Название: 'n Klein lewe
Автор: Wilna Adriaanse
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624054689
isbn:
Binne die huis lyk dit soos sy onthou, alles is nog daar, en tog voel dit nie dieselfde nie. Sy raak vlugtig aan die swart stoof, maar dis koud. Sy sien hoe haar ma van vertrek na vertrek loop, maar sy steek in haar ouma se kamerdeur vas en staar lank na die dubbelbed met die houtkopstuk. Aan die kant waar haar ouma altyd geslaap het, maak die beddegoed ’n effense holtetjie en ’n fyn kreukel.
Toe haar ma-hulle later die oggend na die lykshuis toe gaan, ry sy saam. Hulle wil haar eers buite laat bly, maar op die ou end laat hulle haar saam ingaan. Haar ouma lê reeds binne-in ’n kis en dit lyk asof sy slaap. Haar ma soen haar ouma se voorkop en huil toe teen haar pa se bors.
Die volgende middag staan almal in die kerk op toe hulle agter die begrafnisondernemer met sy swart pak die kerk instap. Die dominee praat lank en sy probeer nie eers luister nie. Sy kan voel hoe haar ma liggies teen haar bewe en sy wonder of sy enigiets kan hoor. Op pad graf toe ry hulle net agter die lykswa. Terwyl die dominee by die graf praat, probeer sy die nuwe grafte tel. Daar het nogal baie mense doodgegaan vandat hulle weg is. Teen die draad staan ’n paar bruin mense. Die mans met hul hoede voor die bors. Sy herken vir Maria wat by haar ouma gewerk het. Die plooie op haar gesig lyk vandag selfs van hier af dieper as gewoonlik.
Haar ma huil nie toe hulle twee dae later oppak om huis toe te gaan nie, maar sy praat baie min op pad.
’n Jaar later is dit haar pa wat stil is toe hulle weer een nag die pad Noorde toe moet vat. Sy pa is die middag oorlede. Toe sy in die nag agter in die kar wakker word, sien sy haar ma bestuur en haar pa sit met toe oë langs haar. Net na sonsopkoms stop hulle weer op dieselfde plek en haar ma pak die padkos op die betontafeltjie uit. Die son is skaars uit, maar dis reeds warm en hier en daar is ’n sonbesie al hoorbaar.
Daar is reeds van die ander kinders toe hulle by die werf indraai, maar haar oupa se stoel op die stoep is leeg. Hy het altyd daar vir hulle gewag. Die kinders en kleinkinders kom deur die dag aan en die huis en werf raak al besiger en raseriger. Dis vreemd om te sien hoe daar soms gelag word, maar uit die lag sal iemand iets onthou en dan loop die trane.
Haar ma sê haar pa se mense lag wanneer hulle wil en huil wanneer hulle wil. Sy sê dis waarom hulle so oud word.
Twee jaar later met haar niggie se begrafnis is sy een van die slippedraers. Haar niggie was negentien jaar oud toe ’n dronk man een aand voor haar ingery het. By die graf stap sy saam met die ander niggies, almal in wit geklee, agter die draers. Sy kan nie verstaan waar die woord slippedraer vandaan kom nie, want daar is beslis niks om te dra nie. Geen sleep of sluier nie.
Op pad terug huis toe is albei haar ouers stil en sy wonder of hulle bang is een van hulle kinders gaan dood. Sy wonder of haar ma ook so na hulle sal bly roep soos haar tannie wat die hele nag geroep het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.