13 uur. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 20

Название: 13 uur

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157452

isbn:

СКАЧАТЬ toe kom Jos Geyser met ’n moerse spoed verby Natasha en hy breek omtrent my deur af en hy sê hy soek vir Adam en ek sê hoekom en hy sê hy gaan vir Adam doodmaak, want hy het Melinda ge-rape. Toe sê ek ‘hoe kan jy dit sê, Jos?’, toe sê hy Melinda het gesê. Toe sê ek ‘wat het sy gesê?’, toe sê hy sy’t gebid en bely oor die Groot Sonde in Adam se kantoor, op die lessenaar, sy’t gesê dit was die duiwel, maar hy wat Jos is, weet van Adam se dinge. En hy gaan hom doodbliksem. Hy was malkwaad, hy’t my amper gegryp, want toe sê ek dit klink nie na rape nie, hy’s hierdie helse groot ou, hy was ’n Gladiator voor hy bekeer is …” En dan laat Mouton weer sy stem sak: “Die storie is, hy kan nie … jy weet … dit opkry nie, oor die steroids …”

      “Dis nie ter sake nie, Willie,” sê Groenewald.

      “Dit gee hom motief,” sê Mouton.

      “Nee, nee …” sê die prokureur

      “Doodbliksem?” vra Dekker. “Dis wat hy gesê het?”

      “Hy’t ook gesê hy gaan hom vrekmaak … nee, hy gaan hom fokken vrekmaak, hy gaan Adam se balle uitsny en hulle bo die platinum-CD in sy voorhuis raam.”

      “Adam se dinge? Na watter ‘dinge’ het Geyser verwys?”

      “Adam is …” En dan huiwer Mouton. “Ek kan nie glo Adam is dood nie.” Hy sit terug en vat aan sy kaal kop. “Hy was my vriend. My vennoot. Ons kom ’n lang pad saam … Ek het vir hom gesê eendag gaan iemand …”

      Daar daal ’n stilte neer. Mouton vee met die agterkant van sy hand oor sy oë.

      “Ekskuus,” sê Mouton. “Dis vir my sleg …”

      Die prokureur steek weer sy lang, skraal hand na sy kliënt uit. “Dis te verstane, Willie …”

      “Hy was hierdie moerse presence …”

      En dan hoor Dekker die hoë, dringende stem van Tinkie Kellerman: “Fransman!”

      Hy kom vinnig orent en loop deur toe.

      “Fransman!”

      “Hier,” roep hy. Hy sien vir Kellerman op die bopunt van die trap.

      “Kom help,” sê sy. “Maak gou.”

      * * *

      Honderd meter anderkant die reservoir draai die paadjie links, bergaf, stad se kant toe, in ’n wye, vlak klofie. Rachel Anderson stap tussen dennebome deur, volg die roete om groot rotsblokke, sien die klipmuurtjie voor haar met die deurgang in die middel en daar voor regs, ’n byna voltooide huis agter ’n groot akkerboom. Die koelte is ’n diep skadukol, ’n plek vir rus, maar eers dink sy aan ’n kraan, haar dors is ’n vuurwarm koors.

      Sy loop verby die motorhuis, haar oë soekend, straat se kant toe. ’n Opgesaagde denneboom lê die dubbelmotorhuis se deur vol, die stompe netjies gestapel. Sy sien die kraan langs die agterdeur van die huis, sy bid dat dit sal werk, sy loop vinniger, buk, draai dit oop. Die silwer water stroom daaruit, vir ’n paar sekondes warm, dan skielik koel. Sy gaan sit op een knie, draai die kraan effens toe en dan drink sy, só, direk uit die tuit uit.

      * * *

      Fransman Dekker het al genoeg deure oopgedwing om te weet jy gebruik nie jou skouer nie. Hy tree terug en hy skop. Dit splinter, maar bly toe. Hy skop weer, twee keer, voor dit breek en net veertig sentimeter oopswaai. Dit is genoeg om die bloed te sien.

      “Ag, liewe Here,” sê Tinkie Kellerman agter hom.

      “Wat?” sê Willie Mouton en probeer by haar verbykom.

      “Meneer, jy kan nie …”

      Dekker is in die badkamer. Hy sien vir Alexa Barnard lê. Hy trap in die bloed en draai haar kaal liggaam om. Haar oë is oop, maar sonder fokus.

      “Ambulans,” roep hy vir Tinkie. “Nou.”

      Hy buk en kyk na die skade. Haar linkerpols is diep gesny, minstens drie keer. Die bloed loop steeds daaruit. Hy gryp ’n kledingstuk wat op die vloer lê en begin dit om die wonde draai, so styf as wat hy kan.

      Alexa sê vir hom iets, byna onhoorbaar.

      “Mevrou …” sê hy.

      “Die ander arm,” fluister sy.

      “Ekskuus?”

      “Sny die ander arm, asseblief,” en sy hou met ’n moeë hand die bottelskerf na hom toe uit.

      * * *

      Sy les haar dors en was die bloed van haar hande en arms en gesig af en dan staan sy op, draai die kraan toe en haal diep asem. Die stad is net hier onder …

      Sy loop om die hoek van die huis, nou minder angstig, haar vrees deur die water getemper.

      En dan sien sy hulle, net twintig tree weg, in die straat. Sy steek vas, skrik met ’n snak. Hulle staan met hul rûe na haar toe, langs mekaar. Sy ken hulle.

      Sy staan versteen, sy hoor die oorverdowende klop van haar hart.

      Hulle kyk in die straat af wat ondertoe loop. Die een draai sy kop, sê iets. Gaan hy haar sien?

      Hy kyk weer vorentoe.

      Sy gee ’n tree agteruit, nog een. Hulle kyk steeds bergaf. Die motorhuis. Met die boomstompe. Sy moet daar in. Vyf tree agter haar. Sy is te bang om van hulle weg te kyk, sy skuifel agteruit, doodbang sy sal op iets trap. As hulle net nie omkyk nie. Sy is langs die kant van die motorhuis, nog net een tree. En dan begin die een omdraai. Die een by wie alles begin het. Die een wat met die mes by Erin gebuk het.

      10

      In die ontbytkamer van die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn sit die negentienjarige Oliver “Ollie” Sands met sy kop in sy hande. Hy is effens oorgewig, rooi hare, sy ligte vel het te veel son gehad en sy hoekige swartraambril lê voor hom op die tafel. Oorkant hom, naby die deur, sit inspekteurs Vusumuzi Ndabeni en Bennie Griessel.

      “Mr Sands has identified the victim as Miss Erin Russel,” sê Vusi, met die foto van die slagoffer en sy notaboek voor hom.

      “Geez,” sê Sands en skud sy kop agter sy hande.

      “He’s been travelling through Africa with Miss Russel and her friend, Rachel Anderson. He does not know where Miss Anderson is. The last time he saw them, was last night in the Van Hunks, the nightclub. In Castle Street.” Vusi kyk na Sands vir bevestiging.

      “Geez,” sê die jong man, laat sy hande sak en trek sy bril nader. Griessel kan sien sy oë is rooi.

      “Mr Sands, you arrived in Cape Town yesterday?”

      “Yes, sir. From Namibia,” die aksent onmiskenbaar Amerikaans, die stem, onvas, emosioneel. Sands sit die bril op sy neus en sy oë knip, asof hy Vusi vir die eerste keer sien.

      “Just the three of you?” vra Griessel.

      “No, СКАЧАТЬ