Название: Haar naam was Marina Neser
Автор: Susanna M. Lingua
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624056041
isbn:
Sy swaai om na die spreker en die volgende oomblik kyk sy in Renaldo se streng, onvergenoegde oë.
“Bon … bon dis, señor marquês,” groet sy terug, effens uit die veld geslaan. Met groot moeite kry sy dit reg om die versnelde klop van haar hart te verontagsaam.
Dis baie duidelik dat die marquês se onverwagte verskyning haar heeltemal ontsenu. Dat hy intens daarvan bewus is, laat hy egter nie blyk nie. Om sy mond is ’n harde trek, en sy blik rus openlik afkeurend op haar skamele baaipakkie toe hy koel sê: “Sulke gemengde baaiery is hoogs onbetaamlik.” Hy buk sonder meer af, neem haar strandjassie en hang dit liggies oor haar naakte skouers. Hy blik haar skerp, deurdringend aan. “So ’n goedkoop vertoning van ’n liggaam, so mooi en volmaak, is absoluut skandalig,” voeg hy onverbiddelik by.
’n Warm gloed sprei stadig oor Marina se pragtige gesig.
“Ek sien daar niks skandaligs aan nie, señor,” voeg sy hom met ’n verontwaardigde blik toe. “Ek is immers nie naak nie, ek het ’n baaipak aan!”
“Noem jy dit ’n baaipak?” Sy oë blits op haar. “So ’n skamele bedekking verg nie veel verbeelding van ’n man om jou geheel en al naak voor sy geestesoog op te tower nie, señorita. Ek sal jou aanraai om behoorliker swemklere aan te skaf.”
Ergerlik retireer sy ’n tree van hom af weg.
“Señor, presies waaraan het ek hierdie besoek van jou te danke – om beledig te word?” Haar oë vlam van verontwaardiging en sy maak geen geheim van haar gebelgdheid nie.
Hy is nou wel ’n hooggeëerde edelman, dink sy by haarself, maar ek gaan beslis nie sy beledigings langer duld nie. As ek die enigste was wat ’n bikini aanhet, kon ek nog toegee. Maar byna elke tweede meisie dra ’n bikini en niemand lig ’n wenkbrou daaroor nie. Waar kom hy vandaan om my die leviete te wil voorlees?
“Ek het nie bedoel om jou te beledig nie, señorita,” hoor sy hom weer sê. “Maar ek herhaal: daardie skamele kledingstuk wat jy aanhet, is onbehoorlik, absoluut onbehoorlik vir ’n dame.”
Hy kyk na sy polshorlosie en lyk skielik haastig. “Ek vrees ek het nie hierheen gekom om ’n argument met jou te voer nie. Inteendeel, ek wou jou net in kennis stel dat ons môreoggend baie vroeg vertrek en dat jy liewer vanaand in die castelo moet oornag. Dit is gebruiklik en die res van die geselskap het reeds aangekom.”
Besluiteloos staar sy Renaldo aan. Vir hom lyk dit of sy finaal gaan weier om mee te doen aan die uitstappie. Haar volgende woorde stel hom egter weer gerus.
“Na al jou beledigings behoort ek eintlik nie mee te doen aan die uitstappie nie, señor. Maar ek het jou gister reeds belowe dat ek om Elena en Celesta se ontwil sal gaan, dus sal ek my woord gestand doen en saamgaan. Maar ek wil jou waarsku dat ek nie bereid is om meer beledigings van jou te duld nie!”
“Maar, señorita, ek bedoel hoegenaamd nie om beledigend te wees nie,” maak hy beswaar teen haar aantygings. “Ek wys jou maar net daarop dat jy dinge hopeloos verkeerd doen!”
“Dit sal jou absoluut niks baat om begaan te wees oor my doen en late nie, señor,” spreek sy hom driftig aan. “Ek is nie ’n Portugese vrou nie en derhalwe nie aan jul konvensies en gebruike gebind nie –”
“Maar jy is verkeerd, señorita!” val hy haar ernstig in die rede. “Solank jy hier in Portugal vertoef, is jy onvoorwaardelik gebind aan ons sedes en wette!”
’n Oomblik staar sy hom sprakeloos en met ontnugterde oë aan.
“Ek vrees ek het dan op die verkeerde plek kom vakansie hou,” is al wat sy sê. Haar stem klink opvallend moedeloos, en dit ontgaan sy oor nie.
’n Gerusstellende glimlaggie plooi meteens om Renaldo se mond by die aanhoor van soveel moedeloosheid. Dat Marina op hierdie oomblik bitter teleurgesteld is, is vir hom maar alte duidelik. Maar hy is ook vasberade om toe te sien dat sy binne die kring van hul gebruike bly.
“Die wêreld het nog nie vergaan nie, señorita,” paai hy goedig, “dus is dit werklik onnodig om so ongelukkig te lyk. Glo my, ons gebruike is glad nie so moeilik om te gehoorsaam soos wat jy dink nie. Die moeilikheid met jou is net dit: jy is gans te impulsief en juis daardeur sal jy altyd in ’n onbenydenswaardige posisie beland. Maar kom, dan gaan verklee jy jou eers in ’n behoorlik swempak. En as jy nie ’n respektabele een besit nie, gaan koop ons gou vir jou een.”
Sy werp die nougesette marquês ’n driftige blik toe en verklaar met net soveel vasberadenheid: “Dankie, maar ek besit wel ’n ‘respektabele’ swempak, señor, dus sal dit nie nodig wees om een te gaan koop nie. Maar as jy my nou sal verskoon,” en sy gooi die strandjassie van haar skouers af …
“Nie met daardie skamele kledingstuk aan nie, señorita,” onderbreek hy haar met ’n gebiedende stem, en aan die harde trek om sy mond is dit baie duidelik dat hy woedend is oor haar doelbewuste uittarting. “Trek dadelik jou strandjassie en sandale aan,” gebied hy sag dog onverbiddelik, en dit laat die koppige meisie verskrik na hom kyk.
Die marquês is ’n vasberade man, gewoond daaraan dat sy wense deur almal gehoorsaam en eerbiedig word. Dus staan Marina se eiesinnige houding hom glad nie aan nie; te meer nog omdat sy ’n vriendin en ’n gas aan sy castelo is. Hy is vasberade om haar na sy wil te buig.
Sonder ’n enkele woord buk hy af, neem haar strandjassie en help haar om dit aan te trek. Daarna neem hy haar handdoek, rol dit netjies op en lei haar sonder meer in die rigting van die hotel.
“Die hotel bied ’n wonderlike uitsig op die baai,” kondig hy ’n oomblik later uit die bloute aan. Marina verbaas haar vir die man se geoefende beheer oor sy emosies. Minute gelede het sy oë nog vuur gespat van woede, nou klink sy stem weer so kalm en gewoonweg asof hy hom nog nooit vir haar vererg het nie.
Hy is voorwaar ’n merkwaardige man, erken sy onwillekeurig aan haarself. Maar hierdie jongste gril van hom, om my te wil domineer asof ek deel van sy familie is en hy alle reg daartoe het, staan my glad nie aan nie. Hy sal moet begryp dat ek my plesier nie aan bande sal laat lê nie en dat sy inmenging uiters onwelkom en irriterend is!
Hulle bereik die hotel en onderwyl Marina haar haastig dog innerlik gebelg in haar helder rooi swempak verklee, stap die marquês op en neer voor haar geslote kamerdeur.
Die marquês Renaldo de Conna staan onder sy volk bekend as ’n uiters deeglike man wat elke taak gewoonlik met die grootste nougesetheid afhandel. Ook nou maak hy dubbel seker dat Marina wel sy opdrag uitvoer deur hier voor haar kamer op haar te wag. Sy leuse is: waardigheid, hoflikheid, voortreflikheid en … absolute gehoorsaamheid. Swakheid van enige aard is iets waarmee hy geen genoeë neem nie en hy beskou dit as ’n euwel.
Die kamerdeur gaan meteens oop en Marina, geklee in dieselfde strandjassie en sandale, maak haar verskyning in die gang. Met sy gewone waardigheid stap Renaldo haar tegemoet. Hy kyk haar vraend aan, en Marina besef dat hy versekering en bevestiging verlang oor die opdrag wat sy moes uitvoer. Op ’n impulsiewe ingewing pluk sy haar strandjassie wyd oop vir hom om te sien dat sy wel voldoen aan sy wens.
Hierdie ongekunstelde gebaar lok ’n glimlaggie uit wat die marquês se streng gesig ’n wonderlike metamorfose laat ondergaan.
’n СКАЧАТЬ