Название: Laat u Naam geheilig word
Автор: Esté Geldenhuys
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796321732
isbn:
Hoe om te bid oor die Naam El
Bid dat jy sal leer om op El te fokus.
Bid vir sy vrede. Terwyl jy op Hom fokus, ontvang jy reeds vrede. Bid dat die vrede van El ’n direkte invloed op jou gedagtes sal hê, en dat hierdie vrede jou sal help om rasioneel te dink sodat die nuutskeppende gedagtes van Elohim jou kan rig.
Bid dat jou swakheid sal verdwyn in sy krag. Paulus het ook hieroor geskryf:
Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.
– 2 Korintiërs 12:10
Bid dat jy sal leer wat jy moet leer uit elke lewenstorm en dat El jou in die proses sal beklee met sy karakter. Swaarkrytyd is karakterboutyd. Elohim stel meer belang in ons karakter as in ons gemak.
Weet dat El ook die horing van jóú lewe is. Terwyl dinge om jou woed, loof die Naam van El omdat Hy groter en sterker as jou probleem is. Wees veral bedag op die krag van El wanneer jy nie krisisse beleef nie.
Om El te vertrou is om in Hom te rus. Wat beteken dit?
Wat maak jy wanneer jy rus? Jy doen so min moontlik. Om in die rus van YHWH Elohim in te gaan, is om ook in die gees terug te staan, om nie self planne te maak en jouself te probeer red nie. Onthou, solank ek en jy self en uit eie krag veg, onttrek YHWH en sy engele. Óf ek veg en los my probleme alleen op sonder enige hemelse hulp óf ek laat YHWH Elohim toe om dit vír my te doen. Die oomblik wanneer ek terugstaan en Hom vertrou, ontvang ek krag van El om terug te staan en op Hom te wag. Daardie wag – om dít te oefen, is om te oefen om in sy rus in te gaan. Enige bydrae wat ek en jy dan maak in ons situasie, sal moet geskied deur die inspraak van YHWH Elohim.
As ons die plek van rus in Hom leer ken terwyl ons nie krisisse beleef nie, is dit makliker om in daardie rus in te gaan wanneer iets skeefloop. Ons moet leer om te rus in Hom in elke situasie van ons lewe. Hoe meer ons op Hom vertrou, hoe meer kan sy krag ons ondersteun.
Weet dat El ook die horing van jou lewe is. Neem Skrif soos Psalm 18 en bid dit oor jouself.
Ek het U hartlik lief – elke keer wat ons El vertrou, het ons Hom lief. Vertrou op sy krag in jou situasie en weet: Omdat jy Hom vertrou, het jy Hom lief. Maar leer om die woorde uit te spreek – “Ek het u hartlik lief!”
Bid dan:
Vader, dankie dat U as El ook my krag en sterkte is! Daar is so dikwels dinge waarvoor ek te staan kom wat vir my te veel is. Ek kies om my voortaan net op U te verlaat. Ek bely dat ek nie regtig weet hoe nie. Leer my wat dit behels dat ek met U gejuk is, dat U my elke dag die regte pad wil wys en dat u krag my las lig maak. In die Naam van Jesus, help my om u krag en u voorsiening raak te sien. Ek aanbid U. Amen.
YHWH
Die groot EK IS, die Een wat op
sy eie bestaan, die Verbondsnaam
Baie jare gelede, terwyl ek by ’n hoërskool in George in die Suid-Kaap skoolgehou het, het ek die voorreg gehad om Bybelkunde as vak aan te bied vir standerd 9-leerders (vandag se graad 11). In een van die klasse was slegs seuns en hulle het graag my outoriteit getoets. Op een mooi Maandag het een van die jongmanne met ’n hart vol arrogansie vir my gevra: “Juffrou, as daar ’n God is, vertel my, hoe lyk Hy?”
Net die vorige dag, die Sondagmiddag, het ek en my man in die berg bokant George gaan rondry op paaie waartoe net mense wat by Bosbou betrokke was, soos my man, toegang gehad het. Daar was op een plek ’n plaat moederkappie-blommetjies in die veld. Die moederkappie is familie van die lelies. Hulle het ’n baie dun steel, omtrent 30 sentimeter lank. Aan die punt van die fyn steeltjie hang die pragtigste blou blommetjie met vyf blare wat amper ’n bakkie vorm. Twee van die blaartjies aan die een kant is korter as die drie aan die ander kant. Binne-in die bakkie is die mooiste en sagste kleure fyntjies gerangskik op ’n manier wat jou aan ’n gesiggie laat dink. Maar al die blomme se koppies hang af grond toe, asof hulle skaam is.
Dié blommetjies was vir my verruklik mooi, maar ek wou hulle nie “pla” deur hulle gesiggies om te draai sodat ek hulle kon sien nie. Toe gaan lê ek op my rug op die grond en kyk op in hierdie pragtige blomgesiggies met die blou lug agter hulle en die berg rondom my. Toe het ek geweet: Wat ek nou aanskou, is “die Gesig” van die Een wat ek aanbid! En dat hierdie seun toe sowaar net die volgende dag hierdie vraag vir my vra! Ek het vir hom vertel wat ek in die berg beleef het en hom saamgenooi sodat ek die blomme vir hom kon gaan wys. Hy het regop gesit in sy bank, sonder ’n verdere woord.
YHWH is inderdaad “the beautiful One”, so mooi soos ’n moederkappie teen George se pieke. YHWH of Yahweh, dikwels vertaal as “Jehova”, is die heiligste Naam vir die Jode. Hulle spreek nie eens hierdie Naam uit nie. In die antieke tyd het hulle ’n baie spesifieke ritueel gehad wanneer hulle hierdie Naam moes skryf. Elke keer wanneer hulle die Naam YHWH moes skryf, het hulle eers ’n reinigingsbad of ’n mikvah ondergaan.
Die bad vir die mikvah was só ingerig dat daar ’n stel trappe vanaf grondvlak gedaal het na ’n bad benede. Dié bad was groot genoeg om vir een man die geleentheid te gee om homself in die water te onderdompel. In die middel van die trap was daar, van bo na onder, ’n baie geringe aanduiding wat skeiding geïmpliseer het tussen dié deel van die trap waarmee jy na die bad kon afdaal en dié deel waarop jy weer na bo sou stap.
Wanneer die mans hierdie mikvah ondergaan het, het hulle hulle kleed by die bopunt van die trap gelaat sodat niks skeiding kon maak tussen die water wat moes reinig en die liggaam nie. Die afstap na onder was ’n simbool van selfvernedering en die opstap na bo ’n simbool van “opgaan na die Allerhoogste” wat reinig en lewe gee. Ook die trap was deel van die oefening of ritueel. Hulle sou stadig stap sodat hulle op elke trap kon oordink waarmee hulle besig was. Verder het hulle seker gemaak dat hulle met die opstap nie raak aan een wat afstap en hulle daardeur weer onrein maak nie.
Miskien kan ’n mens dink hierdie mense voer dit te ver. Máár, die uiterstes waartoe hulle bereid was om te gaan, was juis ’n aanduiding van die ontsag wat hulle vir die Naam van God gehad het en van hoe heilig hierdie Naam vir hulle was en steeds is.
Ons het eenmaal in Israel by Koemraan beleef dat ons gids, terwyl hy verduidelik het watter ontsag die Essene vir hierdie Naam gehad het, skielik opgehou praat het. Hy was op die punt om te sê “the Name”. Glad nie YHWH nie, maar net “the Name”. Hy het skielik om hom rondgekyk asof hy soek na iets wat hy laat val het. Toe het hy vinnig in sy rugsakkie gekyk en homself merkbaar “bymekaargemaak” om verder te praat. Hy het sy sin herhaal en met die sê van “the Name”, het hy sy hand op sy kop gesit. By gebrek aan sy hoedjie, nie eens ’n kippah nie, maar sy pet, het hy as ’n teken van respek sy kop met sy hand bedek vir die duur van die oomblikke dat hy wou sê: “the Name”. Ek het my verwonder aan die feit dat hierdie hedendaagse Jood, wat nie Ortodoks of Messiaans was nie, steeds hierdie selfde ontsag vir die Naam YHWH gehad het as die mense van wie hy ons vertel het.
Die Hebreeuse taal bevat nie vokale nie, maar slegs konsonante. Daar is wel kolletjies wat vokale aandui. Daar was ’n tyd toe hulle opgehou het om die vokale in die naam YHWH in te skryf, soos wat dit van ouds af wel die geval was. Dit is juis gedoen omdat dit as heiligskending beskou is om die Naam YHWH uit СКАЧАТЬ