13 uur. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 15

Название: 13 uur

Автор: Deon Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798157452

isbn:

СКАЧАТЬ vloeistof wat hy versigtig in die glas gooi, drie stewige vingers. Hy hou dit na haar uit. Sy neem dit met hande wat verskriklik bewe. Sy drink, ’n intense, dorstige sluk, en sy maak haar oë toe.

      Griessel loop terug drankkabinet toe en bêre die bottel. As hy weer gaan sit, sê hy: “Ek sal jou nie meer as dit kan laat drink nie.”

      Sy knik net.

      Hy weet hoe sy op dié oomblik voel. Hy weet die drank sal deur haar hele wese vloei, ’n sagte gety van heling wat seerplekke genees en stemme stilmaak, wat ’n silwer, gladde strand van vrede nalaat. Hy gee haar kans; dit verg vier slukke, soms meer; jy moet jou liggaam kans gee om die goddelike gloed deur te laat. En dan besef hy hy staar met ’n sekere intensiteit na die glas teen haar lippe, hy ruik die drank, hy voel hoe sy eie lyf daarna uitreik en hy sit terug in die stoel, hy haal asem, hy kyk vir die tydskrifte op die koffietafel, Visi en House & Garden, twee jaar oud, maar ongelees en uitgestal, tot sy sê: “Dankie,” en hy kan hoor haar stem het sy skerp kant verloor.

      Sy sit die glas stadig neer, die bewing byna weg, en sy hou die pakkie sigarette na hom uit.

      “Nee dankie,” sê hy.

      “ ’n Alkoholis wat nie rook nie?”

      “Ek rook nou en dan.”

      Sy steek vir haarself een aan. Die asbakkie langs haar is al vol.

      “My AA-borg is ’n dokter,” sê hy ter verduideliking.

      “Kry ’n ander borg,” sê sy, ’n poging tot humor, maar dit wil nie werk nie; haar mond trek in ’n ander rigting en dan begin Alexandra Barnard te huil, geluidloos, net ’n pynlike grynslag op haar mond en trane uit haar oë en sy sit die sigaret neer en hou haar palms voor haar gesig. Griessel druk ’n hand in sy broeksak en haal ’n sakdoek uit. Hy hou dit, maar sy sien nie. Haar skouers ruk, haar kop sak, die lang hare val weer oor haar gesig soos ’n gordyn. Griessel sien dit is blond en silwer, ’n rare verskynsel; die meeste vroue kleur hulle hare. Hy wonder hoekom sy nie meer omgee nie. Sy, wat ’n ster was, ’n grote. Wat het haar afgetakel tot hier?

      Hy wag dat die snikke bedaar. “Sy naam is dr. Barkhuizen. Hy’s sewentig jaar oud en hy’s ’n alkoholis met lang hare en ’n vlegsel. Hy sê sy kinders het vir hom gevra hoekom hy rook, toe het hy allerhande redes – dit help hom met stres, dis lekker …” Hy hou sy stemtoon rustig, hy weet die storie is onbenullig, maar dit maak nie saak nie, hy wil net ’n dialoog aan die gang kry. “Toe sê sy dogter dan sal hy seker nie omgee as sy ook rook nie. Toe weet hy hy lieg vir homself oor die sigarette. Toe hou hy op. Vir my was dit anders. Toe ek ophou drink … Ek het net belangstelling in rook verloor. Dit was nooit my nommer een nie. Nou’s ek op drie of vier ’n dag …”

      Sy kyk eindelik op en sien die sakdoek. Sy vat dit by hom. “Was dit moeilik?” Haar stem nog dieper. Sy vee haar gesig af, snuit haar neus.

      “Die drank was. Is. Nog steeds.”

      “Ek sal nie kan nie.” Sy frommel die sakdoek en vat weer die glas, drink daaruit.

      Hy antwoord nie. Hy moet haar nou ruimte gee om te praat. Hy weet sy sal.

      “Nou’s jou sakdoek …”

      “Jy kan dit hou.”

      “Ek sal dit laat was.” Sy sit die glas neer. “Dit was nie ek nie.”

      Griessel knik.

      “Ons het nie meer gepraat nie,” sê sy en kyk iewers in die vertrek.

      Griessel sit stil.

      “Hy kom halfsewe van die kantoor af. Dan kom hy op biblioteek toe en hy staan en kyk vir my. Om te sien hoe dronk ek is. As ek niks sê nie, dan gaan eet hy alleen in die kombuis of hy gaan sit in sy studeerkamer. Of hy gaan weer uit. Hy het my elke aand in die bed gesit. Elke aand. Ek het al gewonder, in die middag, as ek nog kan dink, of dit is hoekom ek drink. Sodat hy nog hierdie een ding vir my kan doen. Is dit nie tragies nie? Breek dit nie jou hart nie?” Die trane begin weer loop. Dit versteur die ritme van haar spraak, maar sy hou aan. “Partykeer, as hy inkom, sal ek hom probeer uitlok. Ek was goed daarmee …Gisteraand het ek … ek het vir hom gevra wie se beurt dit nou is … Jy moet verstaan … Ons het … dis ’n lang storie …” en vir die eerste keer is haar snikke hoorbaar, asof die volle gewig van haar geskiedenis op haar kom lê en die jammerte wel op in Bennie Griessel, want hy sien weer die skim van die sangeres in haar.

      Eindelik druk sy die sigaret dood. “Toe sê hy net ‘fok jou’, dis al wat hy ooit gesê het en toe ry hy weer. Ek het vir hom geskree ‘ja, los my hier’, ek dink nie hy het gehoor nie, ek was dronk …”

      Sy blaas weer in die sakdoek. “Dis al. Dis al wat ek weet. Hy’t my nie in die bed gesit nie, hy’t my daar gelos en vanoggend, toe lê hy daar …” Sy tel die glas op.

      “Die laaste woorde wat hy vir my gesê het. ‘Fok jou’.” Nog trane.

      Dan drink sy die laaste bietjie vloeistof daaruit en kyk met groot fokus na Griessel. “Dink jy dit kon ek gewees het wat hom geskiet het?”

      * * *

      Die mollige meisie agter die ontvangstoonbank van die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn kyk na die foto wat die konstabel uithou en sy vra: “Hoekom lyk sy so snaaks?”

      “Want sy is dood.”

      “O, Liewe Vader.” En dan sit sy twee en twee bymekaar en sê: “Was sy die een vanoggend, hier by die kerk?”

      “Ja. Herken jy haar?”

      “O, Liewe Vader, ja. Hulle het gister ingekom, twee Amerikaanse meisies. Wag …” Die mollige meisie slaan die registrasieboek oop en haar vinger loop met die kolom af. “Hier is hulle, Rachel Anderson en Erin Russel, hulle is van …” Sy buk nader om die klein skrif van die adresse te lees. “West Lafayette, Indiana. O, Liewe Vader. Wie’t haar doodgemaak?”

      “Ons weet nog nie. Is hierdie een Anderson?”

      “Ek weet nie.”

      “En die ander een, weet jy waar sy is?”

      “Nee, ek werk dagskof, ek … Kom ons gaan kyk, hulle is in kamer sestien,” en sy slaan die registerboek toe en loop vooruit, in die gang af en sy sê: “O, Liewe Vader.”

      * * *

      Hy kry met versigtige vrae inligting oor die vuurwapen uit haar uit. Dit was haar man s’n. Adam Barnard het dit in ’n kluis toegesluit, in die kamer. Hy’t die sleutel by hom gehou, seker omdat hy bang was sy sal in haar dronkenskap iets onbesonne daarmee aanvang. Sy sê sy weet nie hoe dit langs haar op die mat beland het nie. Sy sê dalk was dit sy wat hom geskiet het, sy het genoeg rede gehad, genoeg verwyt en selfbejammering en haat. Daar was tye dat sy hom dood gewens het, maar haar eintlike fantasie was om haarself dood te maak en hom dan te sien: Hy wat om halfsewe in die aand by die huis aankom en die trappe oploop en haar daar kry, leweloos, en by haar lyk buk en haar om vergifnis smeek, huilend en gebroke. Maar, sê sy met swaar ironie, dié twee dinge wou nooit saamwerk nie. Jy kan niks sien as jy dood is nie.

      En dan sit sy net en eindelik fluister hy “Soetwater” en sy reageer nie; sy skuil net agter die hare vir ’n ewigheid tot sy die glas stadig na hom toe uithou en hy weet hy sal nog moet СКАЧАТЬ