Bruid uit die vreemde. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bruid uit die vreemde - Ena Murray страница 5

Название: Bruid uit die vreemde

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624055617

isbn:

СКАЧАТЬ haar nog op die kaai in wanneer ’t Wapen van Alkmaar in Tafelbaai anker gooi!

      Meteens voel dit vir haar asof sy in ’n hoek vasgekeer is. Van omdraai en teruggaan is daar geen sprake nie. Dan lig sy haar ken uitdagend en ’n vasberade lig glim in haar groen oë. Hoekom sal sy bang word? Dis die kans waarop sy so lank al wag – om Estienne de Savoye terug te betaal vir al die smart wat hy haar besorg het. Laat hom maar gerus op haar wag. Haar vader se dood sal gewreek word, al is dit die laaste ding wat sy doen. En dit sal Jacques wees wat die graaf De Savoye sal wees en nie hý nie – daarvoor sal sý sorg!

      Die weke en maande gaan baie langsaam verby.

      Jacqueline steur haar nie veel aan die ander passasiers nie. Hulle vra te veel vrae na haar sin. Waar kom sy vandaan? Waarheen gaan sy? Wat gaan sy daar maak? Sy hou haar dus beslis eenkant, want sy het besluit dat dit verstandiger sal wees as mense so min moontlik van haar af weet. Selfs die kaptein kon nog nie veel vordering maak nie, maar hy troos hom daaraan dat daar nog baie tyd is voordat hulle Kaap de Goede Hoop bereik.

      Een aand laat stap Jacqueline weer op na die dek. Dis drukkend warm in haar kajuit, maar toe sy buite kom, vind sy dat dit hier byna onuithoudbaar is. Sy staan effens eenkant en swaai ’n blink waaiertjie heen en weer voor haar gesig. Dan kyk sy op na die maste waar daar ’n ongewone bedrywigheid heers.

      Die kaptein gewaar haar en stap haastig nader. “Ek is jammer, maar u moet asseblief na u kajuit teruggaan,” sê hy, en toe sy hom vraend aankyk, beduie hy met sy hand in die rigting van die see. “Kyk hoe swel die branders. ’n Storm is in aantog. Kyk hoe pak die wolke saam. Ons kan reën ook verwag,” verduidelik hy vinnig.

      Jacqueline kyk op en gewaar nou eers die swaar, onheilspellende wolke. “Maar daar is dan geen wind nie!” protesteer sy.

      Isaac Goske probeer geduldig glimlag. Ai, die liewe vroumense! As hulle tog net nie so baie vrae wil vra nie en net wil doen soos hulle beveel word! Maar toe hy in haar oë afkyk, vergewe hy haar dadelik haar vroulike onnoselheid.

      “Ek is nie verniet al ’n paar jaar lank kaptein vir die Hollands Oos-Indiese Kompanjie nie, mademoiselle. Ek ken die see soos ek my moeder nie ken nie. U kan maar na u kajuit gaan en wag dat die storm losbars.”

      Oor haar skouer sien sy hoe die ander passasiers haastig deur ’n paar matrose met die trappies afgebondel word na hulle kajuite, maar sy voel onwillig om ook te gehoorsaam.

      “Ek sal teruggaan wanneer die storm begin, kaptein.”

      Die man frons vererg. Beeldskoon of nou nie beeldskoon nie, maar hy is die kaptein van hierdie skip en sy bevele word gehoorsaam. “Dan is dit ongelukkig my plig om u te beveel om na u kajuit terug te keer,” sê hy met stywe lippe.

      Indien hy Jacqueline beter geken het, sou hy geweet het dat dit ’n totaal verkeerde houding is om teenoor haar in te neem.

      “Gaan beveel jou matrose, kaptein Goske. Maar ék ontvang van niemand bevele nie!”

      “Maar, mademoiselle! Wees tog redelik en verstaan …” roep hy nou openlik ongeduldig uit.

      Meteens begin die skip onrustig skommel, en sy hoor hoe die takelwerk kraak. Sy besef nou dat Isaac Goske gelyk het, maar haar kenmerkende koppigheid weerhou haar van inskiklikheid en sy steek haar ken beslis uit. “Ek weier,” sê sy.

      Hy kyk haar met blitsende oë aan. “Dan laat u my geen ander keuse as om u daarheen te dra nie, mademoiselle De Savoye,” sê hy en buk vinnig af.

      Sy het dit nie verwag nie, en die volgende oomblik gooi hy haar sonder meer oor sy skouer en begin aanstap. ’n Geskater uit baie kele styg op en sy kners op haar tande, maar besef dat sy magteloos is. Deur te spartel, sal sy haarself net meer verneder, maar toe Isaac Goske haar eindelik op haar voete terugplaas, is sy nie in staat om te praat nie. Haar vlammende groen oë vertel hom egter genoeg en hy besef met leedwese dat hy sy kanse by hierdie vurige Franse mademoiselle vir goed bederf het.

      “Hoe durf jy!” kry sy dit eindelik stotterend uit, maar voor die kaptein nog sy mond kan oopmaak om homself te verweer, is daar ’n oorweldigende suising en die volgende oomblik gryp hulle wild in die lug toe die skip skerp oorhel. Sonder ’n verdere woord verlaat hy die kajuit, en Jacqueline is verplig om haar woede te vergeet en al haar aandag daaraan te gee om op haar voete te bly.

      Die nag wat volg, sal Jacqueline nooit vergeet nie. Dis asof al die elemente meteens teen hulle gedraai het. Die wind loei en kerm en telkens kreun en kraak die geteisterde houtwerk teen die moorddadige aanslae van die hoë branders. Die see raas en grom soos ’n verwoede monster en die reën sak soos ’n digte kombers oor ’t Wapen van Alkmaar toe.

      Dit voel vir haar asof sy van haar sinne wil raak in die verstikkende kajuit. Sy besef meteens hoe dit moet voel om vasgekeer te wees en die dood in die gesig te staar met die wete dat daar geen uitkomkans is nie. Op hande en knieë kruip sy na die deur, maar elke keer laat ’n hernude aanslag van die branders haar terugrol tot in die verste hoek. Later gee sy dit maar gewonne en laat toe dat die skip haar na willekeur heen en weer slinger. Hoe lank dit so aanhou, kan sy later nie sê nie, maar mettertyd bedaar die wilde rukke en skommeling en slaag sy daarin om moeisaam na haar slaapbank te kruip. Haar hele liggaam is pynlik gekneus, en haar kop raak skaars die kussing of sy sink in ’n uitgeputte slaap weg.

      Gesellig, asof die storm van die vorige nag net ’n aaklige droom was, klots die brandertjies teen die skip aan. Deurstraal met asemrowende skakerings van pers, blou en ligroos skiet die strale van die opkomende son deur die enkele loshangende miswolke op die kim en kleur die rustig deinende see tot ’n diep blougroen. Soos ’n soldaat wat trots en oorwinnend uit die stryd getree het, met die seile wat bol in die ligte windjie, ploeg ’t Wapen van Alkmaar se voorstewe diep vore deur die ewig roerende waters.

      Meteens klink daar ’n stem uit die kraaines op: “Ho … laaaaaa!”

      Kaptein Isaac Goske kyk op en die wag in die kraaines wys met sy hand in ’n suidoostelike rigting.

      “Skip op die gesigseinder!” roep hy weer deur bakgemaakte hande en die stuurman oorhandig die verkyker aan sy kaptein.

      Swyend staar hy oor die see uit. Dan sê hy: “Hou maar reguit aan, Kasper. As ons eers nader is, sal ek besluit. Dit lyk soos ’n skip wat op ’n rif geloop het.”

      “Goed, kaptein. Dit was darem ’n geweldige storm gewees,” laat die stuurman hoor, sy hande seker en vas op die groot wiel voor hom.

      “Ja. Ons skip het hom mooi gedra.” Hy kyk Kasper goedkeurend aan. “En die stuurman ook.”

      Kasper kyk dankbaar na hom. “Dankie, kaptein. Ek het maar net my plig gedoen,” laat hy ietwat verleë hoor.

      Die kaptein bring weer die verkyker na sy oë. “Maar juis daarom het dieselfde lot as daardie skip ons nie getref nie. Omdat elkeen sy plig gedoen het! Ek voel trots op my skip en op my bemanning!”

      Die ’t Wapen van Alkmaar nader die ander skip nou vinnig, en toe hy regoor die gestrande skip kom, word die bevel gegee dat die anker neergelaat word.

      “Ons kan nie waag om nader te gaan nie. Die kus is hierlangs baie rotsagtig,” verduidelik Goske en roep dan: “Laat sak ’n boot. Ek wil gaan kyk.” Hy bring weer die verkyker omhoog en sy liggaam ruk. “My magtig! Laat al die reddingsbote sak. En maak gou!” Hy draai weer na Kasper. “Dis ’n Nederlandse skip. Dit lyk amper na die Soetemeer.”

      Dan hardloop hy vinnig na die reling en sak met die touleer af СКАЧАТЬ