Название: Beminde vreemdeling
Автор: Schalkie van Wyk
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624058663
isbn:
“Dan is jy nie so de vieste in soos wat ou Wessie Winkel my wou laat glo het nie, my engeltjie?” vra ’n goedige vrouestem onverwags langs haar.
“Tant Grietjie!” roep Wiandri verras uit, skakel die motorenjin af en klim uit. “Ek was briesend kwaad, maar ek vergeet altyd van almal en alles as ek Huis Groeneweide weer ná ’n paar maande sien,” verduidelik sy en soengroet Grietjie op die wang. “Hallo, my liewe tannie. Dis goed om terug te wees.”
Grietjie Verster vou Wiandri ’n oomblik lank in die sagte warmte van haar mollige arms teen haar bors en soen haar op haar voorkop. “Natterig en vuilerig, maar tog so welkom, my hartjie.” Sy hou Wiandri aan die skouers vas, stoot haar effens weg van haar en sê met stralende trots: “En nou is jy ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster met ’n graad in verpleegkunde. Ag, my hart, hoe lank het ek en juffrou Lerina nie saam uitgesien na hierdie dag nie! Geluk, Wiandri, my skat. Ek … ek weet ek moenie, maar as ek dink hoe trots jou oorle ma en pa …” Haar woorde wankel op trane tot stilte en sy los Wiandri se skouers en vroetel ’n hand vol snesies uit haar kakelbont roksak. “Jou ouers … hulle sou so trots op jou gewees het,” vervolg sy, haar stem effens hees, en kyk weg oor die somertuin.
“Dalk sou hulle vir my ’n ander loopbaan gekies het,” mymer Wiandri. “Hy was mos so ’n slim sakeman en my ma het pas haar BCom-graad gekry toe hulle getroud is. Miskien sou hulle van my verwag het om ook in die sakewêreld belang te stel.”
“Jy weet meer van die aandelemark en beleggings as ek of juffrou Lerina,” sê Grietjie en laat haar woorde soos ’n verwyt klink. “Jy het dit ter wille van haar gedoen, nè Wiandri? Jy het verpleegster geword omdat jy wou terugkom huis toe om haar te help as sy jou nodig het.”
“Is dit wat tant Lerina glo?” vra Wiandri onrustig.
“Wat ek en juffrou Lerina wéét, nie glo nie. Ek moes seker eerder gepraat het, maar jy is jonk en dis nog nie te laat nie: Juffrou Lerina verwag nie van jou om jou hier op Wernerspan te begrawe nie, my poppie. Jy is jonk en alte pragtig, Wiandri. Jy verdien die liefde van ’n goeie man, ’n gelukkige huwelik en ’n eie huis en kinders. Ek en …”
“Wil tannie-hulle my nie meer hê nie? Is Groeneweide dan nie meer my huis nie? Hou julle nou meer van daardie liederlike Floors as van my?” val Wiandri haar gegrief in die rede.
“Floors?” vra Grietjie onkant, knip haar oë vinnig en glimlag verwonderd. “Nou wat op aarde het die liewe Floorsie met ons sake te doen, my engeltjie? Ek en juffrou Lerina het sommer net gesels, gewonder oor jou toekoms … Juffrou Lerina is bang jy voel dat sy dit van jou verwag om na haar om te sien as ek die dag te oud is om haar by te staan. Jy skuld ons niks nie, Wiandri. Juffrou Lerina is jou bloedeie groottante en ek is al ’n leeftyd lank haar huishoudster. Niks kon ons groter vreugde gegee het as die voorreg om jou so saam-saam groot te maak nie.”
Bloedeie, herhaal Wiandri in haar gedagtes. Bloed maak ’n mens nie eie nie, want sy het tant Grietjie net so lief soos tant Lerina, dink sy, en kyk deernisvol na die mollige Grietjie, soos altyd geklee in ’n bont rok met groot sakke waarin sy sleutels, snesies, hegpleisters, pakkies lekkers en droëvrugte en soms ’n paar krummelrige koekies ronddra. Sy weet tant Grietjie is vyf-en-vyftig, maar deur die jare het haar wortelrooi hare, haar jeugdige groen oë en haar byna plooilose, ronde gesig met ’n wipneusie en die groot mond wat so maklik glimlag, onveranderd gebly. Wiandri het ’n vermoede tant Grietjie kleur haar hare, maar as tant Grietjie nie daaroor wil praat nie, is dit haar geheim. Gekleurde hare laat tant Grietjie jonk lyk en maak van haar ’n tydlose koskas, want by tant Grietjie ly niemand ooit honger nie, dink Wiandri en glimlag.
“Jy lyk bly, hartjie. Jy het nie nie dalk al klaar trouplanne nie?” verneem Grietjie hoopvol.
“Op twee-en-twintig?” vra Wiandri kamstig ontsteld. “Goeiste, tannie, ek het my oor ’n mik gewerk om my graad met hoogste lof te verwerf, om my twee tannies trots te maak. Ek het nog niks tyd gehad om op al wat man is jag te maak en een te vang nie!”
“Vier lange jare in Pretoria tussen al daardie jong dokters – en nie eens een van hulle kon jou hart vinniger laat klop nie, Wiandri?” vra Grietjie verwytend.
Wiandri betrag Grietjie wantrouig. “Wat is aan die gang, tant Grietjie? Tannie weet van elke man wat my uitgeneem het en hoe ek oor elkeen gevoel het; tannie weet ook ek het nie een van hulle werklik liefgehad nie. Hoekom is dit skielik so belangrik dat ek moet trou?”
Grietjie glimlag met salige tevredenheid. “Ek wou maar net weer seker maak, my poppie. Liefde is nie ’n sagte lentereëntjie nie, dis soos ’n emmer yskoue water wat in jou gesig uitgeskiet word.” Sy voel-voel aan Wiandri se digte hare wat koperbruin in die sonlig weerkaats en vervolg onnutsig: “Wessie Winkel vertel my die liewe Floors het jou sommer twee maal ’n yskoue bad gegee.”
“Hy het, maar dít, my tannie, was beslis nie liefde nie!” antwoord Wiandri gebelg. Sy wil nie aan Floors dink nie; of liewer, sy wil nie herinner word aan haar gevoel dat sy eindelik tuisgekom het toe sy die eerste maal in Floors se swartbruin oë gekyk het nie. En tog … tot op daardie oomblik was haar lewe leeg, asof sy net ’n halwe mens was. Saam met Floors voel sy heel. Nee! Dit was definitief net haar verbeelding. Floors is ’n onbeholpe en onbeskofte stommerik wat nes talle ander mans met honger oë na haar kyk en haar begeer. Maar sy frons afgehaal toe sy onthou: Floors het beslis nié met begerige oë na haar gekyk nie.
“Hoor jy nie wat ek sê nie, hartjie?” vra Grietjie, skud Wiandri liggies aan die skouer en vervolg toe Wiandri haar vraend aankyk. “Ek hoop nie jy gaan die arme Floorsie stief behandel nie, Wiandri. Die seun is flink met sy hande, help om die huis in stand te hou en hou ’n ogie op die tuin ook. Hy speel graag saam met jou tant Lerina kaart as ek elders besig is, en lees voor uit ’n boek terwyl juffrou Lerina haar legkaarte bou. Jy weet hoe ’n energieke mens juffrou Lerina is: Dis die ganse dag die trappe op en die trappe af as daar niemand is om haar geselskap te hou nie. Sy is darem al ses-en-tagtig, en ter wille van haar hart móét sy ’n bietjie rustiger wees.”
Wiandri lig haar ken asof sy die lewe self uitdaag en sê met oortuiging: “Ses-en-tagtig is nie oud nie, tant Grietjie, en noudat ek terug is, sal ek sorg dat tant Lerina nie haarself ooreis nie. Angina pectoris maak in elk geval nie van ’n mens ’n invalide nie – een van ons pasiënte het dieselfde probleem, maar sy speel op negentig nog gereeld rolbal. Tant Lerina het Floors se geselskap nie meer nodig nie. Of gaan hy vir die res van sy lewe op ons nekke lê?”
Grietjie kyk haar oomblikke lank verslae aan en lag haar dan goedig uit. “Stomme bloedjie, jy is jaloers op Floors! Glo jy werklik ’n vreemdeling kan jou plek in jou tant Lerina se lewe en hart inneem?”
“Nee, maar dis mý werk om tant Lerina geselskap te hou, nie syne nie. Dis waarom ek ’n verpleegster geword het: om tant Lerina nog beter te kan versorg. Tannie verstaan tog hoe belangrik sy vir my is? Sy is my eie-eie, ’n Rosseau soos my pa. Sy en tannie – julle is die enigste band wat ek met my ouers het. ’n Wêreld sonder julle is te groot, te alleen. Tant Grietjie, ek wil tog nooit alleen wees nie.”
“Jy dink jouself hartseer, engeltjie. Ek en juffrou Lerina is nie van plan om jou alleen agter te laat nie, daarom wil ons jou so graag getroud …”
“Ek gaan nie vir my ’n man vang nie!” verskree Wiandri haar byna tot stilte. “Luister tannie nie na my as ek praat nie? Ek het ’n verpleegster geword omdat ek tannie en tant Lerina wil help. Ek kon ’n dokter geword het, maar dit sou my te lank weggehou het van die huis af. Ek wil hier wees, hier by julle om te sorg, te help, te verhoed …”
“Dat ons doodgaan, my liewe kind?” СКАЧАТЬ