Название: Dwaalpoort
Автор: Alexander Strachan
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624051138
isbn:
In die sitkamer het ek my hand uitgesteek om die radio aan te skakel, maar dit dadelik weer teruggetrek toe die sinkplate op die dak kraak. Dis hoe hulle jou gewaarsku het dat Sondag ’n stemmige dag was.
My pa was slimmer as die ander boere in die kontrei. Hy het ’n aanleg vir tale gehad en as ons die lang pad met die bakkie gevat het, het ons vasvra gehou om die tyd om te kry. Uchakijana vir stokstertmuishond, het hy my die soveelste keer met ’n woord getroef. Ek het voor my in die pad gekyk en die telefoonpale het by ons verbygeflits. Ukunquma ngentambo, hang met die doodstraf, het hy my skrikgemaak om my aandag te kry. Maar hy het gelag. “Toemaar, dis net ’n grap.”
Op die dorp het hy nog ’n huis gehad waar hy geslaap het as hy tot laat in die aand vergaderings moes bywoon.
Sondagmiddae het hy altyd op die voorstoep met sy koerant gesit; hy het nie my voetstappe op die plankvloer gehoor nie. Van waar ek in die deur gestaan het, kon ek net die kant van sy gesig sien. Ek het na hom gestaan en kyk soos ek hoeveel keer in my latere lewe sou doen. Die man wat net oor dinge gepraat het wat nie saak gemaak het nie. Daar was ’n effense frons op sy voorkop. Hy was nie ’n mooi man nie – hy was Mafika.
Hy het die koerant laat sak. “Rentia?”
Ek het met my hand opgewys na die kloof. “Emmarentia!” het my pa se stem uit my kindertyd gekom – dis hoe hy my genoem het wanneer hy ernstig was. “Bly weg daar!”
Bedags wei die wit hartbeeste daar – hoog in die kil, dun lug, tussen die diep klipskeure bo-op die spelonke met die Boesmantekeninge: die hol aarde waar jy nooit alleen ingaan nie, maar altyd saam met iemand anders en met ’n gerf brandende dekgras in jou hand.
Altyd ’n bietjie dieper in. Teen die rotswande swem die geelvisse stroomop in Dwaalspruit se kuile en ’n entjie verder ruik ’n rooibokram aan ’n bronstige ooi. Weer kronkel die spelonk. Die strepie lig by die bek raak al yler en jy steek vroegtydig ’n nuwe gerf aan die brand: die mantis – die eerste mens? Nog ’n paar treë vorentoe en dan verstikkend in die skroei van die vlam terwyl die vlermuise vervaard om jou kop begin uitvlieg: die verbode wit portret van Mhlophe self! Die tekening wat geen vrou mag sien nie.
Op die stoep het my pa sy koerant gelig. Sy oë het na die woorde voor hom gekyk, maar ek het geweet hy lees nie. Hy het die koerant langs hom op die klipvloer neergesit en opgestaan. “Die vee behoort vanjaar goeie pryse te haal,” het hy gesê en met die stoeptrap afgestap na die skure toe. Ek het hom agterna gekyk tot by die rondawel waar hy met die voetpaadjie weggedraai het na die familiekerkhof toe, waar oupa Lood toe ook gelê het.
By die veiling het dit altyd na stof en bees geruik, terwyl Bullet en Julius Nkosi die beeste volgens grootte en ras in lotte gesorteer het. Toe begin die afslaer se stem sing, maar die bod op die eerste paar lotte het my pa net so van die hand gewys. “Meneer die afslaer,” het hy gevra, “dink jou kopers miskien Dwaalpoort het nie weiding nie?”
Deur die openinge van die teerpale het ek gesien hoe my pa se lyf Mafika word. Hy het meteens net anders gelyk. Reg voor jou oë, terwyl jy nog vir hom gekyk het, het hy sy plaasnaam geword.
Ek het die teerpale geruik toe Mafika vir Bullet-hulle skreeu om op te hou uitkeer. Die beeste het blasend in die hoeke van die hokke saamgedruk en ek het gesien hoe Julius natgesweet in die beesmis gaan staan. Ek het geweet sy kop is lankal nie meer by Dwaalpoort se beestroppe nie. Sy gedagtes het baie verder as die plaas gestrek. Eintlik het dit al kleintyd begin toe hy die gravering op die groot antieke vertoonkas in die eetkamer met sy hande bevoel het wanneer sy ma van die statte af gekom het om huis skoon te maak. Toe al het sy kop verder as Dwaalpoort, na die oorkant van die see begin mik, terwyl sy ma se bont rok om die stoele swiep.
“My kopers warm nog net so ’n bietjie op, oom Ludwig,” het ek die afslaer se stem gehoor. Hy het sy hande senuagtig teen mekaar gevryf, maar sy stem het hierdie keer heelwat langer gesing.
Toe die hamer val, het Mafika geknik.
Sy vetosse het hy gebêre vir die laaste lot – tien jaar oud, nooit onthoring nie. Die veewagters se voorslae het in die stof agter die rooiblink velle geklap terwyl hulle die beeste vorentoe dryf. Die osse het met die kop skuins in die drukgang afgekom, want daar was nie plek vir hulle horings nie.
Almal het geweet hier kom ’n ding.
Toe die hek agter die osse toeklap, het die veewagters hul swepe laat sak en met hul arms op die teerpale gerus. Voor hulle het die beestrop bly rondmaal. Die trop wat hulle onder Mafika se hand in die veekraal van hul ma’s afgespeen het terwyl die gebulk drie nagte lank oor Dwaalpoort se vlaktes gehang het. Die trop wat hulle vroegsomer te perd met swepe teen die hange uitgedryf het op boontoe, suurveld toe, en jaar na jaar vroegwinter weer afgedryf het na die vleie se soetveld.
In die verkoopsring het die werker in die oorpak, wat die vee aanhoudend moes ronddraai vir die kopers om beter te kon sien, op die nat beesmis gegly, maar betyds teen die veiligheidsleer uitgeklouter.
Zulamfula, rivier wat kronkel! het die veewagters Dwaalpoort se Zulunaam uitgeroep.
Onder in die ring het die osse se horings teen mekaar gekap; hulle het aan die teerpale geruik, hul koppe weggeruk en deur die neus gesnork. Die kopers in die voorste ry stoele het gekoes vir die slym wat spat. Dwaalpoort se uitsoeklot, bestem vir vanaand se streeksnuusaankondiging oor die radio.
Die afslaer het vir ’n openingsbod geroep en uit die koperstoele het ’n ry hande gelyk opgeskiet. Hy het heen en weer gekyk, asof hy ’n oomblik nie geweet het waar om die eerste bod te vat nie. Toe word sy stem ’n grammofoon. Links en regs het hy met sy hand gewys soos hy elke keer ’n bod vat. Mafika se gesig het niks gewys nie, terwyl die hamer vir die soveelste keer in die lug gehang het. Maar weer het daar ’n hand opgeskiet. Vir die laaste keer. Toe val die hamer. Die afslaer het omgedraai en sy hand uitgesteek. “Geluk, oom Ludwig.”
Mafika het die rand van sy vendusiehoed gelig, die een met die smal rand met die klein tarentaalveertjie in die band. Toe die osse deur die hek in die gang af verdwyn, het ek omgedraai en na die bakkie geloop.
Daai jare sou Julius-hulle vooruit met die groot trok gery het. Ons sou nie dadelik teruggaan plaas toe nie, maar net Bullet kon saam met my pa by die kroeg ingaan, selfs al was hy nog onder die ouderdom. Ek moes in die bakkie wag. Natuurlik was ek skaam die ander leerlinge sien my, ek was darem al ver op hoërskool. En hoe kry jy dit reg om in ’n plaasbakkie vol vendusiestof na iets te lyk? Ek het my lyf klein gemaak op die sitplek en my verbeel ek drink in die dorp se eerste koffiekroeg gekleurde koeldrank deur ’n strooitjie. Maar toe sien ek die stof onder my naels en ek gaan sit sommer op my hande.
Deur die oop kroegdeur kon ek inkyk. Oral het rugbydasse en pette gehang, en ’n pooltafel heeltemal uit plek teen die oorkantste muur voor die dik portretrame wat die storie van die Britse inval op die dorp vertel het . . . die bebaarde Boere met hulle opslaanhoede en dan die Britse offisiere in hul netjiese uniforms met hul snorre weggekam. Boer of Brit? Ek kon dit nie help nie, albei was vir my ewe grillerig. Was hulle dan in Henriette se tyd aantreklik?
Na ’n ruk het ek die cubbyhole oopgemaak – my pa se papiere, vreemde kwitansies wat ek eerder teruggesit het.
In die kroeg het Bullet en my pa skouer aan skouer gesit en die kroegmeisie het afgebuk om die ysblokkies op te tel wat op die vloer gerol het. “Dubbels!” het ek my pa se stem hoor roep. “Op Dwaalpoort se СКАЧАТЬ