Laat u Naam geheilig word. Esté Geldenhuys
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys страница 5

Название: Laat u Naam geheilig word

Автор: Esté Geldenhuys

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796321732

isbn:

СКАЧАТЬ om te onthou dat, vandat jou dag begin en deur alles heen wat jy in die dag beleef, die outoriteit van Elohim groter is as enigiets wat jy gedurende die dag kan beleef. Daar is dae dat die verkeer in Pretoria totaal gek is. As ’n mens na die ontsaglike verkeersopeenhopings kyk, besef jy hoeveel mense hulle dag met irritasie en selfs aggressie begin. Bid op so ’n dag dat die outoriteit van Elohim orde sal bring in die chaos en in individue sodat mense nie sy vrede sal verloor in die verkeer nie.

      Nou moet ek eers noem van die dag toe ons dogter haar rug gebreek het. Daar was kompressiefrakture in drie werwels. Toe die dokter dit vir my sê, het ek eenkant toe weggeloop, soos ’n hond ’n bos gaan soek om onder te lê. My gewaarwording was dat ek in ’n bodemlose gat af val. Ek moes net iets vind om aan vas te gryp. Lofprysing.

      Kort tevore het ek in ’n radioprogram gepraat met mense wat getuig het hoe lofprysing hulle uit ’n gat gehaal het nadat hulle slegte nuus ontvang het.

      Maar op daardie oomblik was daar net mooi niks waaraan ek kon dink waarvoor ek Elohim kon prys nie.

      Wanhopig het ek my oë toegemaak en in my gedagtes net gedink aan die straat daar buite … En toe kom dit! Ek het sy Naam groot gemaak vir die feit dat die son elke liewe môre vanself opkom. Hy doen dit net. Weer en weer kom die son op en dis wonderbaar. En toe loof ek Hom dat die jakarandas vanself weet wanneer om te blom en dat voëls vanself weet hoe om hulle neste te maak …

      Hierdie eenvoudige lofprysing het aan my die krag gegee om op te staan en my dogter te gaan bystaan en om te hanteer wat ek daardie dag moes hanteer. En elke dag daarna was ek sterker in die situasie, want Elohim was ook in die situasie. ’n Maand nadat sy haar rug gebreek het, het sy met stut en al weer geswem. Swem was haar sterkste sport op skool. Nog later het ook sy getuig van Elohim se aanraking in haar lewe en in haar rug.

      Vra dat Elohim in jou die begeerte sal wakker maak om elke dag van Hom bewus te wees in alles wat jy doen. Loof Hom. Aanbid Hom vir wie Hy is.

      Laat ons eerlik wees, mense weet nie vanself wat dit beteken om Elohim werklik te aanbid nie. As dit vir jou waar is, sê dit hardop vir Hom en vra dat Hy jou leer. Neem dan die Skrif wat in hierdie gedeelte genoem word en lees dit, dink daaroor en begin deur Elohim aan te spreek soos jy iemand sou aanspreek wat by jou is. Loof Hom vir die waarheid van die Skrif voor jou. Dink oor Elohim. Spreek in jou eie woorde dankbaarheid uit oor wie Hy is. Moenie altyd dieselfde frases gebruik nie, maar soek nuwe woorde en nuwe voorbeelde uit die Skrif.

      Dit is hoe aanbidding begin. Hy Self sal dit vir jou verder neem.

      Did you not know? Have you not heard? The Everlasting Elohim, YHWH, the creator of the ends of the earth, neither faints nor is weary. His understanding is unsearchable.

      – Isaiah 40:28 (The Scriptures)

      Almagtige, ewige Elohim! U skeppingswerk hou nooit op nie – elke nuwe dagbreek herinner my daaraan. U heers oor u ganse skepping. Ek aanbid U as die almagtige, alwetende Skepper. U begrip ís bo menslike verstand. Dankie dat U nooit moeg of mat raak nie. Dankie dat U ook oor my waak. U is onbeskryflik groot. Ek eer U. Amen.

      El

      Die Almagtige, die sterk Een

      Hebreeus is oorspronklik in ’n piktografiese alfabet geskryf. Daar word vertel dat die teken wat oorspronklik gebruik is om El aan te dui ’n juk nageboots het. Dit is nou die juk waarin osse vasgemaak word om ’n wa of ’n vrag te kan sleep. Osse word gewoonlik twee-twee gejuk, langs mekaar. Deur die eeue heen was dit die gebruik om ’n jong en onervare os saam met ’n sterk en ervare os in ’n juk in te span. Op dié manier kon die jong os van die ou os leer wanneer die ou os die leiding geneem en die jong os gevolg het. Die krag van die ou os was ook van groot belang. As die jong os in ’n verkeerde rigting sou beur, moes die ou os genoeg krag in hom hê om die rigting te bepaal.

      Die pragtige beeld van die twee osse saam in een juk, en veral die feit dat die beeld van ’n juk gebruik word om El te beskryf, hou ’n boodskap in wat ’n mens baie stewig in jou hart moet vasmaak voordat jy die volle betekenis en toepassing van hierdie Naam oorweeg. Besef dat El reeds in die juk staan. Sien dan hoe jy langs Hom gejuk word. Hy ken die pad wat aan jou onbekend is. Hy ken die beste roete na die eindpunt. Hy het genoeg krag wanneer jy geen krag het nie. Jy kan jou op Hom verlaat vir die regte rigting. Sy krag is altyd teenwoordig; wanneer jy voel dat jy nie meer kan aanhou nie, sal Hy jou saamneem omdat sy krag genoeg is vir julle albei. Verder, dink daaraan dat jy nooit alleen is nie. Jy stap jou lewe in – in een juk saam met El. Nooit aan jouself oorgelaat nie … tensy jy kies om weg te breek.

      Gebruik van die Naam El in die Woord

      Die Naam El word ongeveer 250 keer in die Woord gebruik. Hoewel dit heelwat minder is as die gebruik van Name soos Elohim, wat na raming 3 000 keer voorkom, en YHWH, wat 7 000 keer voorkom, beteken dit nie dat hierdie Naam minder belangrik is nie.

      Dit is baie interessant om op te let dat die Naam El in die eerste 17 boeke van die Ou Testament (met die uitsondering van Job en Psalms) 58 keer verskyn, terwyl dit in die boek Job alleen 52 keer voorkom en in Psalms 64 keer. Hierdie feit is ’n weerspieëling van Job en Dawid se verhouding met El, die Almagtige. Dit is twee mense wat waarlik geleer het om hulle ondergeskik te stel aan die juk van El.

      Toe het Job die HERE [YHWH] geantwoord en gesê: Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.

      – Job 42:1-6

      Lees ook Psalm 121:1-8 en kyk hoe Dawid sy afhanklikheid daarin uitspel.

      Betekenis van die Naam El

      Hierdie naam beteken “die almagtige, sterke God”. In Engels word dit vertaal met “the strong One”.

      In die Hebreeus staan die woord “krag” voorop. El is die God van krag; daarom weet ons ook uit die Hebreeus Hy is almagtig, wat ook in ’n persoonsnaam gebruik word as “die Almagtige”.

      In die Hebreeus is daar nog ’n paar kosbare woorde wat gebruik word om die spesifieke krag van El te verduidelik:

      •Hoof – in die sin van ’n politieke opset.

      •Dit verwys ook na die krag van ’n ram.

      •Dan is daar ook die betekenis van ’n sterk pilaar wat onwrikbare ondersteuning gee, waarop jy kan vertrou.

      El is kragtiger as enigiets of enigiemand anders. Onthou jy hoe seuntjies graag spog oor wie se pa die sterkste is? Ons kan waarlik sê ons Vader, wat ook El is, is die sterkste. Die Naam El is die fondasie van wie God is. Hy is in die eerste plek krag en sterkte en sy almag troon uit bo alles en almal wat mag het. Daar is niks in die skepping, geen mens of dier, geen regering of weermag, geen geestelike wese, afgod, demoon of idee, wat groter krag of mag het as El nie.

      El ís die Almagtige, die sterke God.

      Voorbeelde uit die Skrif

      Die heel eerste keer waar die Naam El in die Woord voorkom, is in Genesis 14:18-20:

      En Melgisédek, die koning van Salem, wat ’n priester van God [El], die Allerhoogste [Elyon], was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God [El], die Allerhoogste СКАЧАТЬ