Название: Dwaalpoort
Автор: Alexander Strachan
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624051138
isbn:
Die Marquis de Sade. ’n Vreemde naam tussen die plaasmense. Hier en daar het ek tog iets op die rakke herken. Mary Shelley se Frankenstein. Met wie het hy hierdie belangstelling gedeel? The Piano Teacher; Darkness at Noon. Ek het by studies verbygeloop oor tatoeëring, astrologie, dobbelary, taalvaardigheid en pornografie. Plek-plek het ek ’n boek uitgetrek. Ek het Dracula geëien. Sekere paragrawe was gemerk; party reëls was onderstreep . . . Lolita van Nabokov. In die kantlyn het ek Mafika se handskrif gesien.
Hy het soms op boeredae gepraat, maar min van sy toesprake het ooit die boeretydskrif gehaal. Seker oor die kruheid daarvan. Partykeer het hy probeer om snaaks te klink, soos in sy beskrywing van die draaie van beeshorings, maar ek twyfel of dit in almal se smaak sou val. Die opvolg was darem ligter en opgeruimder – ’n benaming van die velkleure in ’n Nguni-beestrop.
Terwyl ek deur die rakke gevroetel het, het een van die kleiner stapels papier op die vloer geval: ’n beskrywing van die wildvangoperasies op Dwaalpoort. As mede-eienaar en wildbestuurder het dit dadelik my aandag getrek. Ek het dit opgetel en deurgeblaai. Bullet se hand, maar Rentia se handskrif. Hier en daar het ’n woord vanself uit die papier na my opgespring. Jeepers! Die vloekwoorde wat Rentia doodgetrek het, wou steeds nie gaan lê nie.
Ek het met die papier voor die rekenaar gaan sit en dit begin oortik. Hierdie stuk skryfwerk was in elk geval onder meer as een hand deur, het ek besluit, daarom kon dit aan niemand spesifieks behoort nie. Behalwe miskien aan Dwaalpoort. En hoe de hel kan ’n plaas nou outeursreg afdwing?
Miskien sou ek dit iewers in ’n wildtydskrif onder my naam kon publiseer.
Wildhervestiging? Wie weet? Dalk was dit net die ding om die jagsafari’s vanuit ’n moderner hoek op die kaart te plaas: omgewingsvriendelik – dís mos die buzzword wat nou oral so aandag trek. Toeriste hou mos daarvan om deel te voel van iets avontuurliks wat hulle nie elders kan beleef nie; meer nog as daar ’n lekker vet Afrika-kleur deurslaan.
Terwyl ek getik het, was dit nie regtig moeilik om my in die rol van wildvanger in te leef nie; ek het die woorde mos al vantevore gehoor.
Dis soggens vroeg op en skemerdonker wanneer ons die laaste bokke van die dag agterop die trok gekalmeer en in lotte gesorteer het. Dan word daar ’n paar drinks op die stoep gemaak, die volgende dag se vangs word noukeurig beplan en almal gaan vroeërig slaap. Dis ons program vir die volgende twee weke.
Vir ander dinge is daar dus nie veel tyd nie. Behalwe die bietjie geselskap in die middel van die dag wanneer ons op die plaasstoep op matrasse lê en rus. Dis te warm om te vang, die wild in die veld moet in elk geval settle en die vangers kla oor seer lyf. Oor hierdie lui, vervelige uur wanneer alles meteens tot stilstand gekom het, is die enigste geluid die geroep van die umrabaraba-spelers wat hul kleingeld in die skadu van die soetdorings verwed. Of iemand wat nie sy lê op die stoep kan kry nie en opstaan om in die plaaspad te gaan skop om te sien of die wind nie al weer gedraai het nie.
Ons is ’n groot span: daar is die helikoptervlieënier (bekend as die pilot), die wildvanger, die wildvanger se assistent en dertig vangers. Soos die bokke in die vangtregter afbeweeg, word die een gordyn na die ander agter hulle toegetrek sodat hulle nie kan omdraai nie. Die vyfde gordyn is die laaste een. As jy hom getrek het, jaag jy die wild teen die ramp op tot binne-in die vragmotor. Die bokke moet heeltyd hulle vorentoe-momentum behou; die laaste ding wat jy wil hê, is dat hulle skielik omvlieg en jou gaffel of trap.
In hierdie oomblik van groot adrenalien gryp jy instinktief terug na vergete tye toe jy as kind beeste in die drukgang ingejaag het. Lé phambili, doer voor! Suka la kimi, weg hier by my! en Phakathi, binne! So jaag jy die bokke in Zulu teen die ramp op.
Die vragmotor se staaldeure klap toe en ’n stilte sak meteens oor die boma neer. Almal lê nou weer laag terwyl die tjopper die volgende klompie wild in die veld gaan aankeer. Hier by die vangtregter kan jy niks sien nie; jy hoor net die aanhoudende gedruis van die tjopper iewers in die agtergrond. Maar geen bokke kom in sig nie; jy kan ook nie loer wat aangaan nie. Later kan jy die gewag nie meer uitstaan nie.
“Wat doen die fokker?”
“Hy jive,” roep die wildvanger terug.
Ons kan nie sien nie, ons hoor net. Daarom is dit eers tydens die lui uur van die dag dat jy op die stoep uitvind wat hy bedoel. As die bokke nie by die bek van die tregter wil in nie, dan sak die helikopter tot op hulle vlak; hy hang roerloos in die lug met net sy stert wat heen en weer beweeg; so jive hy.
5. RENTIA
Die spaarkamer het skoon beddegoed en handdoeke gehad. Daar was nie veel meer wat ek vir die gaste kon voorberei nie en ek het na die beeskraal geloop, my teen die klipmuur opgetrek en in die son gesit met my bene wat teen die growwe muur afhang. Na ’n rukkie het die akkedisse weer uit die skeure gekom.
Ek kon onthou hoe ek as kind gesien het hoe hulle die beeste by die drukgang met rieme op die grond neergetrek het. Hulle het merke in die ore gesny, die bulkalwers gekastreer, die horings geknip en die bloed en groei met witwarm ysters doodgebrand sodat die reuk van geskroeide hare en vel tot in die huis gedra het.
’n Ent ondertoe het ek soos baie keer in die verlede op die opstal afgekyk. Aan die stoepbalke het geroeste paraffienblikke gehang waaruit varings na die vloer gerank het. Bo teen die dak het modder vasgesit. Die swaeltjies het jaar na jaar teruggekom om hul neste te bou met die geel klei wat hulle onder in Dwaalspruit gaan haal het. Party oggende het daar eierdoppe op die vloer gelê, ander kere ’n dooie voëltjie, die maag nog deurskynend; swart vlieë het gepak om die groot, toegeknipte oë wat nooit sou oopmaak nie.
As jong meisie het ek wyd getrap om die plasse water wat uit die paraffienblikke drup ná die plante natgegooi is. Ek wou nie die blare teen my voel nie – soos lang, harige vingers wat na my bene gryp.
Amadlozi vir voorvaders, het my pa gesê. Ibululu vir pofadder; umbani vir weerligstraal; umhlolo vir slegte voorteken. Die bakkie het teen die opdraande uitgeskiet en ek het diesel en uitlaatgas geruik.
Sondagmiddae het ek op die werf rondgedwaal. Dis hoe ek op Henriette se dagboek afgekom het: tussen die stapels boeke wat geslagte lank ongelees in Dwaalpoort se rakke gestaan het. Ek het dit skelm op die voerbale in die stalle gesit en lees, en dit op die muur gebêre wanneer my pa van die huis af geroep het. Partykeer het ek dit voor in die bakkie by die vendusie gelees . . . die konsentrasiekamp, die sweet aan haar lyf op die kampbedjie in die vreemde offisier se tent, en die hartseer deuntjie van die music-box met die ballerina op die seepkissie langsaan.
Saans het ek in die gang voor Henriette se portret gestaan. “Oerhoer,” het oupa Lood se stem meteens agter my gepraat.
Ek het omgeskrik vir die vreemde woord, maar oupa Lood het my nie raakgesien nie, hy was besig om met homself te praat. Ek het saggies teruggestaan op die plankvloer, want die laaste ruk was ek al skrikkeriger vir hom – dit was nie meer lank voor hulle hom na die familiekerkhof sou dra nie. Wanneer ek in die gang af geloer het, kon ek hom gebukkend voor die portrette sien staan. Dan het ek óm die huis na die voorstoep geloop, maar wanneer ek by die voordeur inloer, het hy nog altyd op dieselfde plek gestaan.
Ek het die dagboek stadig, stukkie vir stukkie in my eie handskrif begin oorskryf en dit met ougroen materiaal oorgetrek sodat my boek nes Henriette s’n gelyk het. Soms het ek dit tussen my knieë vasgeknyp en gedink hoe eensaam sy in die kamp was toe die ander Boerevroue haar verstoot het.
Die nagte op die plaas was lank. Met die oorskryf van die dagboek het ek Henriette probeer lewend maak, probeer skryf hoe dit regtig moes gewees het, en dalk ’n bietjie aangedik in die proses.
Partykeer СКАЧАТЬ