Annelize Morgan Omnibus 3. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan страница 26

Название: Annelize Morgan Omnibus 3

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054863

isbn:

СКАЧАТЬ weer,” sê die madame toe hulle die landgoed verlaat.

      “Miskien moet ons maar liewer vannag in die Kasteel oornag en môre terugkom.”

      “Ek wens dit was nie vir ons nodig om te gaan nie,” mymer die meisie ’n bietjie vies.

      “Ons draai nie terug nie,” antwoord die ou dame beslis. “Dis dalk die eerste en die laaste keer dat die kommandeur ons na ’n private formele dinee nooi. Ek wil dit gaan geniet.”

      “U kom gerus maar alleen gegaan het, madame,” waag Angélique dit. Sy stryk met haar hand oor die sagte groen tabberd wat sy vir dié spesiale geleentheid dra.

      Madame druk die wapperende gordyn by haar vas. “Jy sal jou nie verveel nie. Eugéne sal ook daar wees. Daar het glo twee Franse Hugenote gister in die baai aangekom. Dis mense wat graag die markies van Touraine wil ontmoet.”

      Hierdie mededeling laat Angélique belangstellend opkyk. “Ken ons hulle dalk, madame?”

      Die ou dame skud haar kop. “Ek kan die name glad nie plaas nie. Dis ’n monsieur Pierre Beaumont en sy suster, Jeanne.”

      Angélique probeer die name in herinnering roep, maar sy kan dit nie koppel aan enigiets uit Frankryk nie.

      “Nou waarom word ons dan ook genooi?”

      Die madame lig haar skouers op. “Die kommandeur het seker sy redes.”

      Dit begin sag reën en die wind dryf die ysige druppels deur die venster na binne.

      “Wat ’n onplesierigheid!” sug madame Colbert. “Moet jy nou net nie staan en verkoue kry nie, Angélique.”

      “Dit sal ’n rede wees om die troue uit te stel.”

      Sy kyk verontwaardig na die meisie. “Ek wil geen woord daarvan hoor nie!”

      Die koets begin meteens stadiger ry. Die twee vroue kyk vraend na mekaar, maar nie een van hulle weet wat verkeerd is nie. Dan steek madame Colbert haar kop deur die venster.

      “Wat is verkeerd, Emile?”

      “Je ne sais pas, madame. Ek weet nie. Daar is ’n ruiter voor in die pad wat die koets inwag.”

      “Kan jy hier draai?”

      “Nee . . . hier is nie plek nie. Moet ek maar die perde laat hardloop, madame?”

      Voordat die ou dame kan antwoord, lê Angélique haar hand op madame Colbert se arm.

      “Wag, ek dink ek weet wie dit is, madame.”

      “Angélique!” roep die vrou geskok uit.

      Die meisie leun deur die venstertjie. “Ek dink dis monsieur Santiago, Emile. Gaan tot by hom sodat ons kan praat.”

      “Angélique!” Madame Colbert se stem styg ’n noot.

      Die koets begin weer beweeg.

      “Daar is niks om bekommerd oor te raak nie, madame,” probeer die meisie die ou dame paai. “Monsieur Santiago sal nie die koets voorkeer as hy nie ’n baie goeie rede het nie.”

      “Dis ongehoord! Dis waansin! Jy vergeet dat die Spanjaard dood is! Almal weet dat hy dood is!”

      Met skrik onthou Angélique haar belofte aan die kommandeur. Sy het belowe om nie eens vir madame Colbert te vertel dat die kaptein van die Sylvanna nog leef nie.

      Die vrou sien die skrik op die meisie se gesig.

      “Genade! Watter onbesonne ding het jy nou weer aangevang!” Sy leun by die venster uit om Emile die bevel te gee om die perde aan te jaag, maar die ruiter is reeds by hulle.

      “Wag! Wag!” roep die ruiter toe dit lyk asof die koets by hom verby gaan ry en hy nie vinnig genoeg uit die saal kan kom nie.

      Die koets kom stilstand.

      “Dis Pablo, madame.”

      Madame Colbert kyk geskok na die meisie. “Wel! Nes ek dink alles is nou reg, dan kom jy met nog ’n Spanjaard! Ek hoop jy besef dat ek hierdie sogenaamde kennisse van jou ten strengste afkeur.”

      “Ek weet, madame, maar ek is daar seker van dat Pablo ’n boodskap vir my het.”

      “ ’n Boodskap!” Die ou dame skud net haar kop, ’n allesverlore uitdrukking op haar gesig.

      Pablo maak die deurtjie oop en kyk in. “Señorita?”

      “Ja, Pablo, dis ek.”

      Hy hou ’n briefie na haar uit. “Dis dringend,” sê hy dan.

      “Is daar ’n antwoord?”

      Hy skud sy kop. “Nee . . . Ek moes net die boodskap aflewer.”

      “Watse boodskap?” wil Madame ysig weet. “Jy het niks vir die mademoiselle te sê nie!”

      Die ou man staan effens tru. “Ek dink ek sal maar liewer gaan, señorita.” Hy hou sy oë op die ou dame asof hy elke oomblik ’n oorkonkel verwag.

      “Dankie vir die moeite, Pablo,” probeer die meisie hom gerusstel. “Alles is reg.”

      “Gracia, señorita, gracia . . .” Hy struikel half agteruit toe hy van die koets af padgee.

      Emile laat die sweep klap en die perde kom in beweging.

      Angélique durf nie by die venster uitloer om te sien wat Pablo maak nie, maar sy weet dat hy die koets agterna kyk, dat hy koud en nat van die reën daar in die koetspad bly staan. Dalk bekommer hy hom daaroor of sy werklik die briefie sal lees, en of madame Colbert dit dalk by haar sal wegneem voordat sy die geleentheid daartoe kry.

      Sy hou die nota vasgedruk in haar handpalm. Sy sal dit later lees wanneer sy alleen is.

      Maar sy het nie rekening gehou met madame Colbert se nuuskierigheid nie. “Wat sê die brief?” wil die ou dame skielik weet. “Lees dit sodat ek ook kan weet.”

      Angélique wil eers weier, maar sy weet dat die ou dame sal aanhou totdat sy weet wat daarin staan. Met ’n ligte sug vou sy dit oop en lees hardop: “Señorita, wat ook al vanaand gebeur, hou die markies van Touraine by sy belofte. Jy sal later verstaan.” Sy kyk op. “Dis al, madame.”

      “Wie het dit geskryf? Is daar nie ’n naam onderaan geteken nie?”

      “Nee.”

      “Jy weet tog wie dit geskryf het,” sê die madame hoopvol.

      Angélique haal haar skouers op. “ ’n Welmenende, miskien. Ek weet tog nie vir seker nie.”

      Madame Colbert vra nie verder uit nie, bly net diep ingedagte voor haar en uitstaar.

      Eers toe hulle die hekke by die Leerdam-bastion binnery, kyk sy op. Daar is ’n bietjie agterdog en nuuskierigheid in haar blik. Sy sê СКАЧАТЬ