Название: Schalkie van Wyk Keur 8
Автор: Schalkie van Wyk
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624053668
isbn:
“Nie ’n woord nie, Nicolette. Ek beloof. Toe, bou die ander legkaart klaar sodat ek kan sien wat dit is,” antwoord Marné goedig.
“Die twee katjies en ’n bol wol! Kom ons bou vinnig, oom Lukas,” sê Nicolette, neem langs hom plaas en konsentreer op die legkaartstukke.
“So ’n ou sonstraalkindjie,” sê Kobie gedemp langs Marné, haar oë vol deernis op Nicolette gerig. “Ek is bly jy is hier om na haar om te sien, Marné, want ek kwel my tog so wanneer sy alleen rondloop op die eiland.”
“As dit werklik onveilig vir Nicolette is, waarom bou tant Renate nie ’n hoë ringmuur om haar huis nie? Ek sal in voortdurende vrees leef as ek nie weet waar Nicolette is nie,” sê Marné.
Kobie se mond vertrek wrang. “Renate is te trots om openlik te erken dat daar iets met haar jongste kleinkind skort.”
“Maar weet die mense van Twiswaters nie van Nicolette se … se toestand nie?” vra Marné ongelowig.
“Almal weet, want al swyg ons, praat die huishulpe. Renate besef dit, maar sy glo sy kan almal ’n rat voor die oë draai deur voor te gee dat die kind normaal is. Trots maak van mense dwase,” sê Kobie afkeurend.
“Nicolette hou van roetine, Marné,” verduidelik Erik. “Wanneer sy by die voordeur uitstap, kom sy altyd reguit hierheen. Gewoonlik onthou sy om tant Mathilda te waarsku dat sy by ouma-hulle kom kuier, maar soms glip sy tog ongesiens weg.”
“Wat gebeur as ek …” begin Marné sê, maar sy swyg toe Nicolette opspring en haar hande klap.
“Klaar! Nou gaan ek en oom Lukas en Erik vir die hoenders kos gee en eiers soek. Kom, Erik, ek sal jou wys waar die hoenderkos is,” sê Nicolette opgewonde. Sy vat Erik se hand en huppel langs hom na die agterdeur toe.
Lukas bly langs Marné staan. “Hallo, ounooi. As Nicky te veel word vir jou, bring haar hierheen. Ek en Kobie weet al hoe om haar besig te hou.”
“Dankie, oom. Ek sal probeer om te kom,” antwoord Marné, maar sy byt aan haar onderlip – duidelik gekwel.
“Waarom klink jy so onseker, Marné?” vra Kobie toe Lukas die agterdeur agter hom toemaak.
“Dis eintlik so belaglik, tannie,” begin Marné. Sy vertel van haar en Erik se gesprek met Vincent.
Kobie luister in stilte en glimlag gerusstellend. “Ek steur my nie veel aan die bevele van die vorstin van Flaminke-eiland nie, liefie. Vroeër jare het sy ook geprobeer om Nicky hier weg te hou. Hulle het die kind in haar speelkamer toegesluit, en wat het gebeur? Nicky het die vensterruite met haar speelgoed en boeke flenters gegooi. Ek glo die kind sou deur die venster geklim het as Mathilda haar nie gekeer het nie.”
“Maar die speelkamer is op die tweede verdieping!” sê Marné ontsteld.
“Ek weet, liefie. Gelukkig was meneer Sebastiaan hier toe Mathilda ons van die voorval kom vertel het. Dit was kort ná sy vrou se dood, nie lank nadat ons hier ingetrek het nie. Daardie dag het ek hom die eerste en die laaste maal na Flaminke-huis toe sien stap en kort daarna is daar tralies voor die vensters van die speelkamer en Nicky se slaapkamer aangebring. Mathilda glo hy het betaal vir die onkoste om Nicky se kamers te beveilig. Hoe waar dit is, sal ek nie kan sê nie.”
“Nicolette sê sy gesels soms met oom Sebastiaan.”
“Ja, hy is erg oor die kind, maar in al die jare wat ons hier woon, het ek hom nog nooit met Vincent of Ilze sien praat nie,” vertel Kobie.
“Waarom is hulle vyande?”
Kobie haal haar skouers op. “Dié wat weet, praat nie. Ons bly uit mekaar se pad. Daarom is daar nooit onenigheid tussen ons nie. Moenie toelaat dat Renate jou hiet en gebied nie, Marné. Nicky se geluk is op die spel, en die kind kry juis so min aandag van haar eie mense.”
“Wat sal Nicolette doen as sy teengegaan word, tannie? Ek weet so min van haar. Sy … sy word nie dalk aggressief nie?”
“Ek ken haar net as ’n vrolike kind, maar daar was ’n tyd …” Kobie frons en maak ’n afwerende handgebaar. “Dis nie belangrik nie. Mathilda het my vertel Nicky krul haar in ’n bondeltjie op en wieg heen en weer wanneer iemand met haar raas – gewoonlik Rentia. Sy is die kind se ma, maar sy is net oor Vincent begaan.”
“Volgens wat Erik my vertel het, is Vincent net ’n marionet in sy ouma se hande. Solank tant Rentia nie van my verwag om na haar pype te dans nie, sal ons klaarkom. Ek is hier om Nicolette op te pas en gelukkig te maak. Ek gaan nie toegee aan haar onregverdige eise nie,” sê Marné beslis.
Kobie huiwer. “En as sy jou in die pad steek, liefie? Erik het my van julle mooi huis vertel en ek kan aan jou klere sien jy is nie behoeftig nie, maar as jy die werk nodig het …”
“Ek hét werk nodig, enige werk. As dit moet, sal ek vloere skrop. Ek wil nie vir altyd afhanklik wees van my tant Annie nie. Sal dit moeilik wees om op die dorp werk te kry, tant Kobie?”
“Ek glo nie dit sal maklik wees nie, maar as dit moet, sal Erik jou help. Oor ’n blyplekkie hoef jy jou nie te kwel nie, want meneer Sebastiaan sal nie omgee as jy hier by ons intrek nie.”
“Tannie bedoel dit?” vra Marné.
“Hoe anders, my kind? Jy sit in die vreemde sonder eie vervoer en Erik vertel my jou tante is met vakansie. Selfs al was dit nie die geval nie, het ek ’n kleinseun, maar ek het nooit ’n dogter of ’n kleindogter gehad nie.” Kobie glimlag ondeund. “Wie weet, dalk betaal ek jou uit die geld wat ek vir die eiers kry sodat jy hier by my kom bly net om my geselskap te hou.”
“Dankie, tant Kobie. Ek voel skielik skatryk … en glad nie meer so bang om tant Renate oor Nicolette te konfronteer nie. My tant Annie sal …” Sy hou op met praat en snak hoorbaar na haar asem. “Ek het skoon vergeet om tant Annie te laat weet ek het veilig op die eiland aangekom. Sy gaan my vermoor!”
“Nou gaan bel dan dadelik. Die foon is in die gang. Of ken jy nie die nommer nie?”
“Ek het dit gememoriseer, maar ek het nie geld by my om vir die oproep te betaal nie, tant Kobie.”
“Ek dink die eiergeld sal daarvoor kan betaal,” skerts Kobie. “Toe, gaan bel nou, Marné.”
“Dankie, tannie.”
Marné stap uit die kombuis, en Kobie vat haar hande op die tafelblad saam, ’n glimlag op haar gesig. Wat ’n liewe, mooi kind, dink sy. As Erik nooit vir Laura Viljoen geken het nie, kon sy gehoop het dat hy Marné sou liefkry. Maar Laura het nog nie ophou spook by haar kleinseun nie, selfs al is hy nou minder stroef as agttien maande gelede. Liefde is nie gedwonge nie, maar sy kan bid. Gebed was nog altyd haar grootste troos.
Mathilda loer by die speelkamer in. Sy sien Marné op ’n stoel voor die kaggel sit met ’n slapende Nicolette op die mat langs haar, en gaan die vertrek binne. Marné kyk om toe sy die deur hoor toegaan en glimlag vir haar.
“Wou sy nie bed toe gaan nie, hartjie?” vra Mathilda. Sy neem op ’n stoel skuins teenoor Marné plaas en haal haar breiwerk uit haar breisak.
“Haar verkoue is beter en ek wou haar nie wakker maak nie. Dis in elk geval geselliger hier in die speelkamer.” Marné frons lig. “Ek СКАЧАТЬ