Dwaalpoort. Alexander Strachan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dwaalpoort - Alexander Strachan страница 15

Название: Dwaalpoort

Автор: Alexander Strachan

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624051138

isbn:

СКАЧАТЬ vinger het amper desperaat om die sneller gekrul. Toe klap daar ’n skoot. Die koei se knieë het geknak en sy het in haar spore neergeval. Ek het half verdwaas na die geweer in my hande gekyk. Ek het dan nie die skop gevoel nie.

      Die spoorsnyer het na die bok geloop, sy pinkie in die koeëlgat gedruk en sy kop geskud. Toe sien hy iets anders in die sand raak. Weer ’n bokspoor! Hy hoef nie eens die naam te genoem het nie, ek het klaar geweet wat hy gaan sê.

      By die hek het ek hom afgelaai en alleen boskamp toe gery met my hande styf om die stuurwiel geklem. Die jagter het in die kamp se opening vir my gewag. Toe ek stilhou, het hy agterop die bak gekyk en liggies deur sy tande gefluit. “Magtig, sy’t my heeldag laat worry!” Dit het meer geklink of hy met die bok praat as met my. Hy het afgebuk en die koei op haar neus gesoen. Toe roep hy sy maat. Hulle het die bok se slap nek in die regte hoek vir die foto gedraai en saam met haar agterop die bak geklim.

      Ek het op die sand rondgekyk – halfgeëte stukke steak, pap, verkoolde aartappels. ’n Paar piskolle. Niks anders nie. Ek het bly wag. Maar hulle het nie die veghoender uit die tent genooi vir ’n foto saam met die bok nie.

      Toe ek na my bakkie loop, kon ek nie help om weer ’n keer om te kyk nie.

      ’n Ent weg het die jagter in die sand geskop-skop. “Die vlag is af,” het hy gesê. Hy het in sy vuis gekug, eers na die tent gekyk en toe reguit na my. “Ons gee nie om om te deel nie. Ek het gister mos al gesê ons gaan fifty-fifty. Ons kan die bok se prys sommer hier regmaak.”

      Sy oë het my bly nooi en my keel het skielik droog gevoel. Toe sien ek die beweging oor sy skouer. Die veghoender het in die tent se deur gestaan. Ek het in my spore gevries terwyl sy geruisloos uit die skaduwee tot in die laatmiddagson getree het. Sy was nog jonger as wat ek gedink het. Dit was eintlik of ek haar nou eers behoorlik gesien het. Die ontmoeting in die veld was te vinnig, te verskrik. Hier het sy nou reg voor my gestaan. So naby dat ek selfs die sagte geklop van die slagaar onder die sweet teen haar keel gesien het.

      My oë het afgesak, al laer. Ek kon haar ruik – ’n reuk van seil en sweet. Ek het afgekyk, by haar lyf verby tot by haar skraal voete. Maar dit was haar oë wat my weer laat opkyk het.

      Iewers het ek hulle al gesien. Nie vroeër die middag in die veld nie. Dit was iewers anders. ’n Kyk wat deur jou gesny het. My mond het nog droër gevoel, maar sy het reguit gekyk, sonder huiwering, asof sy niks vra nie, niks wegsteek nie. Toe beweeg haar lippe van mekaar af. “Henning,” het ek haar hoor sê.

      Met die terugtree, het ek oor die stomp agter my gestruikel.

      Op die werf het ek langs die stoep gestop. My hande het bewerig gevoel terwyl ek in die sitkamer vir my ’n glas whisky skink. Ek het water op die kabinet gemors en die drank afgesluk sonder om ys by te gooi.

      In die badkamer het ek uitgetrek en my natgeswete klere in ’n bondel in die hoek ingeskop. Onder die stort het ek die seep gevryf oor die droë bokbloed wat aan my vel gekleef het. Ek het die water groter oopgedraai en die doringskrape op my arms het al meer begin brand. Ek het agteroor geleun en die seep al harder oor my maag ingevryf. In my slape kon ek die are voel klop. Die seep het wit op my maag geskuim. Onder die skuim het die bloed vloeibaar geraak, dit het onder my voete in die dreineerpyp afgeloop.

      Die vinnige whisky het my naar gemaak. In die stoepkamer het ek die pyltjies uit die bord agter die deur getrek. Ek het my oë geknip en na die middel van die bord gemik. Die veghoender se naeltjie. Ek het die bord hier en daar getref, al die pyltjies het skeef ondertoe gehang.

      Toe ek op die bed gaan lê, het ek my met die draai van die wind ’n roep uit die boskamp verbeel. Net toe ek wou insluimer, was daar kopligte op die werf. Hulle wou ’n bottel brandewyn ruil vir flitsbatterye.

      Die jagter het hom teen die kant van die bakkie gestut. “Jy moet hierdie nuwe soort apparate sien,” het hy gesê. “Hy’t ’n groen lig vooraan. In die donker kan jy die skynsel deur haar maagvel sien.”

      Ek het nie die bottel brandewyn gevat nie. Ek het niks gesê nie; spens toe geloop om die batterye te gaan haal. Met die terugkom het ek in die gang vasgesteek. Agter die portretglas het ek Henriette se oë gesien.

      My hele lyf het koud geword.

      Die vaak het weggebly. Later die aand het ek opgestaan en weer ’n keer deur die gang geloop. Nog terwyl ek dit gedoen het, het ek geweet dis kinderagtig. Stupid. Maar sonder om reguit vir haar te kyk, het ek my hande uitgesteek en die portret afgehaal. Ek het dit op die vloer neergesit, met die gesigkant na die muur gedraai. Toe het ek weer op die bed gaan lê.

      Iewers deur die nag het die weer verander; dit het aan die vensterrame geruk. Eers net wind, maar toe begin dit saggies reën.

      Toe ek die volgende oggend by die boskamp kom, was die jagters besig om beddegoed uit te skud. “Ons het klaar gejag. Ons geld is op.”

      Die veghoender? het ek gewonder. Was sy nog in die tent? Maar die jagters was haastig; dit was eintlik of ek in hulle pad was, het ek gedink toe ek terugry.

      Deur die kombuisvenster het ek gesien hoe hulle die bakkie voor die slagkamer stop sodat die werkers die karkasse agterop kon laai. Dit was mistig op die werf en ek kon nie binne-in die bakkie sien nie. Die twee jagters het na die huis aangestap. Op die stoep het ek vir hulle die vervoerpermit uitgeskryf, terwyl hulle vir my ’n pakkie note uit ’n koevert afgetel het. Toe die jagter dit vir my aangee, het hy vir my geknipoog, maar ek kon sien hoe hy sy rug styf maak. “Twee rooibokke,” het hy gesê, “dís mos wat ons kom jag het.”

      Ek het nie gekibbel nie; ek het die geld gevat. Toe is hulle weg en die bakkie het om die hoek van die skuur verdwyn.

      In die gang het ek die portret teruggehang. Wat de hel was dit gisteraand met my? Helder oordag was die portret glad nie intimiderend nie. Ek het weer op die stoep uitgeloop, maar my hande het steeds na iets bly soek. Ek het die bakkie se sleutels gaan haal en opgery boskamp toe om te kyk hoe hulle dit agtergelaat het. Weer die stewelhak in die pad. Ek het nie stilgehou nie; ek het net verbygery.

      Daar het meteens ’n stilte oor die plaas neergesak.

      Die boskamp het vreemd gelyk, so sonder die mense. Hulle het ’n halwe bottel brandewyn vergeet wat agter ’n stomp ingerol het. In die tent het die matrasse leeg gelê op die beddens, hier en daar ’n leë bierbottel, ’n flentertjie rooi materiaal in die hoek. Ek het dit opgetel. Toe gaan kyk ek by die stort. Plassies water het op die sementvloer gelê. In die veldtoilet het ek doodgedrukte sigaretstompies gekry.

      Ek het op die stomp by die vuurmaakplek gaan sit. Onder was die kole nog effens warm. Ek het die bottel brandewyn oopgemaak en vir my ’n dop in die blikbeker geskink. Die skerp reuk het in my neus opgewalm. Ek het ’n sluk gevat, gehoes en met die stukkie onderklere tussen my vingers gespeel.

      Die weer het effens gelig en die son het uitgekom.

      Langs my het die spoor vars in die sand gelê. Ek het ’n grashalm opgetel en stadig, versigtig aan die spoor se kante begin krap . . . ek het nie die voetstappe gehoor nie, net die donker skaduwee gesien wat oor die spoor val.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив СКАЧАТЬ