Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray страница 7

Название: Ena Murray Omnibus 21

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050230

isbn:

СКАЧАТЬ Soos alle vroue kan jy ook nie somme maak nie en het nog minder begrip van geld! Besef jy hoeveel geld is hier in die spel? Ek praat van vyf en sestig miljoen dollar!”

      “Ek weet. Soos ek uitgewerk het, gaan jy steeds baie miljoene uit die transaksie in jou sak steek nadat jy die regering sy wettige deel gegee het en my pa syne gekry het. Kry ’n seerower nooit genoeg nie?”

      “Señorita, hoekom sal ’n mens met minder tevrede wees as jy vyf en sestig miljoen kan hê?”

      “Ons het nóg ’n spreekwoord, señor: ’n gulsige hond verbrand sy mond. Jy is gulsig.”

      “Wat anders as gulsigheid het jou van die ander kant van die aardbol af hierheen laat kom, señorita?”

      “Ek het jou gesê ek hét geld.”

      Sy donker oë blink uitdagend. “Veronderstel ek sê vir jou ek sal verdubbel wat jy het . . . gaan jy nee sê en aandring op die helfte?”

      Sy kyk hom vasgekeer en kwaad aan. “Dis geen argument nie.”

      “O so? My oupagrootjie het vir mý deel gewerk, nie die Costa Rica-regering nie. Toe Bonito sy skat op Kokos weggesteek het, het hy dit sekerlik bedoel vir sy nageslag. Dit was immers hý wat sy lewe daarvoor in gevaar gestel het. En ék is sy nageslag.”

      “Wat wil jy met so baie geld maak? Jý gaan buitendien nie ’n nageslag hê nie . . .”

      “Wat laat jou so dink? Sodra ek trou, sal ek kinders hê.”

      “Jou opinie van my geslag, señor, laat my dink jy sal nie ’n vrou op hierdie aarde kry wat goed genoeg sal wees om vir jou seerowertjies voort te bring nie.”

      “Andrea, my kind . . .”

      Maar tot haar verbystering en haar pa se verligting lag don Alonso skielik hardop. “A, señorita, jy dink al weer verkeerd. Alle vrou is goed genoeg vir daardie doel. Dis tog waarvoor julle geskape is.”

      Sy is opreg geskok. “Jy bedoel . . . om babas in die wêreld te bring is al waarvoor ’n vrou vir jou bestaan?”

      “Hoe dan anders, señorita? Dis al wat julle kan doen wat ’n man nié kan doen nie. Dis ook ál wat julle goed kan doen . . .”

      “En voor goed is?”

      Hy glimlag. “En voor goed is.”

      “Ek dank jou die duiwel!”

      “Andrea . . .” Dries Smit staan vinnig op. Wat in sy dogter gevaar het, weet hy nie, maar hier moet hy haar nou uitkry. “Señor, as u my sal sê waar ek akkommodasie kan bespreek vir die nag en wanneer u wil hê ek Kokos toe moet vertrek . . .”

      “Jy het nêrens te bespreek nie, señor Smit. Jy bly hier en ons vertrek môreoggend saam Kokos toe.”

      Dries trap rond, kyk weer verleë en onseker na Andrea.

      Uit die hoogte sê sy: “Moenie bekommerd wees nie, Pa. Ek sal my weg vind. Ek sien Pa môre op Kokos. Tot siens.”

      “Waarheen gaan jy?”

      Sy kyk kil in die donker oë terug. “Hotel toe. Een wat nié aan jou behoort nie.”

      “Jammer, señorita. Ek het aandele in elke hotel in San José. Vir jou is hulle almal vol. Jy sal van my gasvryheid gebruik maak tot tyd en wyl ek reëlings vir jou terugsending getref het.”

      “Jou gasvryheid is oorweldigend, señor – net soos jou goeie maniere.”

      “Jou los mond is ontstellend, señorita – net soos jou domastrantheid. As daar een ding is wat ek nie voor my oë kan verdra nie, is dit ’n vrou wat nie haar plek ken nie.”

      “Ja, ek weet presies wat jy van jou Spaanse vrou ver-wag – sy moet ’n slavin wees in die kraamsaal. Dank die gode ek is nie ’n Spanjaard nie!”

      “Maar solank jy onder hierdie Spanjaard se dak is, sal jy jou soos een gedra.”

      Sy wend haar woedend tot haar pa. Dinge is aan die handuit ruk. “Pa, ek gaan nie hier bly nie.”

      “Jy het nie ’n keuse nie, señorita Smit. Jy gaan nêrens heen nie. Daar is net een ding op aarde erger as die atoombom – en dis ’n vrou met ’n los mond wat op straat losgelaat is. Galicia sal julle jul kamers gaan wys. Ons ontmoet mekaar oor ’n halfuur in die patio vir ’n skemerkelkie.” Daarmee gee hy ’n stug knik en stap na die glasdeure wat op die veranda met die gietystertraliewerk uitloop. Daar kyk hy vlugtig om. “O ja, señorita. Spaar jou die moeite om jou teen my bevele te verset. Die hekke is klaar gesluit en my twee waghonde word nou uit hul hokke gelaat.”

      Met ’n geslote gesig volg Andrea Galicia na ’n kamer wat ook lyk asof dit uit vervloë dae se seerowerbuit gemeubileer is. Sy staan nog onbeslis en wonder wat haar nou te doen staan, toe daar ’n ligte kloppie aan haar deur is.

      “Andrea . . .” sê haar pa paaiend toe hy sy kop om die kosyn steek.

      Sy sug en gaan sit op die kant van die imposante bed. “Ek is jammer, Pa. Ek . . . het Pa amper ’n paar miljoen gekos.” Sy glimlag grimmig.

      Haar pa kyk haar bekommerd aan. “Maar wat het in jou gevaar, my kind? Jy was aan die baklei binne die eerste minuut!”

      Sy voel skaam en skuldig, maar nog steeds kwaad. “Dis hý . . . Dis alles sy skuld!”

      Haar pa frons. Hy wou ’n paar keer ’n hartaanval kry oor die dinge wat sy vir die don gesê het! En die maniér waarop sy dit gesê het! “Hoe so, Andrea? Wat het hy gedoen?”

      “Eerstens is hy toe nie ’n stokou, gierige vrek nie, maar ’n bloedjong, gierige vrek!”

      “Wat?”

      “Wel, ek . . . ek het ’n ou man met ’n grys kop en ’n kierie verwag. En hier staan die grootmeneer toe op en lyk soos die koning van Skeba . . . en net so hooghartig ook!”

      Dries Smit is nou heeltemal in die duister. Die man kan mos nie help hoe hy lyk nie! En hoekom het dit sy dogter so ontstel? “Daar was net ’n koningin van Skeba,” sê hy verdwaas.

      “Almiskie! En toe is hy nog boonop ongeskik. ‘En wie is dit dié?’ En daardie kyk wat hy my gegee het! ‘Om wat hier te maak?’ Wat dink hy? Ek het beslis nie agter hóm aan Costa Rica toe gekom nie! En die manier waarop hy my teenwoordigheid geïgnoreer het en my met Pa bespreek het asof ek nie in die vertrek is nie! En hy nooi Pa om te sit en hy laat my, ’n dame, daar hoog en droog staan! En . . . die dinge wat hy toe teen my geslag kwytraak! Ons is onbetroubaar en dom. Net goed genoeg vir slawewerk en voortplant – soos ’n dier.”

      “Andrea!”

      “Hy is n chauvinistiese misbaksel en ek vind hom afstootlik!”

      Haar pa kug. Hy het nie geweet sy dogter kan só heethoofdig raak nie. “As jy regtig só ernstig daaroor voel, kan . . . kan ek hom maar sê ek sal hom nie help nie en . . .”

      “Sodat die gulsige ding met nóg meer kan wegkom? Beslis nie! Pa kan vir hom gaan sê Pa wil ’n dubbele fooi hê omdat Pa hom onwettig moet help.” СКАЧАТЬ