Название: Schalkie van Wyk Keur 8
Автор: Schalkie van Wyk
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624053668
isbn:
“Vincent gehoorsaam my onvoorwaardelik. Hy het reeds opdrag gekry om jou oral heen te vergesel.”
“Ook na Eiland-huis toe?” vra Marné uitdagend.
Renate se oë vernou merkbaar. “Dan is jy van plan om my bevele oor die De Ridders te verontagsaam?” vra sy, haar stem dun van ingehoue argwaan.
“Ek is nie vier en twintig uur per dag in jou diens nie, tant Renate. In my vrye tyd kan ek doen wat ek wil.”
Renate sit orent, haar donker oë die enigste teken van lewe in haar uitgeteerde, skedelagtige gelaat. “In Flaminke-huis is my woord wet, dogter. Wil jy hê ek moet jou opstandige gedrag aan jou tant Annie rapporteer?”
“My vrye tyd is my eie tyd,” sê Marné beslis.
“In daardie geval …” Renate wys met ’n benerige vinger na die deur. “Gaan na jou kamer toe en bly daar totdat ek besluit het wat om met jou te doen!”
6
Marné staar Renate onthuts aan en bars impulsief uit van die lag. “Liewe land, tant Renate, ek is nie een van jou kleinkinders wat jy kan hiet en gebied nie. Om my soos ’n stout kind na my kamer toe te stuur … Ek is jammer, tannie. As ons nie kan ooreenkom oor my diensvoorwaardes nie, sal ek nou onmiddellik my tasse gaan pak en Flaminke-huis verlaat.”
Renate gluur haar met hooghartige minagting aan. “Ek word nie teengegaan in my eie huis nie, dogter. Besef jy watter eer dit is om in Flaminke-huis te woon en soos een van die huismense behandel te word? Weinig mense op Twiswaters het al die voorreg gehad om deur die Brandenbergs onthaal te word, maar jy wóón hier. Daar is talle ander wat jou die voorreg sal beny om ons so intiem te ken.”
“Ek geniet dit om Nicolette te versorg, maar as ek daarmee sou voortgaan, doen ek dit op my eie voorwaardes,” sê Marné.
“Nee! Jy is ontslaan, Marné. Jou tant Annie het my duidelik laat verstaan dat jy die werk nodig het, maar aangesien jy nie bereid is om my opdragte stiptelik uit te voer nie, sal ek jou nie ’n uur langer onder my dak duld nie.” Renate swyg, ’n slinkse lig in haar oë. “As jy my om verskoning vra, kan ek jou heraanstelling oorweeg aangesien jy nie maklik elders werk sal kry nie.”
Genade, presies wát het tant Annie aan tant Renate geskryf? wonder Marné onthuts. Dis waar dat sy graag wil werk en haar eie geld wil verdien, maar die toelae wat sy uit haar oupa Nico se boedel ontvang, voorkom dat sy ooit gebrek ly. Dank die hemel vir oupa Nico en tant Annie, want haar toelae verhoed dat sy tant Renate se gewillige slaaf moet wees.
“Nicolette se welsyn is my eerste prioriteit, tant Renate. Sy is gelukkig by die De Ridders en ek hou ook van hulle. Ek is nie Nicolette se tronkbewaarder nie. As ek haar nie gelukkig kan maak nie, verkies ek om uit my pos te bedank. Verskoon my, asseblief,” sê Marné met ’n hooghartigheid wat dié van Renate ewenaar, draai om en stap na die kamerdeur.
“Marné, wag!” roep Renate. Sy is geskok oor die verloop van sake. Sy was nie van plan om Marné af te dank nie. Sy het gehoop dat haar dreigemente Marné sou oortuig dat sy die enigste gesag in Flaminke-huis is, maar sy het Annie Hofmeyr se pleegdogter geheel en al onderskat. “Marné, kom terug!” roep sy weer, maar Marné maak reeds die kamerdeur agter haar toe. Renate kyk wild om haar rond en druk die koperknoppie langs haar bed om ’n huishulp te ontbied.
Marné bly voor die toe deur staan en haal diep asem. Dis die einde van haar verblyf in Flaminke-huis, dink sy wrang. Sy is nie jammer nie – behalwe wanneer sy aan Nicolette dink – want sy het nooit welkom gevoel in die koue ou huis nie.
“Jy is ’n ster, Marné,” sê Vincent onverwags langs haar en laat haar verskrik na haar asem snak. “Ek wens ek het die moed gehad om so met my ouma te praat.”
“Het jy ons gesprek afgeluister?” vra sy kwaai, maar terselfdertyd geamuseerd.
“Hoe anders? In Flaminke-huis vind alle gesprekke agter geslote deure plaas, daarom leer jy van jongs af om met jou oor teen die sleutelgat te luister.” Sy oë rus bewonderend op haar. “Jy was manjifiek, Marné! Ek verkrummel soos ’n gemmerkoekie wanneer my ouma net kwaai na my kyk, maar jy … Ek wens ek kon so reguit met ouma Renate praat.”
Hulle beweeg stadig met die trap af. “Wat verhoed jou om dit te doen, Vincent? Jy is ’n man van sewe en twintig, nie ’n kleuter nie.”
Hy frons en lyk ongelukkig. “Dis nie so eenvoudig nie. My oupa Tinus het Flaminke-eiland aan ouma Renate bemaak, daarom moes selfs my oorlede pa na haar pype dans. Maar hy was gelukkiger as ek, want sy het hom toegelaat om die suiwelboerdery te behartig.” Bitterheid laat sy mond vertrek. “Oupa Tinus het nie my pa probeer dwing om ’n professionele man te word nie; hy het hom aanvaar soos hy is. As my oupa geleef het, sou ek ook nou ’n boer gewees het.”
“Waarom boer jy dan nie? Jou ouma sal nie eens weet nie, want sy verlaat selde of nooit haar kamer.”
“Ek het dit probeer, maar die huishulpe is haar spioene. Die laaste maal toe ek met die melkery probeer help het, het sy gedreig om my te onterf. Sy kan dit doen, Marné. Ek hoop om eendag Flaminke-eiland te erf en voltyds te boer, maar as ek onterf word … Ek het nie eens my eie bankrekening nie. Ek is volkome finansieel afhanklik van my ouma. Wat doen ek as sy my van die eiland af verdryf? Ek kan nie ’n plaas bekostig nie.” Hy lag selfveragtend. “Ek kan nie eens ’n liter melk bekostig as my ouma nie die nodige geld in my hand stop nie.”
“As jy ’n landbougraad of -diploma gehad het, kon jy elders werk gekry het,” sê Marné. Sy voel intens jammer vir hom.
“Ek is nie ’n genie nie, maar ek glo as ek ’n studierigting van my eie keuse kon gevolg het, sou ek ’n sukses daarvan gemaak het. Ek lees graag boeke oor suiwelboerdery en ek ondervind geen moeite om te onthou wat ek lees nie. Maar my ouma het volstrek geweier dat ek ’n graad in die landbou kry.” Hy gaan staan en kyk haar in die oë. “Ek kon harder gewerk het toe ek op universiteit was, maar ek het geen belangstelling in my studies gehad nie. Ek het heimlik gehoop dat my ouma my tog sou toelaat om in die landbou te studeer as ek ’n mislukking van my studies maak.”
“Ek is jammer, Vincent,” sê Marné simpatiek.
Hy verkleur merkbaar. “Dis ek wat jammer is. My ouma het jou in die pad gesteek, maar ek verwag dat jy na my klagtes moet luister.”
“Soms is dit nodig om jou hart uit te praat, want …” Marné hou op met praat toe Mathilda vinnig in die gang aangestap kom. “En nou, tannie? Wat lyk tannie so onstuimig?”
“Daardie lastige ou siel gee my die stuipe! Ek is veronderstel om smiddae ’n bietjie te rus, maar Haar Hoogheid het my na haar troonsaal ontbied,” blaas Mathilda boosaardig. Dan versag haar gesigsuitdrukking. “Sal jy by Nicolette gaan sit, hartjie? Sy slaap nog, maar wanneer sy wakker skrik, raak sy dalk ontsteld omdat niemand by haar is nie.”
“Goed, tannie. Ek sal wag tot tannie terugkom.”
“Dankie, my kind.”
Vincent wag totdat Mathilda buite hoorafstand is en vra ongelowig: “Gaan jy Nicolette versorg selfs nadat my ouma jou omtrent weggejaag het, Marné?”
“Moet ’n onskuldige kind ly as gevolg van jou diktatoriale ouma?” Marné glimlag deernisvol. “Nicolette is so ’n kosbare mensie. Ek gaan haar mis.”
“Sy СКАЧАТЬ