13 uur. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 3

Название: 13 uur

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157452

isbn:

СКАЧАТЬ Daar’s ’n motorhek daar anderkant, by die kerkkantoor, en die hoofhek hier voor die gebou. Sy moes oor die traliemuur gespring het; dis die enigste manier om hier in te kom.” Vusi praat te vinnig. Hy wys met sy vinger na ’n bruin man wat anderkant die muur op die sypaadjie staan. “Die ou daar … James Dylan Fredericks, hy’t haar gekry. Hy’s die day manager van Kauai Health Foods in Kloofstraat. Hy sê hy kom in met Golden Arrow se bus van Mitchells Plain af en dan stap hy van die stasie af. Hy’t hier verbygekom, vyf oor vyf, iets het sy oog gevang. Toe spring hy oor die muur, maar toe hy die bloed sien, toe loop hy terug en bel die Caledonplein-stasie, want dis die nommer wat hy op speed dial het vir die winkel.”

      Griessel knik. Hy vermoed Ndabeni is senuagtig oor sy teenwoordigheid, asof hy hier is om die swart man te evalueer. Hy sal dit moet regstel.

      “Ek gaan vir Fredericks sê hy kan maar gaan; ons weet waar om hom te kry.”

      “Dis goed, Vusi. Jy hoef nie … ek waardeer dit dat jy my die detail gee, maar ek wil nie hê jy moet … jy weet …”

      Ndabeni raak aan Griessel se arm, asof hy hom gerus wil stel. “Dis O.K., Bennie. Ek wil leer …”

      Vusi bly ’n oomblik lank stil. Dan voeg hy by: “I don’t want to blow this, Bennie. Ek was in Khayelitsha vir vier jaar, I don’t want to go back. Maar dis my eerste … witte,” versigtig, asof dit ’n rassistiese stelling kan wees. “Hierdie is ’n ander wêreld …”

      “Dit is.” Griessel is nie goed met dié soort van ding nie, altyd onseker oor waar die regte, politiek-korrekte woorde lê. Vusi red hom: “Ek het probeer voel of daar iets in haar broeksakke is. Vir ’n ID. Maar daar’s niks. Nou wag ons net vir die patoloog.”

      In die bome sketter ’n voël skerp. Twee duiwe kom land naby hulle en begin dadelik pik-pik. Griessel kyk rond. Daar is een voertuig op die kerkterrein, ’n wit Toyota-mikrobus wat aan die suidekant, teen ’n baksteenmuur van twee meter, geparkeer staan. Die woord Adventure staan in groot rooi letters op die kant daarvan.

      Ndabeni volg sy oë. “Hulle parkeer seker net hier vir die veiligheid,” en hy beduie na die hoë mure en geslote hekke. “Ek dink hulle het ’n kantoor af in Langstraat.”

      “Kan wees.” Langstraat is die hoofkwartier van rugsaktoerisme in die Kaap, jongmense, studente van Europa, Australië en Amerika wat goedkoop blyplek en avontuur soek.

      Griessel hurk weer by die lyk, maar só dat haar gesig weg van hom af lê, want hy wil nie na die verskriklike wond of haar fyn gelaatstrekke kyk nie.

      Sy moet asseblief tog nie ’n buitelandse kind wees nie, dink hy.

      Want dan gaan dinge handuit ruk.

      2

      Sy het oor die Kloofnek-pad gehardloop en ’n oomblik lank besluiteloos gestaan. Sy wou rus, sy wou haar asem terugkry en die angs probeer beheer. Sy moes besluit: Regs, weg van die stad af, na wat die padpredikant as Camps Bay aandui en wat ook al daardie kant van die berg lê, of links, min of meer terug na van waar sy gekom het. Haar instink was regs, weg, verder weg van haar agtervolgers, van die skrikwekkende gebeure van die nag af.

      Maar dit is wat hulle sal verwag, dit is wat haar dieper die onbekende sal inneem, verder van Erin af en sy het links gedraai sonder om verder te dink, haar sportskoene luid op die teer se afdraande. Vir 400 meter het sy aan die regterkant van die dubbelbaanpad gehou en toe het sy regs geswaai, afgeskarrel teen ’n klipperige helling, oor ’n lappie veld, na die normaliteit van Higgovale, ’n woonbuurt hier hoog teen die berg, groot, duur huise met digte tuine en hoë mure. Haar hoop het opgevlam; hier sal mense wees wat kan help, wat skuiling en beskerming en hulp kan bied.

      Die hekke was toe, elke huis ’n fort, die strate verlate so vroeg in die oggend. Die pad het skerp bergop gekronkel, haar bene wou nie meer nie, kon nie meer nie, en toe sien sy die oop hek van die huis regs van haar en haar hele wese het gesmag na rus. Sy het oor haar skouer gekyk en daar was niemand nie. Sy het by die hek ingeswaai. ’n Kort, steil oprit, ’n motorhuis en ’n afdak. Regs was digte struike teen die hoë muur; die huis het links gelê, agter ’n ysterstaafheining en ’n toesluit-traliehek. Sy het in die struike ingekruip tot teen ’n gepleisterde muur, diep, tot heel agter, waar sy onsigbaar van die straat af sal wees.

      Sy het eers afgesak op haar knieë, met haar rugsak teen die muur. Haar kop hang, sy is doodmoeg, haar oë toe. Toe sak sy verder, sodat sy op haar boude sit. Sy weet die klamheid van die bakstene, die verrottende blare gaan haar blou denimkortbroek bevlek, maar sy gee nie om nie. Sy wil net rus.

      Sy het in haar kop skielik weer die toneel gesien wat sy meer as ses uur vantevore vasgelê het. Haar liggaam het geruk van skok en sy het haar oë oopgemaak, want sy kan nie nou daaraan dink nie. Dit is té … alles. Deur die gordyn van diep groen blare en helder, groot rooi blomme het sy ’n motor onder die afdak sien staan en sy het daarop gefokus. ’n Vreemde vorm, slank en elegant en nie nuut nie. Wat sou dit wees, só het sy haar eie aandag van die terreur in haar kop probeer aflei. Haar asem het bedaar, maar nie haar hartklop nie. Uitputting het soos ’n groot gewig op haar gedruk, maar sy het haar teëgesit; sy kon nog nie dié luukse bekostig nie.

      Om 06:27 hoor sy die gehardloop in die straat, meer as een mens, in dieselfde rigting as wat sy gekom het, en haar hart ruk weer.

      Sy hoor hoe hulle na mekaar roep daar buite in die straat, in ’n taal wat sy nie verstaan nie. Die voetstappe verlangsaam en word stil. Sy beweeg, effens vorentoe, soek ’n baan deur die blare om te kan sien, kyk stip na die oop hek. Een van hulle staan daar, skaars sigbaar, mosaïekstukke wat wys hy is swart.

      Sy sit doodstil.

      Sy sien die mosaïek beweeg. Hy loop by die hek in, geluidloos op sy sportskoensole. Sy weet hy sal sy oë laat soek na die wegkruipplekke, die huis, die motor onder die afdak.

      Die vae vorm halveer. Buk hy af? Sodat hy onder die motor deur kan sien?

      Die stukkies wat hom vorm, verdubbel, die buitelyn word groter, hy is besig om nader aan haar te kom. Kan hy haar sien, hier heel agter?

      “Hey!”

      Sy skrik vir die stem, ’n hamerslag in haar bors, sy weet nie of sy op daardie oomblik beweeg nie.

      Die donker figuur beweeg weg, maar sonder haas.

      “What do you want?” Die stem kom daar van die huis af, bo. Iemand wat met die swart man praat.

      “Nothing.”

      “Get the fuck off my property.”

      Geen antwoord nie. Hy staan stil, beweeg dan, stadig, traag, tot sy verbrokkelde vorm wegraak deur die blare.

      * * *

      Die twee speurders deursoek die kerkterrein van die suidekant af. Vusi begin voor, teen die Langstraat-grens met die gepunte barokreling, Griessel agter, teen die hoë baksteenmuur af. Hy loop stadig, tree vir tree, kop omlaag, oë wat heen en weer beweeg. Hy sukkel om te konsentreer, daar is ’n ongemaklikheid in hom, ’n ontwykende ding, vaag en sonder vorm. Maar hy moet nou hiér fokus, op die kaal grond, die graspolle om die bome se stamme, die stukkies teerpaadjie. Hy buk nou en dan om iets op te tel en in sy vingers te hou – ’n prop van ’n bierbottel, twee ringetjies van koeldrankblikkies, ’n geroeste metaalwasser, ’n leë wit plastieksakkie.

      Tot agter die kerk, waar die straatgeraas skielik gedemp is. Hy kyk op na die toring. СКАЧАТЬ