Название: Diep spoor
Автор: Jeanette Stals
Издательство: Ingram
Жанр: Историческое фэнтези
isbn: 9781485904304
isbn:
Dankie? Sy bly stil in sy omhelsing.
“Dat jy kans gesien het om met my te trou; saam met my gaan.”
“Ook maar goed jy’t gevra.” Sy lag verleë. “En dat ons kon trou. Anders weet ek sowaar nie.”
“Katrientjie, Katryn,” sê hy in haar hare, druk haar styf teen hom vas.
Sy sê niks, maar die angstigheid om afskeid te neem maak plek vir die gevoel van die plankvloer onder haar kaal voete, Stefaans se lyf teen hare. Die haan kraai een keer toe sy omdraai in die omhelsing en haar hande na sy gesig lig.
Begeerte vlam weer op. Toe lag hulle albei en laat mekaar los.
“Ek moet vir Abel gaan help inspan,” sê hy en gaan uit.
Die deur gaan toe agter hom en Katrien trek gou aan. Sy moet nog die laaste goedjies bymekaarsit. Padkos is gisteraand buite in die melkkamer gelos om goed af te koel en sy kyk in die kamer rond om seker te maak niks bly agter nie. Dit kan twee of drie jaar, dalk langer wees voor iemand weer hier kom.
Die bont donskombers moet sy nog inpak. Gerrit het dit altyd van hom afgegooi, gesê dit hoort by die sneeu. Gerrit, wat altyd bedagsaam en beheers was, ook in hulle liefde. Soos ’n waterstroom wat oor klippe kabbel, het hy plek gemaak vir gras en blomme om aan sy oewer wortel te skiet. Saam met hom kon sy van kind tot vrou groei.
Stefaans, daarenteen, is ’n rivier wat haar meesleur.
Sy tel die dik kombers op en streel oor die bont lap. As hierdie blomme van gisteraand kon praat. Haar nek word warm en sy rol die kombers vinnig op. Sit die bondel versigtig bo-op die agt glase met die kraffie wat sy reeds toegedraai en op ’n beskutting van linnegoed en tafeldoeke ingepak het.
Johannes het vir haar gelag toe hy hoor sy gaan die kristalgoed saamvat, gevra wat sy daaruit gaan drink, want daar in die Oos-Kaap waarheen hulle gaan, word nie wyn gemaak nie. Maar dit was ’n geskenk op haar eerste troue en so mooi, sy kan dit nie hier los nie. Wie weet, miskien kom dit tog eendag te pas.
En wat sal Johannes daarvan sê as hy moet weet sy vat die verfkissie saam? Dit is die eerste ding wat sy ingepak het, heel onder in die groot kis. Haar kosbaarste besitting.
Die haan het weer gekraai en hulle moet groet. Sultan, met Johannes op sy rug, gee ongeduldig ’n paar systappe. Haar broer sal hulle tot by die grootpad vergesel.
Katrien se trane lê vlak, maar sy wil nie huil nie en skuil agter Fransie se opgewonde gebabbel. Die plaaswerkers vorm ’n buiterand van waar hulle groet en die afskeid beskou. Aurora klou krampagtig aan Dina vas en toe Katrien haar eie ma se arms om haar voel, kan sy die trane nie langer keer nie.
Ná ’n rukkie vat Stefaans haar sag aan die arm. “Kom, lief.”
Hy help haar op die wa en klim self ook op.
“Witpoot! Alkant!” roep hy en die twee voorosse beur in hulle jukke.
Die wa kom in beweging en rol die donker in.
Katrien kyk agtertoe. Die twee perde waarmee Stefaans en Abel gekom het, is met lang rieme agter aan die wa vasgemaak. Verder terug kan sy skaars die familie uitmaak waar hulle in die lig van die sterre voor die huis staan en waai. Dis ’n wasige terugblik na ’n ander besoek saam met Stefaans, toe ’n morsdooie jaar op haar gewag het. Gelukkig is dit nou agter die rug.
Sy skuif haar gemaklik langs haar man op die wakis en droog haar trane af. Hier is sy nou, saam met Stefaans, en sy gaan net vorentoe kyk.
13
DIT WORD LIG toe hulle naby die voetheuwels van Helderberg kom. Hoog bo hulle weerklink die roep van swarteende in die vars oggendlug en ver voor hulle strek die Hottentots-Hollandberge tot aan die see, ’n reusehand wat die mense uit die binneland weghou.
“Moet ons daaroor?” wil Katrien weet.
“Ja, vanaand slaap ons by die herberg hier aan die onderpunt van Lowry se pas en môreaand sal ons bo by Houwhoek of iewers oorstaan. Die osse moet genoeg kan rus, maar einde van die week moet ons anderkant dié berge wees.”
“Dit lyk vir my baie hoog.”
“Dis hoog, ja.” Hy kyk in haar oë en lag. “Maar met die nuwe pad is dit kinderspeletjies. Een goeie ding wat ’n Engelsman hier kom doen het. Die Overberg se mense kan nou hulle koring en dinge maklik in die Kaap kry. Ons is nie so afgesny van die beskawing nie.”
Afgesny van die beskawing? Waarvan praat hy? Hý is tog beskaafd.
“Dit was ’n ander storie met die ou kloof langs. Menige wa het daar skade gekry. Een van my osse het eenkeer ’n been gebreek.”
Sy trek die mantel stywer om haar skouers, al is dit nie regtig koud nie; dis eerder ’n skoon, vars bergstroom waardeur hulle beweeg. Sy klim van die wa af en stap tot voor by Fransie wat langs Abel draf asof hy pas ’n verlore broer ontdek het. Maar Abel is oud genoeg om sy pa te kon wees, al is hy skaars ’n kop langer as die seun.
Katrien beduie na die suikerkanne wat langs die pad groei. “Dis mooi, nè.”
“Ja. Kyk daar!” wys hy opgewonde. “ ’n Bok op daardie rots.”
“Klipspringertjie,” sê Stefaans. Hy het op die gelyk grond ook afgeklim en tot langs hulle gekom. “Kyk hoe lekker hoog staan hy. En moenie dink jy kan hom bekruip nie. Hy’t ons lankal gesien.”
“Hy’s so klein,” sê Katrien. “Mens wil hom tog seker nie skiet nie?”
“Gelukkig sorg jy nie vir die pot nie,” lag Stefaans en slaan sy arm om haar. “Ons sal omkom van die honger.”
Die drie van hulle stap in stilte verder.
Ná ’n rukkie kyk sy terug. Dina loop langs die wa, steun met haar hand op die leerboom. Haar oë is nog dik geswel en Katrien se hart mis ’n slag. Sal Dina haar mense weer sien? En ek?
“Kyk, Fransman, daar’s die see,” onderbreek Stefaans haar somber bui.
Asemrowend mooi strek die fynbos tot by Valsbaai se kus. Die oggendson gooi ’n sagte lig oor die groen tapyt met hier en daar ’n witgekalkte huis wat verspot klein, verdwerg deur die berg, ingebed tussen die fynbos lê.
Op berge en in dale, en oweral is God. Waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God. Die psalm maal deur Dina se gedagtes terwyl sy na die massiewe berg kyk. Waar ons gedagtes swewe of styg ook daar is God. Die woorde onderskep haar emosies in ’n veilige net. Sy hoor weer hoe Gerrit dit op die orrel gespeel het, met jubeling en ontsag vir die grote God. In ’n onbewaakte oomblik ook hoe haar ma dit met boekevat gesing het, haar helder stem temerig soos ’n klaaglied.
Trane brand in haar oë en sy kyk vasberade na die drie mense voor haar in die pad. Katrien en Fransie, haar familie. En Stefaans. Hy en Abel sal hulle bring waar hulle moet wees.
Agtermiddag kom hulle by die herberg en nadat hulle uitgespan en geëet het, gaan Dina en Fransie by Abel om die vuur sit. Stefaans СКАЧАТЬ