Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 13

Название: Israel reeks: Omnibus 1

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия: Israel-reeks omnibus

isbn: 9780796321985

isbn:

СКАЧАТЬ moeilik. En dis basies ’n onredelike vraag. Dis net die foto …” Sy skud haar hare agtertoe en Marc besef met skielike pyn dat dit presies is hoe Mara dit ook doen. “Kan ek net een ding vra?”

      “Asseblief.”

      “As jy nie by haar is nie, wat onthou jy die beste van haar?”

      Hy antwoord sonder om te dink. “Haar oë.”

      Ruwth sluk. Sy knik stadig.

      “En hoe sy opkyk en lag as sy verleë is.”

      Ruwth kyk weg van hom af deur die venster en hy swyg omdat hy sien hoe ontroer sy is.

      Hulle ete word voorgesit, en toe dit alles netjies reggesit is en hulle kan begin, is sy weer kalm.

      “Ek verstaan dat jy ’n verstommende skeppende talent het. Dat jy skilder.”

      Hy knik.

      Haar mond trek effens. “Ek het ook op my oudag begin skilder.”

      Hy kyk haar verras aan. “Ja?”

      “Dit help om die spanning om jou bietjie af te werk. Ek het twee seuns. Ofer en Uri. Uri woon in Pensacola met sy vrou en twee dogters. Hy is ’n ginekoloog. Ofer en sy vrou bly hier in Jerusalem. In Gilo van alle plekke. Hulle het twee seuns. Hy is die pastor van ’n Messiaanse gemeente, en sy vrou, Shoshana, is aan die universiteit verbonde. Ons verwag elke oomblik dat Ofer opgeroep gaan word. David, hulle oudste, is op universiteit, maar hy is pas weer vir ses weke opgeroep. En ons sal nie verbaas wees as hy wéér opgeroep word nie. Ek het my eie woonstel in Oos-Talpiot. Ek is nou lank afgetree, maar ek was ook vroeër aan die universiteit verbonde. Fakulteit van ingenieurswese.”

      Marc onthou dat Mara hom vertel het dat sy ’n konsulterende ingenieur was. Vir hom lyk sy meer na die eienares van ’n modesalon as ’n ingenieur. Maar met Rivkah het hy geleer dat voorkoms kan bedrieg.

      Sy vra uit na sy lewe en hy vertel haar. Nog nie van Baruch nie en uiteraard ook nie van Nicola nie.

      Dit het koud geword en die restauranteienaar kom skuif die groot venster langs hulle toe. “Lyk my die winter is hier. Ek glo hulle voorspel reën vir môre,” sê hy.

      “Ons het dit baie nodig. Israel is bitterlik droog. Die Kinneret is gevaarlik laag.” Ruwth sug. “Die Ewige praat met sy volk.”

      Die bestuurder glimlag. “Miskien moet Hy eers vir Ariel Sharon moed gee om vir Arafat vas te vat.”

      “Ek is bly die rabbi’s het verlede Woensdag as ’n dag van gebed uitgeroep,” sê Ruwth vir hom.

      Die man trek sy skouers op en maak ’n gebaar met sy hande. “Ek dink die petroldollars praat harder met die Knesset as die rabbi’s.”

      “Die Ewige is ons Beskermer,” sê Ruwth sag.

      “Lanklaas gesien dat Hy iets vir ons doen.” Die man loop kopskuddend weg om ook die ander vensters te gaan toemaak.

      Ruwth en Marc drink hul koffie ’n rukkie in stilte. Toe kyk sy na hom.

      “Hoe lank is jy van plan om te bly, Marc?”

      “My plek is vir 26 April terugbespreek. Halfeen die oggend met El Al.”

      “Goed so. Dis nog langer as ’n maand.” Sy aarsel ’n paar oomblikke asof sy hom opnuut opsom, toe sê sy: “Ek het ’n drieslaapkamerwoonstel met twee badkamers vir myself vandat my kinders jare gelede een ná die ander uitgetrek het. My man is al langer as dertig jaar dood. Nog voordat ek Israel toe gekom het. Sal jy daarvan hou om by my te kom bly solank jy in Jerusalem is?”

      Die aanbod kom so onverwags dat dit hom onkant betrap.

      “Dis baie vriendelik, maar ek wil nie moeite …”

      Sy val hom onseremonieel in die rede. “Jy sal ook nie. Jy sal vir jouself moet sorg. Maar ek dink dis belaglik dat jy in ’n hotel sit terwyl jou grootmoeder in Jerusalem woon.”

      “Dis … ek …”

      “Jy is welkom, Marc. Maar jy moet maak soos jy goeddink.”

      “Is u seker …?”

      “Ek is seker, Marc. En miskien moet jy my maar Ruwth noem,” lag sy.

      “Ek wil graag kom.”

      Daar is opnuut trane in haar oë en sy kyk vinnig weg. “Ek was so bang jy sal teruggaan sonder om met my kontak te maak.”

      Hy spreek met Ruwth af dat sy hom die volgende oggend ná ontbyt sal kom haal na haar woonstel toe. Sy wil steeds nie dat hy met die bus kom nie.

      “Later,” het sy beslis gesê, “miskien later wanneer die kranksinnigheid dalk bedaar het.”

      Toe hy terug is in die hotel, bel hy sy ma in Suid-Afrika van ’n openbare telefoon af.

      “Ek het gedag jy sou gisteraand bel.” Hy hoor die spanning in haar stem.

      “Ek het eers ná twaalf by die hotel gekom en ek dink nie jy sou dit waardeer het as ek tóé gebel het nie.”

      “Ek sou, want ek kon in elk geval nie slaap nie.”

      “Ma-a-a, asseblief, man, ons het mos darem voordat ek weg is oor dié saak gepraat. Ek bel jou nié elke dag nie.”

      “Ek weet. Sorry.”

      Sy hart versag. “Ek is veilig, moenie bekommerd wees nie. Ek het gisteraand met mense wat ek hier leer ken het in die Armeense buurt gaan eet. Toe kom ek so laat terug. Mense gaan nie hier voor ná twaalf slaap nie. Hulle begin soggens eers weer so teen tienuur se kant aan die gang kom.”

      “Jy moet jou oppas!”

      “Asseblief, Ma! Hoe gaan dit met julle?”

      “Goed. Maar die TV-nuus oor Israel is afgryslik.”

      “Moet dan nie daarna kyk nie.”

      “Ek sal probeer.”

      “Mamma …”

      “Hmm?”

      “Ek het vanaand vir Ruwth ontmoet.”

      Dis stil aan die ander kant, maar hy hoor duidelik hoe sy haar asem vinnig intrek. Sy ken dus die naam. Oupa het haar gesê. Sou hy ook vir haar vertel het dat Ruwth weet hy’s in Jerusalem?

      “Mam …?”

      “Ja?”

      “Ek sê …”

      “Ek het gehoor wat jy sê.” Haar stem klink vreemd, soos dié van ’n kind. Marc sien die gryskopvrou vroeër vanaand weer teen die hotel se treetjies opkom. Sien haar haar hare met ’n kopbeweging agteroorgooi.

      “Ek sal vir jou skrywe daaroor. Ek kan nie so lank praat nie.”

      Stilte.

СКАЧАТЬ