Название: Vir mans
Автор: Johan Ferreira
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796317919
isbn:
Rickus is verward. Hy voel dan nou skielik weer ou emosies en dit ontstel hom. Hoe kan hy nou ná al die jare nog iets vir die vrou voel terwyl hy so gelukkig is in sy huidige verhouding? Hy bel sy ouboet en maak ’n noodafspraak. Sy broer is sewe jaar ouer as hy en woon in dieselfde stad. Rickus ry sommer ’n week later deur en gaan kuier by sy broer en sy gesin. Sy broer brul van die lag toe Rickus die storie vertel.
“Sy wil jou nie regtig hê nie, maar niemand anders mag jou hê nie, Boeta!” kom die insig.
“Sy gaan jou kaap, en die geweer teen jou kop gaan die herinnering aan jou liefde vir haar wees,” maan hy.
“Onthou net, daar is nie liefde vir jou van haar af nie.”
Rickus gaan stap die middag teen die rivier af wat deur die stad vloei. Hier kan hy dink. Hy sien die verlede soos ’n fliek voor hom afspeel. Hy sien die kere wat sy ontrou was, haar sogenaamde opregte berou, gevolg deur die herhaling van die pyn. En elke keer laat sy hom onthou hoe lief hy háár het.
Hy gee sy ouboet ’n lang druk voor hy ry. “Dankie, met jóú weet ek hoe voel liefde wat kry én gee.”
’n Paar vrae oor die liefde in jou lewe wat jy kan beantwoord:
1.Gee en ontvang jy liefde in jou verhouding?
2.Is jou maat bly wanneer dit met jou goed gaan?
3.Is daar kompetisie vir liefde in julle verhouding?
’n Mens moet maar onthou, indien jy eens lief geword het vir iemand, sal daardie emosies redelik natuurlik terugkeer indien jy weer romanties met daardie persoon verkeer. Dit beteken glad nie die aard van julle verhouding sal anders wees as wat die verhouding vantevore was nie! Sommige mense het net ’n gebrek aan insig as dit by hulle emosies kom en hulle sal optree sonder om oor die gevolge te dink.
Indien daar iemand in jou lewe is vir wie jy werklik lief is, maar hierdie persoon maak jou by herhaling seer, sal jy in die een of ander stadium beter grense met hierdie persoon moet vasstel. Indien jy verdere pyn wil vermy, sal jy die een moet wees om die toegang wat hierdie mens tot jou lewe het te bestuur sodat die kontak veilig kan bly.
My vrou het demensie
Haar glimlag is dieselfde
Hannes se vrou word in haar laat 60’s reeds met demensie gediagnoseer. Aanvanklik is dit soms half amusant en die twee lag oor die vergeetagtigheid van die vrou wat ’n geheue soos ’n olifant gehad het. Sy verlê haar sleutels al hoe meer, vergeet dat sy reeds ’n lepeltjie suiker in die tee gegooi het en waar haar leesbril nou weer is. Alles mos normale vergeet, troos hy homself.
Op ’n Maandagoggend vergeet sy hoe om by haar haarkapper uit te kom en bel hom histeries nadat sy op pad soontoe verdwaal het. Sy is so paniekbevange dat sy nie kan sê waar sy is nie. Hannes hou kop en vra haar om by ’n vulstasie in te ry. Tien minute later daag hy op en vind haar kilometers van die salon af waar sy al 14 jaar ’n kliënt is.
Die pad van demensie is vir haar ’n onvoorspelbare een. Soms gaan dit so goed dat hy wonder of die neuroloog se diagnose korrek is. Daar gaan weke verby dat sy glashelder dink en funksioneer. En dan, een oggend, word sy wakker en vind hy haar in die gastekamer op soek na haar tandeborsel. Dit breek sy hart wanneer hy na die verwardheid in die bekende oë kyk, die onbegrip waarmee hy én sy so onbekend is.
Sommige dae gaan sit sy voor haar klavier en speel die bekende musiek wat oor jare hulle huis gevul het. Haar talent as pianis was van kleins af opmerklik. Vanoggend vind hy haar weer voor die klawers, starend en stil. Eers laat hy haar net alleen, maar ná ’n uur of twee gaan haal hy haar en skink tee in die blommetjiekoppies van haar ma.
“Waar kry jy dié koppies?” vra sy.
“In die kas, my vrou,” antwoord hy deur die emosie wat in sy bors koek.
“Dis so mooi, ons moet hulle meer gebruik,” antwoord sy met opregte waardering, en glimlag dieselfde glimlag van 40 jaar gelede.
Jy het óp getrou
Die vrou van hom is eiewillig, wel, was nog altyd. Dis hoe hy die trek om haar mond leer ken het as jong vrou wat haar doelwitte najaag. Sy het haar nagraadse kwalifikasies tydens haar twee swangerskappe voltooi en haar loopbaan aangedurf met dieselfde energie as wat sy haar kinders en hom versorg het. ’n Raakvatter van formaat, het sy pa altyd gesê as die skraal figuur verbyblits op pad na die uitvoering van die een of ander selfopgelegde taak.
Dan het Hannes geglimlag en geweet wat sy pa sou sê: “Hannes, my seun, jy het óp getrou!”
Nou sit Hannes en kyk vir sy geliefde waar sy die tee sit en roer. Dis asof sy in ’n droom verval het. Sy glimlag, maar daar is nie ’n verbintenis met hom nie. Hy raak saggies aan haar arm, soos die verpleegkundige hom geleer het, en sê haar naam. Sy kyk op, skrik effens. Daar is min herkenning in haar blik, sy sien hom vandag nie as Hannes nie.
“Dis ek, Hannes,” probeer hy die vonk van herinnering aansteek.
Sy kyk af. Êrens onthou sy iets is fout, maar sy ken nie die sagte oë en die sagte hand nie. Sy trek haar arm weg en skuif haar lyf sywaarts. Daar breek ’n stuk van Hannes se hart af. Hy draai om en gaan lees iets in die tydskrif op die tafel om sy gedagtes te laat bedaar.
’n Paar maande later is daar al hoe minder van sy vrou oor. Sy is nou meestal angstig en geïrriteerd. Sy raak moeilik as hy beheer neem van haar daaglikse roetine en wil nie meer met hom gesels nie. Sy isoleer haarself eerder en bring lang tye in stilte in haar kamer deur.
Dis tyd, Hannes
Ná die laaste besoek aan die neuroloog vra die spesialis dat Hannes alleen vir ’n konsultasie moet inkom. Hulle gesels openlik oor die vordering van die demensie en Hannes sien die tekens soos die arts aandui.
“Hannes, dis tyd,” sê die gryskopdokter wat die pad saam met hulle stap.
“Ons het daaroor gepraat toe sy nog alles verstaan het, Hannes. Sy het aanwysings gelaat oor hierdie dag. Jy was ook hier,” maan hy saggies.
Hannes onthou die dag goed. Hulle het saam in die spreekkamer gesit en sy vrou het duidelik en sonder veel emosie beklemtoon dat as die dag sou kom waar sy nie meer kon kies nie, moes hulle besluit oor haar versorging háár keuse wees. En sy maak die keuse vandag.
Hulle maak kontak met die versorgingseenheid en reël vir die opname. Hannes weet dat daar nie omdraaikans is nie. Sy kom nie weer huis toe nie. Hy sal moet saamleef met die geleidelike, uitgerekte afskeidsproses. In hierdie tyd sal sy dalk vir lang tye afwesig wees van sy werklikheid. Hy sal die tyd sien verbygaan, maar sy sal geen persepsie hê van sy stryd nie. Hy sal moet aanhou leef in sy ervaring van tyd, aanhou geskiedenis skryf saam met sy kinders. Hulle geheuestories sal anders as hare wees, en daarmee moet hy vrede maak. Sy storie sal volledig sy eie moet word, hy sal nie meer op haar olifantgeheue kan staatmaak nie.
Sommige dae daag hy op en dan sien sy hom dadelik raak. Hannes is dan daar en sy gesels en onthou en bou СКАЧАТЬ