Maal. Nicole Strauss
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Maal - Nicole Strauss страница 2

Название: Maal

Автор: Nicole Strauss

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780795800184

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Nee,” het hy grof geantwoord, besin, vinnig haar oog gevang, en “dankie” bygevoeg.

      Die koppie voor my was lankal koud en die koerant wat ek van een van die stokke teen die muur gaan afhaal en kamtig gelees het, klaar opgevou. Ekself was nou honger van kyk hoe die vrou die een ding na die ander verslind (dit het my opgeval dat sy tog nie oorgewig was nie) en baie lus vir ’n halwe glas of so van haar Weisser Riesling. Haar bottel was nou amper leeg. Sy het haarself verskoon, kleedkamer toe gegaan, en met ’n nuut geskikte kapsel en donkerder lipstiffie ’n tydjie later weer by die tafel verskyn. Daar was nou ’n syserpie om haar nek. Ek was verheug om dit te sien; dit het mooi gelyk, so om haar nek saam met die pêrels. Dit het my weer laat dink aan die vrou wat enkele dae vantevore op die Riesenrad van Prater Park in die hokkie voor my gery het. Sy het so ’n syserpie in haar hare gedra. Wanneer die reusewiel van die mallemeule oor die kruin van sy hoogste punt getuimel het, het die serpie agter haar aangewaai. ’n Ligte bries het dit in ’n stadium uit haar hare gepluk. Teen die tyd dat ek onder gekom het, het sy reeds in die skare verdwyn, maar die serp het onder aan die voet van die mallemeule bly lê.

      Ek het dit nog, die serpie. Ek bêre dit by die ander, in die laaitjie langs my bed. Die tydskrif is ook daar.

      Hy het intussen die rekening gevra. Die kelner het met die plastieklêertjie in sy hand geaarsel, dit oudergewoonte voor die man neergeplaas. Hy het dit oor die tafel geskuif na Mathilde, wat ’n goue kaart uit haar beursie gehaal en dit in die houer gesit het. Die kelner het met sy kredietkaartmasjien nader gestap, die kaart deur die gleuf geglip. Die man het toe reeds opgestaan, sy donkerblou baadjie oor sy oopnekhemp aangetrek en buite op die sypaadjie gaan wag. Mathilde het die velletjie papier geteken wat deur die masjien uitgespoeg is.

      “Vielen dank, professor Weiss,” het die kelner gesê en met sy pikkewynlyfie ’n buiginkie in haar rigting gemaak.

      “Danke schön,” het sy vir hom gesê. Sy het ’n ligte baadjie van die stoel se rugleuning geneem en dit oor haar skouers gegooi. Buite in die straat het haar man reeds begin stap in die rigting van Sint Stephanusplein.

      Ek het my rekening gevra. Die kelner het verlig gelyk om van die twee ontslae te wees. Hy het geselserig gestaan en wag dat ek die munte uit my beursie krap, en was nie té ooglopend bekaf oor die klein fooitjie wat ek vir hom op die tafel gelos het nie. Op pad uit het ek die kleedkamer besoek, in die manjifieke spieël my geel das reggetrek, my kam in water gedoop en my kuif platgekam. Ek het ’n stukkie toiletpapier natgemaak en die bruin punte van my skoene daarmee blink gevee. Ek het ’n bietjie van die parfuum op die marmerblad langs die maanagtige wasbak in my nek gespuit, die fooitjiebakkie daarnaas geïgnoreer, en soos ’n miljoenêr gevoel toe ek netjies en welriekend die kleedkamer verlaat en by die koffiehuis uitloop, Konzerthaus toe. Die konsert sou oor vyftien minute begin.

      Ek het Sint Stephanusplein oorgesteek en flink teater toe gestap. By die Konzerthaus aangekom, het Mathilde en haar man in die straat voor die teater gewag. Hy het geïrriteerd op sy horlosie gekyk. ’n Taxi het nadergetrek, voor hulle gestop, en Mathilde het ’n ouerige vrou by die motor uitgehelp. Die ouer vrou het ’n netjiese geblomde pakkie aangehad, en skoene met hakke so hoog as wat haar dun en wankelrige bene kon toelaat. Ek was ’n entjie van hulle af weg, maar is seker daar was groot, bonkige ringe met edelgesteentes aan haar vingers. Ek kon ’n robynrooi borsspeld op haar lapel uitmaak.

      Mathilde het haar arm geneem en haar by die konsertgebou ingelei. Die man het gevolg; nadat hy die aankomeling op beide wange gesoen het (nie baie spontaan nie), het hy op ’n afstand met sy hande in sy sakke agter hulle aangedrentel.

      Ek het nie bedoel om hulle te agtervolg nie – die deur waar hulle ingegaan het, was ook die naaste een aan die sitplek wat op my kaartjie aangedui was. Tog was ek versigtig dat hulle – veral hy – my sou sien en dink dat ek hulle doelbewus van die koffiehuis af hierheen gevolg het. Mathilde het een keer in my rigting gekyk, maar daar was geen sweem van herkenning in haar oë nie.

      Ek het ’n program gekoop by die toonbank waar die plakkaat van die pianiste helder en groot staangemaak is. ’n Mooi kind. Donker, lang hare, irisblou oë. Wye, ongekunstelde glimlag. Klaudia Kunz. Gewoonlik koop ek nie programme nie – die goed is te duur en oordadig, ek sou persoonlik tevrede gewees het met ’n velletjie papier met die program en ’n paar besonderhede oor die kunstenaar, nie hierdie glansblaaie wat ’n fortuin kos nie – maar die foto van die pianis het my nuuskierigheid geprikkel. Ek wou meer van haar weet.

      Mathilde en haar man het intussen verdwyn. Ek het half angstig gevoel, gewonder of ek my verbeel het, of hulle hoegenaamd daar was. Maar toe sien ek die ou vrou wat hulle uit die taxi begelei het. Sy het op ’n fluweelstoel in die foyer gesit, adellik, soos ’n gravin of barones en asof die teater haar kasteel is en die res van ons haar onderdane oor wie sy die lewe of die dood self kan uitspreek, as sy sou wou. In haar hand was ’n glas vonkelende sjampanje. Frans, het ek gedink. Haar benerige vingers en geverfde rooi naels het soos ’n klou om die fluit gevou.

      Die klok het die eerste van sy drie slae geslaan. Mathilde het opgedaag en die ou vrou se glas by haar geneem. Haar man was ook weer by, sy rug styf en sy kake geklem, soos ek hom teen dié tyd al geken het. Hulle het in die rigting van die ouditorium gestap. Mathilde en haar man het die ou vrou weer aan albei arms ondersteun, meer vanweë haar sin vir drama as om enige fisieke rede, dink ek. Of dalk omdat die skoene se hakke te hoog was vir iemand van haar gevorderde jare. Hulle het deur die dubbeldeure verdwyn, die plekaanwyser het beduie waar hulle moet sit, maar ek het die idee gekry dat hulle goed vertroud was met die uitleg van die saal.

      Ek wag altyd tot heel laaste voor ek die ouditorium betree. As ek nie so lief was vir musiek nie, sou ek dit nooit in ’n teater waag nie. Ek kan die mense so digby my bykans nie verdra nie. Soms koop ek drie kaartjies al gaan ek alleen, net om spasie om my te hê. Maar die Wiener Konzerthaus is te duur dáárvoor.

      Toe die laaste klok lui en die gesofistikeerde Weense konsertgangers hul plekke inneem, het ek agter in die stadig bewegende, geselsende tou mense geval. Ek het my sitplek gevind en kon my geluk skaars glo toe ek in die stoel agter hulle inskuif. Die gryskopvrou tussen Mathilde en haar man het teatraal hul albei se hande vasgehou. Hy het anderpad gekyk, die krom neus in sy geëtste profiel die presiese replika van die ou vrou langs hom s’n. Aan haar ander kant het Mathilde die hand met die dun vel en bruin vlekke sagkens gestreel. Oor die brug van haar neus en in haar oë het die bloudruk van die ouer vrou se gelaatstrekke gelê.

      “Mutti,” het Mathilde gesê, “ek is so bly jy gaan uiteindelik vir Klaudia hoor speel. Sy is een van die mees geniale pianiste met wie ek nog ooit gewerk het.”

      “Ek kan nie wag nie, Tilde.” Sy het haar na die man gedraai. “Jy ken haar pa, nie waar nie, Markus?”

      “Ja, Mutter,” het hy stug geantwoord. Markus en Mathilde, het ek gedink, albei spreek haar as moeder aan.

      Nou toe nou, wat ’n verrassing – die ou suurknol was toe al die tyd nie haar man nie! Ek het deur die program geblaai; groot was my vreugde toe nie net foto’s van die pragtige jong musikant die blaaie versier nie, maar ook ’n foto van die mooie Mathilde. In die suiwer geformuleerde blokkie inligting onder die foto het ek gelees dat Mathilde voorheen die pianis se professor in Zürich was. (Deesdae studeer sy – die pianis – in Parys.)

      Die konsert het begin. Ek moes myself dwing om nie heeltyd Mathilde se nek en skouers (waarin ek kon sien hoe sy saam met die musiek en die pianis léwe) dop te hou nie en tog ook na die kind op die verhoog te kyk. Sy was briljant, dié Klaudia, ek kon verstaan waarom Mathilde en natuurlik ook ander musici gaande oor haar was. Ek kies altyd my sitplek in musieksale só dat ek die pianiste se hande kan sien, die beweging daarin, die kontak met die klawers wat ’n bietjie is soos toor. ’n Vinger raak ’n objek aan en iets nuuts word vanuit die aanraking voortgebring. As ek СКАЧАТЬ