Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 26

Название: Christine le Roux Omnibus 2

Автор: Christine le Roux

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780798153317

isbn:

СКАЧАТЬ dan eergisteraand gaan uiteet?” vra Yvonne met ’n blitsigheid van ’n slang wat pik. “Een van my vriende het julle gesien.”

      “Dit was net … dit was sommer …”

      “Ek en Nic het ’n klein misverstand gehad,” stoom Yvonne voort. “Ek besef hy was ontsteld, hy het iets nodig gehad om sy aandag af te lei en jy is altyd so beskikbaar.”

      “Katie kon by die kinders bly,”sê Olivia flou.

      “Presies.” Sy gee Olivia ’n kameraadskaplike glimlag. “Ons weet hoe mans is, weet ons nie? Hulle kan mos nie drama hanteer nie, moet altyd getroos word.”

      Olivia rittel van die koue. “Ek het hom nie getroos nie. Ons het net gaan eet en dit was buitendien nie ’n sukses nie.”

      “Wel,” sê Yvonne, nou baie vriendelik, alhoewel haar bui effens versuur toe sy haar sandaal met ’n gesuig uit die gras lostrek en saam met Olivia na die voordeur toe loop. “Ek het net gedink ek moet met jou kom gesels. Ons is nooit alleen nie en ek kon sien jy verstaan nie die situasie nie. Het jy baie ondervinding van mans?”

      “Nee,” sê Olivia bot.

      Yvonne, dankbaar dat sy nou weer op die vaste grond van die rylaan is, bly staan en kyk Olivia ondersoekend aan. “Ek wed jy is nog ’n maagd.”

      “E …” sê Olivia verbouereerd. “Ja.”

      Yvonne lag, gee Olivia se arm ’n drukkie en draai weg na haar motor toe. “Dan was alles wat ek nou gesê het vir jou natuurlik onverstaanbaar. Maar ek is bly ons kon gesels. Bepaal jou aandag by die kinders, dis waarmee jy goed is, dis waarvan jy kennis het.” Sy klim in haar motor, waai vrolik en ry weg.

      Olivia loop in die huis in, bad die kinders, help speelgoed wegpak, sit by terwyl hulle eet, hoor later vir Nicolas inkom en sluit haar deur ingeval hy wil kom gesels. Nie lank na sy sy stort hoor loop het nie, hoor sy sy motor in die rylaan en weet hy gaan uit. Haar gedagtes is ’n totale warboel. Sy sit voor haar televisiestel na sy alleen geëet het, maar sy sien niks nie. Sy het nog nooit gedink dis lagwekkend om nog ’n maagd te wees op haar ouderdom nie. Sy is deel van ’n nuwe geslag, meisies wat versigtig is, wat nie sommer ja sê nie, wat wag vir die regte man en die regte tyd. Sy het gedink dis ’n goeie ding en al sê sy vir almal sy gaan nie trou voor sy dertig is nie, het sy tog gedroom van die regte man.

      Sy het altyd gedink sy gaan eendag ’n man ontmoet wat haar sal wakker maak. Presies wat sy daarmee bedoel het, sou sy nie in soveel woorde kon sê nie. Iemand wat op ’n sekere manier vir haar glimlag, iemand met dik hare wat oor sy oë val en sagte hande wat weet wat hulle doen, met oë wat so warm kan word dat dit voel of iets diep binne haar losraak sodat sy vorentoe sal tree en haar arms om hom sal slaan en …

      Sy skud haar kop om van die lastige gedagtes ontslae te raak. Terwyl sy hierdie ontstellende drome gedroom het, terwyl sy haar verbeel het sy het hierdie man al ontmoet, het hy en Yvonne in hierdie huis, onder dieselfde dak as die een waaronder sy so vreedsaam gelê en slaap het … Sy druk dit dood. Sy het gedroom van hoe dit sou wees, die eerste keer. Nicolas sou nie vir haar gelag het nie, hy sou nie gedink het dis iets om mee te spot nie. Hy sou teer en liefdevol wees, versigtig en …

      Sy druk haar hand teen haar oë. Terwyl sy hierdie ongeoorloofde gedagtes gedink het, het hy en Yvonne hulle – hoe het die vrou dit genoem? – hulle sterk drange uitgeleef.

      Sy voel so siek dat sy in die bed kruip en bibber ten spyte van die soel nag buite.

      Hoofstuk twaalf

      Die volgende middag is Olivia nie lus vir swem nie. Sy sit onder die boom en hou die kinders afgetrokke dop. Haar kop voel dik en suf; dit was baie laat voor sy die vorige nag Nicolas se motor hoor terugkom het. ’n Wilde nag van passie?

      Sy het nie veel geslaap nie en as dit nie was dat sy weet hoe traumaties dit sal wees as sy nou verdwyn nie, het sy haar tasse gepak en vertrek. Maar sy durf dit nie aan die kinders doen nie.

      Sy sien Nicolas se motor en jaag die kinders uit die water uit. Die laaste ding waarvoor sy kans sien, is ’n konfrontasie met hom. Sy sal van nou af uit sy pad bly, dis die veiligste.

      “Maar dis nog vroeg,” kla Emma.

      “Ek weet, maar dis nou tyd vir julle lekker televisieprogram.” Sy maak sommer ’n uitsondering op haar eie streng vasgelegde reël en sê vir Katie hulle sal op hulle skote eet voor die televisie. Enigiets om Nicolas te vermy.

      Maar hy duld dit nie. Katie kom sê vir haar meneer Nicolas is vanaand by die huis en wil hê hulle moet almal saam eet.

      “Nou goed,” sug Olivia. “Die kinders moet seker hulle pa te sien kry, maar ek sal hier in my kamer eet.”

      “Nee,” sê Nicolas, wat agter Katie verskyn het. “Dis ongesellig en ons moet die vakansieplanne bespreek.”

      Sy ontwyk sy oë, knik net en gaan trek ’n rok aan. Aan tafel onderskep sy sy blik kort-kort; hy kyk na haar met ’n half vreemde uitdrukking, maar sy kyk weg en hou haar besig met die opsny van Nicky se vleis of die inskink van melk.

      “Die skole sluit volgende week,” kondig Nicolas aan en dwing Olivia om vlugtig na hom te kyk. “Wat is jou planne vir die vakansie?”

      Sy haal haar skouers op. “Kersfees wil ek graag by die huis wees. Ek het my mense lanklaas gesien.”

      “Dis billik,” stem hy saam. Hy wonder hoekom sy so ongelukkig lyk. Sou Kenneth haar tog gebel het? Hy het doodseker gemaak dat Kenneth nie saam met hom inkom na hulle tennis nie. Hy is haastig, het hy gesê, Yvonne wag vir hom.

      “Maar soos jy weet, sluit die skole baie vroeg. Ek het ’n strandhuis en omdat ek lanklaas ’n ordentlike vakansie gehad het –”

      “Ek sal plaas toe gaan,” val sy hom in die rede. “Sê net wanneer julle ry.”

      “Olivia moet saamkom see toe,” sê Emma ontsteld.

      “Livja saamkom,” eggo Nicky.

      “As julle my net sal toelaat om klaar te praat,” sê Nicolas. “My voorstel is dat ons almal volgende naweek ry, jy hou twee weke vakansie saam met ons by die see en dan sit ek jou op die vliegtuig en is jy Kersfees by jou mense.”

      “Dis vriendelik van jou,” sê sy beleef en stoot haar kos op haar bord rond. “Maar onnodig. Jy is mos by die kinders, hulle het my nie nodig nie.”

      “Nee,” protesteer Emma. “Pappa weet nie hoe om my hare te vleg nie en hy kan nie my swembroek vasmaak nie en hy weet nie …”

      “Hy kan leer,” sê Olivia hardvogtig.

      “Olivia,” sê Nicolas en sy stem is sag. “Wat makeer? Jy lyk nie gelukkig nie. Wil jy regtig nie saamgaan see toe nie?”

      Sy stemtoon verbouereer haar. “Dis nie dit nie. Natuurlik wil ek see toe gaan, maar ek dink net dis onnodig en julle kan baie beter op julle eie –”

      “Hy sal nie skulpies optel nie,” sê Emma.

      “Livja,” sê Nicky, klim van sy stoel af en klouter op haar skoot.

      Sy kyk hulpeloos af na die koppie teen haar bors. СКАЧАТЬ