Название: Dwaalpoort
Автор: Alexander Strachan
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624051138
isbn:
Die kombuisdeur was toegetrek. Hoekom het Henning nie uitgekom nie? Hy was die voorafgaande ruk dan so opgewonde oor die gaste se koms, maar toe hulle daar is, was hy skielik nêrens te sien nie.
Die hings het my steeds aan die toom bly terugtrek. Ek het half versteek agter die muur gestaan en die gaste het my nog nie opgemerk nie. In die agtergrond kon ek die honde hoor blaf.
Die son het skerp op die werf geval en toe die vrou haar lyf draai, moes ek my oë twee keer knip. Het ek my verbeel ek sien iets bekends in die swaai van haar heupe? En in die man?
Daar wás iets in die vrou se stap, ek het my nie misgis nie – dit was nie die eerste keer dat sy op Dwaalpoort kom nie.
Die honde se pote was heeltyd teen die varkdraadheining en die reuns het kort, geel strale teen die hoekpale gelos.
Toe sien die man my raak. Hulle het oor die werf na my toe aangestap gekom. Dit was te ver om te hoor wat hulle praat, maar ek het nie meer vir die man gekyk nie, ek het na die vrou bly kyk – sy was soveel jonger as ek.
“Jurgens,” het die man homself voorgestel. Hy het na die vrou gedraai. “Anne.”
Sy het haar hand na my uitgesteek en ons het ’n oomblik so stilgestaan. Miskien was dit omdat ek natgesweet was, maar haar hand was koud in myne. Ek het die greep van haar skraal vingers gevoel terwyl ek na haar hoë wangbene kyk. Haar oë het wyd uitmekaar gesit en dit het gelyk of sy wil glimlag.
Sonder om ’n woord te sê, het sy by die stal ingestap. Dit was onverwags, vreemd; ek het haar tog nie ingenooi nie. Sy het eers aan die klipmuur gevoel, toe het sy opgekyk na die dak.
“Dit was die eerste opstal,” het ek gesê. “Henriette s’n. Daar is later ’n ent vorentoe gebou. Toe het hierdie die stalle geword. Elke geslag het verder aangebou. Dis hoekom die hoofhuis so groot is.”
Sy het haar kop geknik sonder om iets te sê. Sy het steeds nie na my omgekyk nie en ’n ruk het sy glad nie beweeg nie. Het sy gewag dat haar oë aan die skemerte gewoond raak? Toe draai sy om.
Sy het uitgestap en haar hand op Nag se rug gesit en ek het haar geverfde naels soos ’n wit flits in die son gesien. Ek het my hand teruggetrek, want dit het gelyk of sy die teuels by my gaan vat. Die hings het doodstil gestaan, asof hy in sy spore gevries het. ’n Siddering het deur sy lyf getrek en hy het sy kop laat hang soos ’n perd wat voor die inbreek te lank gekniehalter was. Die vrou het haar hand van die perd afgelig en na die huis gekyk. Henning? het ek bly wonder. Hoekom vat hy so lank om uit te kom?
Op die draad het die wasgoed liggies in die wind gewapper. Hoekom het ek dit skielik raakgesien? Juis tóé? En hoekom was ek verleë daaroor? Langs my het die man gekug. Het hy my ongemak gesien? “Ek en Anne sien al lank uit na die naweek,” het hy gesê.
Vir die eerste keer het ek direk na hom gekyk. Hy het nie regtig gelyk na ’n jagter wat ’n bok kom skiet het nie. Ek kon ’n effense afgematheid onder sy oë sien. Miskien was dit net die moegheid van die ver pad, maar dit was nogal moeilik om hom met ’n jaggeweer in die lang tamboekiegras met die steekvlieë voor te stel. Maar daar was ’n meedoënloosheid in sy kyk. Dit was die enigste woord waaraan ek kon dink om dit te beskryf. Die vreemde man aan wie se linkerkant ek my geposisioneer het en vir wie ek die volgende aande ’n beker koue water op sy bedkassie sou neersit. Vroeg soggens sou ek sy hoes in die gang hoor.
Ek het afgekyk na die leisels in my hand. Ná die harde perderit was my hande nie skoon nie en ek het die klam, sagte leer met my vingers opgewen. Toe ek opkyk, het my oë die vrou s’n ontmoet. Haar lippe het effens van mekaar af beweeg, asof sy iets wou sê. Maar voor sy kon praat, het ek oor haar skouer gesien hoe die kombuisdeur oopgaan.
8. HENNING
Die regmaak vir die jag het ’n klomp ou goed in my losgemaak. Terwyl ek in die studeerkamer op Van der Beul gewag het, het my gedagtes bly terugtoer na daai naweek . . . Skielik het die spoor voor my in die sand gelê. Ek het my hand uitgesteek en daaraan geraak. Die tweede toon was langer as wat ek gedink het. Maar watse klere het sy gedra? Min? Amper zero? Ek kon die skelm vonkel in die jagter se oog onthou, maar ek het wragtig nie sy hele storie geglo nie. Stadig het ek op die spoor begin loop, tussen die bossies deur tot by die klip waarop sy gesit het. Daar was ’n nattigheid op. ’n Bloedvlek? Shit. Ek het daaroor gevee en my vinger in die lug gehou. Het dit dalk iets met die boskamp te doen gehad? Sonder om daaraan te ruik, het ek die rooierigheid teen die gras afgevee en nog ’n entjie op die spoor geloop.
Toe sien ek haar ’n entjie vorentoe op die stomp. Haar rug was op my gedraai – kaal nek, kaal heupe. ’n Ruk kon ek net staan en kyk, ek kon genuine nie bleddiewil move nie. Iewers het ek sonbesies gehoor, maar dit was winter. Sy het haar skouers beweeg. Het sy my agter haar gevoel? Sy het skielik langs haar op die stomp gevat. As sy sou omkyk, sou sy my sien. Ek het doodstil gestaan, nie eens my oë het geknip nie; toe begin ek stadig terugtree. Versigtig, sodat sy nie hoor nie. Voel-voel agteruit. Toe trap ek op die droë tak.
Die veghoender het omgekyk.
Ek het die skrik in haar oë gesien. Maar sy het opgestaan en in die sonlig het ek ’n full frontal gekry. Nog ’n tree terug gegee, al verder tot by die bakkie. My hande het misgevat; ek kon my flippen oë nie van haar afvat nie – sy het hulle soos ’n magneet vasgehou. Met die wegtrek, het sy in die truspieël gestaan. Die agterwiele het in die sand gespin, toe was ek om die draai.
Die bakkie het teen die opdraande uitgeskiet; ek het ratte verander en skerp teen die rant afgedraai. By die suiping het die modderwater ’n streep oor die voorruit gespat; ek het aan die ruitveërs se lever geruk en water gespuit. Voor my het die pad onsigbaar geraak en ek moes briek trap en stilhou. Wat was dit met my? Hoekom het die veghoender my so op loop gejaag?
Ek moes eers chill, maar die wilde geklop van my hart wou nie stop nie en ek het die sweet van my gesig gevee en gewag dat my asemhaling egaliger word. Toe het ek die pet terug op my kop gesit en met my vingers op die dash getik. Ek het my kop op die stuurwiel laat rus. Eers na ’n hele paar tellings het ek weer opgekyk. Was ek nou oor die skrik?
Toe klap die skoot!
Poachers? Of die jagters wat gespuit geraak het in die kamp? Maar dalk was dit van een van die buurplase af – dit was mos winter, jagtyd. Ek het op my horlosie gekyk. Demmit. Die middagskof moes nog ingepas word!
Net toe ek wou vorentoe ry, het ek die stewelhak voor my in die sand gesien. Vreemd. Sover ek geweet het, was daar nie tot onlangs iemand op daardie deel van die plaas nie. Ek het versigtig uitgeklim en eers ’n wye draai geloop. Maar ek het niks gesien nie. Boggherol. Nie bloed nie, nie takke wat gebreek was nie, of gras wat platgetrap is nie. My geweer was voor in die bakkie. Moes ek dit nie maar eerder uitgehaal het nie? Ek het ’n lang ruk in die skaduwee gestaan en luister. Maar niks gehoor nie.
Ek hoef nie weer op my horlosie te gekyk het nie, enige jagter kon mos sien die son het heelwat laer gesit. Maar ek het bly worry terwyl ek boskamp toe ry om die middagskofjagter te gaan oplaai. Ek het besluit om eerder niks van die meisie of van die stewelspoor te sê nie.
Toe ek by die kamp stilhou, was hy besig om hout op die vuur te gooi. Hy het dadelik na die kloof gewys. “Ek het ’n skoot gehoor.”
Ek het uitgeasem en my skouers opgehaal. “Van die buurplaas af,” het ek gesê. “Dis mos hierdie СКАЧАТЬ