Название: Susanna M Lingua-keur 10
Автор: Susanna M. Lingua
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624052128
isbn:
Daar is openlike veragting in haar blik en sy sê onverskillig: “Dit het my nou net opgeval hoe gelukkig ek is dat my oë eindelik oopgegaan het, Dewalt. Ek besef nou eers hoe ’n gek ek was om oor jou te treur en na jou te verlang. Dit is heeltemal onnodig om so agterdogtig te lyk. Noudat ek ontdek het dat my liefde vir jou dood is, wil ek graag self die egskeiding agter die rug hê.”
Dewalt kyk na haar en frons gesteurd. Hy kan homself ook nie verstaan nie, want hoewel sy liefde uitsluitlik aan Esna behoort, hou hy nie van die gedagte dat Natasha geen gevoel meer vir hom koester nie … Ja, hy hou niks van haar onverskillige houding teenoor hom nie.
Daar is nou ’n effense verwarde uitdrukking in sy mooi oë. “Ek het gehoop dat ons vriende sou bly, Natasha. Ek meen … e … ons was tog darem getroud …” sê hy opvallend teleurgesteld.
“Nee, Dewalt,” skud sy haar kop, “ons huwelik het nog nooit vir jou iets beteken nie. Moet jou asseblief nie nog op so ’n klug beroep nie. Ek is van plan om heeltemal te vergeet dat ons ooit getroud was. Ek raai jou aan om dieselfde te doen.”
Hulle ry later Bergsig binne en hou voor ’n netjiese gebou stil wat die prokureurskantore en ’n paar dokters se spreekkamers huisves. Natasha maak die motordeur oop en net toe sy wil uitklim, neem Dewalt haar aan die arm en hou haar terug.
Daar is ’n onpeilbare blik in sy oë en ’n besliste klank in sy stem. “Ek begryp dat jy niks anders as veragting vir my kan hê nie en dat jy daarom alles wat met my verband hou, wil vergeet. Maar ek, Natasha, sal nooit kan vergeet dat ons getroud was nie. Daar duik daagliks te veel dingetjies op wat my aan jou herinner; sommer klein dingetjies, maar hulle hou herinneringe in.”
Hulle klim uit die motor en stap die prokureur se kantoor binne – sonder dat Natasha die kans kry om vir Dewalt te sê dat sy groot liefde vir Esna allesoorheersend behoort te wees.
“Wel, ek moet sê ek is bly dat al die formaliteite nou afgehandel is,” laat Natasha onverskillig hoor nadat hulle die prokureur se kantoor verlaat het. Dan vervolg sy duidelik ongevoelig: “Nou het jy darem iets om na uit te sien, want jy en Esna sal binne etlike weke kan trou.”
“En wat het jy om na uit te sien, Natasha?” vra Dewald terwyl hy die motordeur vir haar oophou.
Sy klim in en antwoord bedaard toe hy die voertuig aanskakel en wegtrek: “Op die oomblik net my kind. Later sal ek seker weer trou. Ek is nie van plan om lewenslank ongetroud te bly net omdat my eerste huwelik op so ’n gemors uitgeloop het nie. As my kind ’n seun is, sal ek buitendien moet trou. ’n Seun kan nie sonder ’n pa se leiding grootword nie.”
Daar is meteens ’n donker frons op Dewalt se voorkop. Snaaks, maar hy hou nie daarvan dat ’n vreemde man vir sy seun ’n pa moet wees nie. Sy frons verskerp, maar dan skuif Esna se beeld voor sy geestesoog verby en dwing hy sy gedagtes weg van sy ongebore kind. Hy kan nie verstaan wat vandag met hom aangaan dat hierdie dinge hom so hinder nie. Gister het Natasha se swangerskap hom nie ’n duit geskeel nie. Nog minder het dit hom gepla of sy ooit weer trou of nie. Hul huwelik was vir hom bloot ’n onbelangrike tussenspel.
Dewalt se emosies is vanoggend net so rusteloos en deurmekaar soos die uitgelate bewegings van ’n windswael – en net so vreemd en onverstaanbaar soos Grieks.
Toe hulle Dennebaai later nader, vra hy uit die bloute: “Sal jy die dag saam met my langs die strand deurbring en vanaand saam met my in die hotel gaan eet, Natasha?” Sy skud haar kop vinnig en beslis.
“Nee, dit is onmoontlik,” sê sy ewe beslis. “Ek en Irene verwag jou pa vanoggend – en ek is seker dat Esna in spanning op jou terugkoms wag. Jy moet liewer nou teruggaan Leliesvlei toe. Gaan vertel haar die goeie nuus dat julle een van die dae sal kan trou.”
“Wil jy nie maar vanaand ’n afskeidsete saam met my geniet nie?” probeer hy weer. Maar Natasha is nie vir sy voorstel te vinde nie.
“Ek het lankal van jou afskeid geneem, Dewalt – in Die Arendsnes al,” laat sy pynlik ongeërg hoor. “Gaan liewer huis toe en vier vanaand fees saam met jou aanstaande vrou. Sy kan seker nie meer wag om te hoor of jou sending geslaag het of nie.”
“Nou goed, kom drink dan vir oulaas ’n koppie tee saam met my. Daarna sal ek teruggaan Leliesvlei toe,” doen hy weer aan die hand.
“O, nou goed, dan sal ek maar saam met jou gaan tee drink,” stem sy baie onwillig in. “Maar daarna moet jy my sonder versuim huis toe neem. Ek wil graag tuis wees wanneer jou pa kom.”
Daar is ’n ongeduldige trek op Dewalt se gesig toe hy gesteurd sê: “My pa is baie bevoorreg dat selfs jy, sy skoondogter, getrou na sy pype dans. Maar onthou, hy is net jou skoonpa, terwyl ek in sekere sin nog jou man is –”
“Jy is nou soos ’n stout kind wat nie sy sin kan kry nie, Dewalt,” val sy hom in die rede. “En terloops, ek beskou jou in geen sin meer as my man nie – veral nie noudat ek die egskeiding aanhangig gemaak het nie.”
Daar kruip meteens ’n verdwaaldheid in sy oë. “Jy het gelyk; ons het geen huwelik meer nie,” sê hy half verontskuldigend. “Ek belowe om jou dadelik huis toe te neem sodra ons klaar tee gedrink het. Maar ek het darem gehoop dat ons vriende sou bly.”
“O, jy wil hê ons moet vriende bly sodat jy later op my skouer kan kom huil wanneer dinge weer vir jou begin skeefloop,” sê sy met daardie kenmerkende, sonnige glimlaggie. “Dit sal nie werk nie, Dewalt. Vergeet maar daarvan,” vervolg sy bedaard.
Hierna is hy opvallend nukkerig en praat skaars met Natasha, maar sy steur haar nie aan sy buierigheid nie. Alles is tog verby. Selfs die liefde wat sy vir hom gekoester het, is iets van die verlede.
Hulle geniet tee in ’n strandkafee met ’n wye uitsig oor die see. Hieroor voel Natasha bly, want sy word nooit moeg om na die see te kyk nie. Dit is of die see en die geruis van die golwe ’n kalmerende uitwerking op haar het.
“Wat is jou planne vir die toekoms, Natasha?” vra Dewalt nadat die kelner hulle met tee bedien het. “Gaan jy vir ’n onbepaalde tyd hier op Dennebaai bly, of gaan jy jou elders vestig?”
Sy kyk etlike oomblikke na die rustelose golwe. Dan draai sy haar gesig na hom en sê half onseker: “Ek weet nog nie, Dewalt. Dit hang alles van omstandighede af. Ek sal maar eers wag tot na die bevalling voordat ek besluit wat om te doen.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor alledaagse dinge en dan staan Natasha van haar stoel af op en sê dat sy moet gaan.
Dewalt volg haar voorbeeld traag en onwillig. Toe hy haar eindelik aflaai, besluit hy om maar dadelik terug te gaan Leliesvlei toe.
Dit is omdat ek Esna nie saam met my gebring het nie dat dit nou voel of my hele lewe so hopeloos uit verband geruk is dat ek selfs na Natasha se geselskap verlang, besluit hy by homself toe hy haar groet en wegry. Ja, dis nooit anders nie. Sodra ek by Esna is, sal alles sommer weer in die regte perspektief val.
Oubaas Lafras het reeds aangekom toe Natasha pas voor twaalf tuis kom. Sy tref hom en Irene op die voorstoep aan. Hy groet haar vriendelik en verneem belangstellend na haar gesondheid.
Irene merk dadelik dat die ou sprankelende lewenslus weer terug is in Natasha se mooi, sagte oë. “Natasha, ou sussie, wat het met jou gebeur? Waar was jy die hele oggend?” roep sy verras uit.
“Waarom vra jy my so ’n vraag, Irene?” wil Natasha met haar ou СКАЧАТЬ