaal het sy naam geklink toe sy aan hom voorgestel is. En toe hy praat, het sy stem sy naam en voorkoms in kwaliteit ver oortref.

      “Hy het die mooiste stem wat ek nog ooit gehoor het,” sê sy en skaam haar dan vir die kinderagtige uitlating. Hy lag egter nie, kyk net gemaak verbaas skuins na haar af: “Wanneer hy fluister, of wanneer hy in die badkamer sing?”

      Sy kyk na sy gelaatstrekke in die toenemende skemer. “Ons bly nie saam nie, Deon.” Dan voeg sy vriendeliker by: “Jy het nogal verander. Die ontluikende seun het ’n aantreklike man geword.”

      “Al die meisies sê so. Jy was die laaste een om dit raak te sien.”

      “En daarby is jy glad nie verwaand nie.”

      “Geensins; beskeidenheid is ’n deug, ek is bly dat ek dit het. Wat doen Johan?”

      “Hy is ’n bemarker. Vryskut. Werk vir meer as een firma.” Sy kyk om na die see van flikkerende liggies wat nou reeds kilometers ver agter hulle lê. Iewers in daardie intiem-gloeiende doolhof bevind hy hom nou, dink sy met heimwee en verlange.

      “En Johan dink jy is onseker.”

      “Op kantoor word ek egter anders beoordeel; daar heet ek ‘Immovable Irma’.”

      “Dis kritiek. Stoot jou baas jou dus op ’n kruiwa rond?”

      Sy lag spontaan en besef dat hy gesels bloot om wakker te bly. “Gee jy om om stil te hou?” vra sy.

      Hy gehoorsaam dadelik en kyk ongemaklik by die venster uit, menende sy wil ’n draai loop. Sy klim uit en voel die aandlug aan haar neus en tone byt.

      “Toe maar, ek het nie nood nie. Ek wil net vir jou ’n bed op die agterste kussing maak,” stel sy hom gerus.

      Hy wil eers protesteer, maar dan onderwerp hy hom as die lêplek hom lok. Skaars het sy tien kilometer gery, of sy loer oor haar skouer en sien dat hy slaap, een arm oor sy voorkop geslinger. In ontspanne houding en in die beperkte ruimte van sy slaapplek vertoon sy liggaam groter as wat dit werklik is. Geluidloos slaap hy ure lank; die slaap van die vermoeide. Hy vertrou my agter die stuurwiel, dink sy gevlei. Vir my, die onsekere. Maar dis een ding waarop haar pa aangedring het: hy sal sy dogter leer bestuur.

      Hierdie deel van die nag, die lang ure deur die donker veld met die stippels van dorpe waardeur sy ry, raak vir Irma die moeilikste. Nou begin die malende gedagtes waarvan Deon se geselskap haar genadiglik weerhou het. Inwendige bloeding … sy het al van gevalle gehoor waar dit in ’n jiffie verby kan wees. As Tillie moet sterf! Tillie, wat so diep in haar lewe gekruip het. Na dertien jaar voel sy nog die klein, soekende armpie van ’n hulpelose klein Tillie as sy snags in hulle gesamentlike bed nader kruip. En, veel later nog, ’n ontstelde Tillie wat inligting soek aangaande haar eie liggaamlike funksies.

      Net vyf jaar ouer as sy, was Irma tog vir Tillie die moeder wat Matilda op ’n verkeerde manier probeer wees het. Die kindmoeder wat haar beskermling twee jaar gelede verlaat het, en waaroor sy steeds skuldig voel. Hoe nodig het Tillie haar die afgelope tyd gehad.

      Maar dan, dink sy met selfbejammering, hoe nodig het ek ook iemand gehad, al die jare. Na skool het sy twee jaar by die huis gebly. Daarna is sy onder storm en protes tegniese kollege toe, die verste een moontlik. Niemand was daar in die vreemde om haar haar voete te help vind nie. Tillie het tog darem vir Deon naby haar gehad, die afgelope agtien maande.

      Sy kyk die soveelste keer om na waar hy roerloos slaap onder die reisdeken, sy knieë ongemaklik gebuig om in te pas in die beknopte ruimte. In sy geval is dit soveel erger; hy het nog nooit iemand gehad aan wie hy werklik behoort nie. Hy het nog nooit daarin belang gestel om sy biologiese mense te vind nie. Waarom, as hulle hom weggesmyt het? Was sy koppige argument. Die kinderhuis was goed vir hom, hulle is sy familie.

      “En ons?” wou Irma en Tillie jaloerserig weet.

      “Aag, julle is maar net jammer vir my.”

      Hy het ná ’n bogemiddelde matriek begin werk as toonbankklerk in ’n groot manswinkel. Toe het hulle hom maar selde te sien gekry. Sy het inderwaarheid alle kontak met hom begin verloor toe sy in ’n brief van Tillie verneem dat Deon plaas toe kom en vader teen betaling sal help boer. Vader se toestand is jare reeds nie na wense nie. ’n Hart wat moeg is, reken die dokter. Tog meen Irma dat sy meer bepaald die rede van die verswakking ken: ’n vrou soos Matilda.

      Die koue sypel van buite af die motor binne. Sy wil nie die verwarmer voluit aanskakel nie, uit vrees vir die vaak. Die donker is intenser as gewoonlik. Sou dit wees omdat sy nie meer aan die oop veld gewoond is nie, of omdat sy alleen wakker is? Selfs die motorligte wat die duister deurboor, verlig geensins haar gevoel van verlatenheid nie. Die teenwoordigheid van Deon is egter ’n vertroostende gedagte, al is hy ook op die oomblik onbewus van die werklikheid. Dis nie nodig om stil te hou vir petrol nie, die tenk is nog half en hy sal self daarna omsien. Dis ’n gerusstellende besef.

      Teen halftwaalf begin haar oë brand en haar ooglede word swaar.

      Sy moet skielik stadiger ry vir ’n paar beeste wat langs die pad drentel. Die verandering in spoed laat vir Deon roer. “Irma?” vra hy loom.

      So kinderlik aanhanklik is die woord uitgespreek, dat haar gemoed vol skiet. Sou hy soms, vroeër, in sy slaap so na sy moeder gevra het? Niemand om sy probleme aan te hoor nie; niemand om sy aspirasies te deel nie. Die ouers by die tehuis was goeie plaasvervangers, maar nie sy eie nie. Tillie het geskryf dat hy ’n graadkursus deur middel van korrespondensie volg. Sy het haar voorgeneem om aan hom te skryf, hom aan te moedig en belang te stel, maar het nooit sover gekom nie. Hy kan net sowel eerste skryf, het sy haar dikwels verontskuldig.

      “Dis net beeste. Slaap maar verder,” stel sy hom gerus.

      “Nog nie moeg nie?”

      “Glad nie,” jok sy. Met ’n ligte kreun slaap hy verder.

      Dan is dit weer net die egalige gebrom van die verouderde hoewel sterk enjin, die diep asemhaling agter haar, die effense lamheid van haar voet wat op die versneller moet bly. Verbrands, dink sy dan, dis omdat die sitplek nog al die tyd gestel is vir Deon se langer bene. Haar voet moet half in die lug hang om die versneller te kan bykom. Sy wil nie nou sukkel om die kontrole te vind nie en hou maar so uit. Sou Johan nou ook slaap, met sy steil, ligte kuif ordeloos oor sy voorkop, met die eentonige getik van sy wekker wat versmelt met sy asemhaling? Hoe smag sy daarna om vir altyd by hom te wees.

      Ver vorentoe, noordweswaarts, begin weerlig uitslaan. Miskien sukkel ons nog met ’n nat pad as ons eers van die teer af is, dink sy bekommerd. Dis duidelik dat die onweer nog nie uitgewoed is in die rigting van Wernersdal nie. Dit kan oponthoud beteken. As daar geen teenspoed kom nie, kan hulle teen twee-uur daar wees. Wat ’n droefgeestige tuiskoms. En boonop het Matilda haar seker nog nooit vergeef omdat sy die huis verlaat het nie, buite bereik van die isolasie wat sy so doelmatig op die twee dogters toegepas het, jaar na jaar. Sy was die selfaangestelde hoeder wat hulle moes bewaak teen die versoekinge van die lewe waarin “jou liewe stiefsuster Irma haar nou willens en wetens gewerp het, en mag sy haar deeglik in daardie Sodom vasloop …” Sy kan haar voorstel dat dit die trant van Matilda se jongste onderonsies met Tillie sou wees.

      “Irma …?” Deon se stem is hierdie keer vaster as hy kragdadig СКАЧАТЬ