13 uur. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 4

Название: 13 uur

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157452

isbn:

СКАЧАТЬ die groot palmbome, denne en selonsrose hoeveel jare gelede al geplant? Hy loop agter om die kantoorgeboutjie en dan is die straat se geluide weer terug. In die noordelike hoek van die terrein gaan staan hy en kyk op en af in Langstraat. Dis nog die ou Kaap dié, die geboue so half Victoriaans, die meeste net twee verdiepings, sommige nou in helder kleure geverf, seker om vir die jonges aantreklik te wees.

      Wat is dié vae onrustigheid wat nou in hom lê? Dis nie oor gisteraand nie. Dis nie die ander ding wat hy al ’n twee, drie weke lank ontwyk nie, oor Anna en terugtrek en of dít hoegenaamd gaan werk.

      Is dit die mentorkwessie? Om op ’n moordtoneel te kom staan, jy mag kyk, maar jy mag nie vat nie? Hy gaan sukkel, dit weet hy nou.

      Of miskien moet hy net iets te ete kry.

      Hy kyk suid, na die Oranjestraat-kruising. Net voor sewe op ’n Dinsdagoggend en die straat is besig – motors, busse, taxi’s, bromponies, voetgangers. Die energieke gewoel van middel-Januarie, die skole wat heropen, vakansies verby, vergete. Op die sypaadjie het die moordtoeskouers aangegroei tot ’n klein skare. Twee persfotograwe het ook aangekom, kamerasakke oor die skouers, lang lense soos wapens voor hulle. Hy ken die een, ’n drinkebroer uit sy suipdae, wat jare vir die Cape Times gewerk het en nou vir ’n poniekoerant sensasie jag. Wat een aand in die Fireman’s Arms gesê het as jy die polisie en die media vir ’n week op Robbeneiland toesluit, stort die drankbedryf van die Kaap in duie.

      Hy sien ’n fietsryer wat behendig deur die verkeer vleg, ’n resiesfiets, die onmoontlike dun wiele, die ryer in ’n stywe swart broekie, helder, kleurvolle hempie, die skoene, die valhelm, die fokker het selfs hand-skoene aan. Sy oë volg die fiets tot by die verkeerslig van Oranjestraat met die wete dat hy nooit só belaglik wil lyk nie. Hy voel al klaar simpel genoeg met net die pispot-helm op sy kop. Hy sou dit nie eens gedra het as hy dit nie verniet saam met die fiets gekry het nie.

      Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem, het die hele ding begin.

      Griessel het uit frustrasie vir dok gesê die verlange na die bottel word nie minder nie, want die eerste drie maande was lankal verby, die sogenaamde krisisperiode, en sy smagting was nog net so groot soos die eerste dag. Toe resiteer dok die “dag op ’n slag”-rympie en Griessel sê hy het meer as dít nodig en dok sê: “Jy moet afleiding kry; wat maak jy saans?”

      Saans? ’n Poliesman hét nie ’n “saans” nie. En wanneer hy wel wonder bo wonder vroegaand by die woonstel aankom, dan skryf hy vir sy dogter, Carla, of hy sit een van sy vier CD’s in die rekenaar en hy vat die baskitaar en speel saam.

      “Saans is ek besig, dok.

      “En soggens?”

      “Ek stap partykeer in die park. Daar bo by die reservoir.”

      “Hoe gereeld?”

      “Ek weet nie. Nou en dan. Een keer per week, miskien minder …”

      Die probleem met dok is dat hy welsprekend is. En geesdriftig. Oor alles. Een van daardie positiewe “die glas is halfvol”-ouens wat nie rus kry voor hy jou geïnspireer het nie. “Ek het so vyf jaar gelede begin fietsry, Bennie. My knieë hou nie van draf nie, maar die fiets is sag op ’n ou man se ledemate. Ek het stadig begin, vyf, ses kilo’s ’n dag. En toe begin die ding my vang, want dis lekker. Die vars lug, die reuke, die son, jy vóél die hitte en die koue, jy sien dinge uit ’n ander perspektief, want jy beweeg teen jou eie tempo, dis asof jou wêreld tot ruste kom. Jy’t tyd om te dink …”

      Toe raak hy hier ná dok se derde toespraak meegevoer en gaan soek einde Oktober vir hom ’n fiets. Op sy gewone manier: Bennie Griessel, Bargain Hunter, soos sy tienerseun, Fritz, hom versigtig spot. Eers die pryse van nuwe goed gaan navors by die winkels en twee dinge agtergekom – hulle is belaglik duur, en hy hou meer van die bonkige bergfietse as die maer moffie-resiesgoed. Toe gaan kyk hy by pandjieswinkels, maar alles is afgeleef, goedkoop Makro-gemors, selfs toe dit nuut was. Toe kyk hy in die Cape Ads en hy sien die advertensie – blommerige taal oor ’n Giant Alias, 27 ratte, superligte aluminiumraam, Shimano shifter en skyfremme, ’n gratis saalsakkie met gereedskap, gratis valhelm en “just one month old, original price R7 500, upgrading to DH”, wat die eienaar later vir hom oor die telefoon sê staan vir Downhill, asof hy presies sal weet wat dit beteken. En toe dink hy wat de fok, R3 500 is ’n helse bargain, en wat het hy die afgelope ses maande vandat sy vrou hom uit die huis uit geskop het vir homself gekoop? Niks. Net die sitkamerstel by Mohammed “Love Lips” Faizal se pandjieswinkel in Maitland. En die yskassie. En die baskitaar wat hy vir Fritz vir Kersfees wou gee, nog ’n Faizal-winskoop wat hy toevallig in September al raakgeloop het. Dis al. Noodsaaklike goed. Jy kan nie die skootrekenaar tel nie, want hoe anders moet hy met Carla kontak hou?

      Toe dink hy nie aan Kersfees en al die uitgawes wat nog voorlê nie. Hy stry die fietseienaar met nog tweehonderd rand af en hy gaan trek die geld en hy gaan koop die ding en hy begin soggens ry. In sy ou rugbybroek en T-hemp en sandale en die koddige fokken valhelm en hy kom agter hy bly nie op die perfekte plek vir fietsry nie. Die woonstel is kwartpad teen Tafelberg se hang op. As jy afry see toe, moet jy terug op teen die bult. Of jy kan eers op ry, Kloofnek se kant toe, om later die af te geniet, maar ly sal jy ly. Hy’t dit amper ná ’n week gelos. Tot dok Barkhuizen vir hom die raad van “vyf minute” gegee het.

      “Dis my strategie, Bennie. As ek nie lus is nie, sê ek vir myself: ‘Net vyf minute.’ As ek dan nie verder wil ry nie, draai ek om en ek kom terug.”

      Hy het dit probeer – en nie een keer omgedraai nie. As jy eers aan die gang is, dan gaan jy aan. En einde November, toe raak dit skielik vir hom lekker. Hy het ’n roete gekry waarvan hy hou – net ná ses in die oggend, af met St. Johnsstraat, wederregtelik deur die Kompanjiestuin, voor die oorgretige sekuriteitswagte op diens is. Dan vat hy Adderley en hy waai vir die blommeverkopers by die Goue Akker wat voorraad van die bakkies aflaai en hy ry tot heel onder in Duncanstraat by die hawe, kyk watter skepe vandag by die kaai lê. Dan ry hy deur die Waterkant Groenpunt toe – en al langs die see af tot by Seepunt se swembad. En hy kyk vir die see en die berg en die mense, die mooi, jong, drawwende vroue met lang, sonbruin bene en wippende borste, pensionarisse wat doelgerig stap, ma’s met babas in stootkarretjies, ander fietsryers wat hom groet, ondanks sy primitiewe kleertjies. En dan draai hy om en hy ry terug, sestien kilometer in totaal en dit het hom goed laat voel. Oor homself. Oor dié stad, wat hy vir so lank net van die gatkant af gesien het.

      En oor sy slim aankoop. Toe kom sy seun, Fritz, twee weke voor Kersfees en sê nee, hy’t besluit bass is nie meer vir hom nie, hy wil kitaar speel. “Lead guitar, Pa, jissie, Pa, ons het Vrydagaand vir Zinkplaat gesien, daar’s hierdie lead, Basson Laubscher, awesome, Pa. Effortless. Genius. Dis my droom, Pa.”

      Zinkplaat.

      Hy’t nie eens geweet daar bestaan só ’n orkes nie.

      Dít nadat Griessel al amper twee maande lank die baskitaar wegsteek wat eintlik Fritz se Kersgeskenk moes wees. Toe moes hy weer met Hot Lips Faizal gaan praat, wat op dié kort kennisgewing net een kitaar gehad het, ’n fokken Fender, omtrent nog splinternuut en net so duur. En wat jy vir Fritz gee, moet jy vir jou dogter, Carla, ook stuur in Londen en toe’s hy skielik finansieel in sy moer in, want Anna laat hom onderhoud betaal soos ’n geskeide man en die manier hoe sy haar berekeninge gedoen het, is vir hom duister en hy het ’n sterk vermoede hy word gemelk, hy word geboor, want sy verdien goeie geld as assistent by die prokureurs. Maar as hy sy bek oopmaak, sê sy: “Jy het geld vir drank gehad, Bennie, dit was nooit ’n probleem nie …”

      Die morele hoë grond. Sy het dit en hy nie. Daarom moet hy betaal. Dis deel van sy straf.

      Maar dis nie die ding wat nou hier in sy buik draai nie.

      Griessel СКАЧАТЬ