Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse страница 19

Название: Vier seisoene kind

Автор: Wilna Adriaanse

Издательство: Ingram

Жанр: Эротическая литература

Серия:

isbn: 9780624051756

isbn:

СКАЧАТЬ party. Haar date het gesê hy sal haar net huis toe neem as sy eers vir hulle sing. Die doos. Ek kan nog onthou hoe skaam sy was. And the rest is history. Of eerder herstory.”

      “Miskien moet ons haar nou al vir ’n paar optredes volgende jaar bespreek.”

      Adriaan glimlag breed. “So, jy het besluit om te bly.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Ek en Felicity het gister ’n weddenskap aangegaan oor hoe lank jy gaan bly. Ek het so pas verloor.”

      “Waarop het jy gewed?”

      “ ’n Maand of vier op die langste. Felicity het gesê ek moenie na jou lyftaal kyk nie. Jy het meer guts as wat ’n mens op die oog af kan sien. Blykbaar was sy reg.”

      Cato wil eers vra hoe haar lyftaal lyk, maar sy besluit sy wil dalk nie weet nie. Daarom glimlag sy net en begin hom help om die kontant van die kaartjieverkope te tel.

      8

      Jacob kyk na Sonia waar sy in die lughawegebou na hom toe aangestap kom. Die vroulike lyf is bo alle twyfel die kroon op God se skepping. Om so iets uit ’n ribbebeen te kon maak, sal altyd vir hom ’n verborgenheid bly. En een van die grootste wonderwerke. Haar heupe swaai ritmies. Hy kan sien sy is bewus van sy blik op haar. Daar verander altyd iets in ’n vrou se stap as sy weet ’n man kyk vir haar. Sy glimlag en soen hom op die wang.

      “Jammer ek is laat. Ek moes nog eers vanoggend ’n paar reëlings vir die Kerskonsert bevestig.” Sy vee haar ligbruin hare agteroor. “Hoe was die vlug?”

      “Verkeerdom.”

      Sy kyk vraend na hom.

      “In die verlede het hierdie kant toe ‘huis toe’ beteken. My brein sal daaraan gewoond moet word.”

      “Oor die verhuising sal ek my liewer nie weer uitspreek nie. Jy weet wat ek daarvan dink.”

      “Hoe gaan dit hier?”

      “Goed en baie besig. Die nuwe CD is besig om al jou vorige verkope te oortref. ’n Skandaaltjie hier en daar doen verkope altyd goed.”

      “Jy weet wat sê hulle van ’n verhouding wat skeefgeloop het … die enigste ding wat ’n mens waarskynlik daaruit gaan kry, is ’n paar goeie liedjies.”

      “Ek is bly om te sien jy het nog jou humorsin.” Sy hou die motorsleutel in die lug.

      “Wil jy bestuur?”

      Hy skud sy kop. “Ek is mal daaroor as ’n mooi vrou vir my bestuur, en jy moet onthou ek is deesdae net aan dorpsverkeer gewoond.”

      “Dood jy nie van verveling nie?”

      “Nog nie.”

      Sy trek weg en ry byna ’n man om wat te stadig loop.

      “Het jy met die verkeerde voet uit die bed opgestaan?”

      “Is jy bewus daarvan dat jy en Louise een lied by die Kerskonsert moet saamsing, en dan natuurlik die laaste een waar al die kunstenaars saam op die verhoog is?”

      “Ja, ek het die program gesien.”

      “En dit pla jou nie?”

      “Nee. Ons het altyd goed saamgesing. En ons is mos nie meer kwaad vir mekaar nie.”

      “Ek weet nie wat jy probeer bewys nie. Dat jy verhewe bo iets soos woede is?”

      “Allermins. Ek het nie genoeg energie om op woede te mors nie en as ek jou kan raad gee, maak vrede met haar.”

      Sy kyk oor haar skouer vir aankomende verkeer en toe daar niks kom nie, versnel sy en Jacob sak terug teen die sitplek.

      “Sy het my ’n hoer in die pers genoem.”

      “Dit sal nie die laaste keer wees dat iemand verdraaide stories oor jou of my versprei nie. As jy nie vrede daarmee kan maak nie, is jy in die verkeerde bedryf, my skat.”

      Jacob sien hoe die stramheid langs haar mond effens versag en hy wil sug, maar begin sing eerder.

      “Why can’t a woman be more like a man? Men are so honest, so thoroughly square; eternally noble, historically fair …”

      “Ha ha … ek hoop nie jy dink ek moet lag nie.”

      Hy raak aan haar skouer. “Glimlag ten minste net.”

      Sy haal ’n keer diep asem en blaas dit uit. “Soms wonder ek waarom ek jou nie laat gaan nie. Iemand soos jy maak my lewe vreeslik moeilik, want jy is te onvoorspelbaar. Ek verkies ’n kunstenaar wat op die brandstapel vir sy kuns en vir my sal klim. Jy sal op ’n dag kan wegstap sonder om weer om te kyk, en dit maak jou ’n moerse risiko.”

      “Maar ek het nog nie. Ek is steeds hier.”

      “Ja, maar vir hoe lank?”

      Toe hy haar nie antwoord nie, kyk sy vlugtig na hom. “Terloops, jou kontrak vir die televisieprogram is vir ’n volgende reeks bekragtig.”

      “Dis goeie nuus.”

      “En hulle is heel opgewonde dat jy die net effens wyer gaan span en meer kunstenaars gaan betrek, nie net sangers en musiekmakers nie.”

      “Wat van die tyd?”

      Sy glimlag. “Dis verleng tot ’n uur en jy mag sekere van die episodes in die Kaap skiet. Praat van hot property op die oomblik.”

      “Jy is ’n engel. Ons moet dit vanaand gaan vier, of het jy ander planne?”

      “Nee. Ek het die aand oopgehou sodat ons ’n paar reëlings vir die skiet van die episodes kan finaliseer.” Sy sit die flikkerlig aan en draai van die snelweg af. “Is jy seker oor die gastehuis? Jy weet ek het ’n kamer leeg.”

      “Dis vriendelik van jou om aan te bied, maar ek kan nie elke keer as ek hier kom, inbreuk maak op jou privaatheid nie.” Jacob hoor Georgie se stem en is dankbaar sy seun het nie die gesprek gehoor nie. Hy kan daardie alweterige laggie hoor. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde roer iets in hom. Die ou mense sou dit seker wellus genoem het. Hierdie skielike behoefte na sinsgenot. Die wulpse gedagtes. En dan is dit weg. Voor hy bang of bly kon raak of daarop reageer en sonder dat hy bewustelik die voor- en nadele bedink het.

      “Ons gaan sommer nou gou stop vir die klanktoets en daarna het jy omtrent ’n uur en ’n half voordat ons by die ateljee moet wees. En daarna sommer direk konsert toe.”

      Hy knik en kyk deur die venster na die klompie smouse by die verkeerslig. Eendag wil hy nog vir een van hulle vra wie al die selfoonherlaaiers koop.

      “Waaraan dink jy skielik so diep?”

      “Herlaaiers.” En seks. Ongekompliseerde seks.

      Sy antwoord hom nie en hulle ry verder in stilte tot by die funksielokaal waar die konsert die aand gehou word.

      “Jy СКАЧАТЬ