Название: Vir mans
Автор: Johan Ferreira
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796317919
isbn:
Staatmaker trek weg
Hendrik gaan studeer twee dorpe verder. Hy vorder fluks en gradueer met lof. In sy honneursjaar ontmoet hy die gelukkige meisie en hulle trou aan die einde van daardie jaar. Ma, Pa en Sus is gelukkig en omarm sy vrou volledig. Die paartjie begin albei in die stad werk en betree nou eers werklik die pad na volwassenheid.
Intussen werk Pa steeds lang ure en Sus is op universiteit in die Kaap. Wanneer dinge by die kerngesin se huis aandag nodig het, bel Ma gou haar staatmaker en hy ry deur om haar te kom help. Die gelukkige meisie gee nie om nie, dis net dat hy soms ten koste van hulle tyd saam na sy ma se pype dans.
Die gelukkige meisie begin brom
Hendrik en sy vrou het nou al ’n paar keer woorde gehad oor die eise wat sy ma aan hom stel. Hendrik kan soms rede insien, maar voel eenvoudig te skuldig om vir sy ma nee te sê. Sy verantwoordelikheidsin dwing hom elke keer terug na die behoeftes van sy ma.
Sy vrou begin ernstig kla. Sy stel ultimatums. Sy wil nie meer by sy ouers gaan kuier nie. Wanneer Hendrik nou nee sê vir sy ma, laat sy hom skuldig voel. Wie gaan haar nou help? Hoe lank moes sy werk om hom groot te kry? Wie het vir sy studie betaal? En nou wil hy nie meer tyd aan haar afstaan nie. Hy probeer die versoeke anders hanteer. Hy maak vasgestelde tye wanneer hy sy ma besoek. Sy vra meer. Sy wil hulle elke naweek sien en as sy pa oorsee reis, voel sy dat Hendrik en sy vrou by haar moet kom bly. Sy vrou skop vas en weier om so gereeld daar te wees.
Kerngesin vs gesin van herkoms
Hendrik en sy ma sukkel met die herdefiniëring van die kerngesin.
Toe Hendrik en sy suster nog tuis gewoon het, was die gesin al vier se kerngesin. Hier lê ons bron van veiligheid en primêre fokus. Ons verwag sekere gedrag en optredes van die lede van ons kerngesin. Ons geniet prioriteit in mekaar se lewe en maak staat op mekaar se verbintenis tot hierdie kerngroep.
Wanneer kinders die huis verlaat en uiteindelik hulle kern skuif na die verhouding met hulle eie lewensmaat, en uiteindelik hulle eie kinders, is dit essensieel dat ouers en kinders die skuif maak na gesin van herkoms. Hendrik se kerngesin is nou saam met sy vrou, en sy verhouding met sy ouers en suster moet nou verander na dié van gesin van herkoms.
Die hooffokus van Hendrik en sy vrou moet nou op hulle verhouding wees. Hendrik se ouers en suster moet hierdie nuwe grense respekteer en die eise wat hulle aan hom stel, verander en aanpas.
Die skuif impliseer nie ’n beëindiging van verhoudings nie, maar wel ’n herdefiniëring daarvan. Hendrik se ma kan nie meer van hom verwag om haar weekliks by te staan met takies rondom die huis nie. Daardie takies moet hy nou by sy eie huis doen. Natuurlik moet hy sy verhouding met sy ouers onderhou, maar nie ten koste van sy verhouding met sy vrou nie.
Skoonma kom kuier
Die reëls van iemand se huis moet bepaal word deur die mense wie se huis dit is. Hendrik en sy vrou moet met mekaar gesels en besluit hoe hulle wil hê dat hulle lewe moet funksioneer. Wanneer hulle ouers dan kom kuier, sal die ouers die funksionering van die kinders se lewe moet respekteer. Dit kan uiteraard moeilik wees indien jy sien dat jou volwasse kinders iets verkeerd doen, maar ons kan nie as ouers van volwasse kinders aanhou om hulle as kinders te behandel nie. Jy bly altyd my kind, maar jy is nie meer ’n kind nie.
Hendrik sal teen sy ma moet optree indien sy die grense van hulle huishouding oortree. Dit maak dit baie moeilik vir sy vrou as sy dit moet doen. Hendrik sal moet leer dat sy primêre verhouding nou met sy vrou is en dat hy haar in daardie opsig moet ondersteun. Ook in die konteks waar sy ouers dalk in konflik met haar kan beland.
Pa en Ma se verhouding word ontmasker
Met die kinders uit die huis, word die tekortkominge in Pa en Ma se verhouding blootgelê. Die kinders is nie meer daar om die gapings op te vul nie en nou moet daardie verhouding verdiep, herstel of uiteindelik verbrokkel. Hendrik moet doelbewus uit daardie rol tree om nie langer die verbintenis tussen sy ma en pa te vergemaklik nie. Pa sal moet leer om ’n groter rol te speel in sy huishouding en Ma sal moet leer om meer van Pa op emosionele vlak te verwag. Sy kan nie langer daardie behoeftes by Hendrik vervul kry nie.
Hendrik moet werk aan die skuldgevoelens wat hy beleef wanneer hy vir sy ma moet nee sê. Om nee te sê, beteken nie ek het jou nie meer lief nie, dit sê gewoon my fokus het verskuif.
Verlaat jou ouers
In die Woord is die opdrag tog ook in ooreenstemming met die sielkundige teorie in hierdie verband. Die opdrag is om jou ouerhuis te verlaat en die hooffokus van jou lewe die verhouding met jou lewensmaat te maak. Ouers én kinders moet streef om hierdie proses reg te kry en die gedrag by mekaar aan te moedig en in stand te hou.
Hier is ’n paar vrae wat jy jou kan afvra om te bepaal of jy al die ouerhuis emosioneel-gesproke verlaat het:
1.Hoe gereeld praat ek met my ouers?
2.Aan wie se mening en dunk heg ek die hoogste waarde?
3.Weet my ouers wat die reëls van my huishouding is?
Indien Hendrik nie die verhouding met sy vrou eerste gaan stel nie, gaan sy verhouding met haar skade ly. Sy gaan voel hy het haar nie lief nie, hy ondersteun haar nie. Bitterheid kan baie vinnig deel word van die belangrikste verhouding in hulle lewe. Dit kan natuurlik tot konflik tussen sy vrou en sy ma lei wat die hele familiedinamika skade berokken. Nou word mooi en wonderlike familiedae bederf deur onduidelike grense en kompetisie tussen lede.
Uiteindelik gaan Hendrik verskeurd voel in hierdie onmoontlik-volhoubare situasie. Die oplossing begin by Hendrik se insig. Hy is die verbinding tussen sy gesin van herkoms en sy kerngesin; hy moet die proses fasiliteer en onderhou. Dit is en bly sy verantwoordelikheid.
Gaan kyk gerus na jou eie lewe en stel vas of daar sulke verhoudingsuitdagings in jou familielewe uitspeel. Praat met jou maat daaroor en kyk of julle ’n praktiese oplossing kan vind oor die grense van verhoudinge met familie. Indien julle nie tot ooreenstemming kan kom nie, gaan spreek iemand objektief wat julle met die proses kan help.
Ek was ontrou en het berou
Ek het geweet dit gaan uitkom
Frans het die afgelope drie jaar ’n buite-egtelike verhouding met ’n vrou wat hy by die werk ontmoet het. Hy was nie ongelukkig getroud nie, hy en sy vrou werk net albei baie hard en hulle tyd saam is meestal gefokus op die kinders. Die gesinslewe is goed, maar hy het die romantiese deel van hulle verhouding gemis.
Aan die begin het hy baie skuldig gevoel en was baie bekommerd dat die waarheid sou uitkom. Soos die tyd aangestap het en die verhouding ’n geheim gebly het, het hy minder angs beleef en uiteindelik net daarmee saamgeleef. Die vrou met wie hy die verhouding gehad het, was tevrede met die reëling dat hulle nie in die openbaar as ’n paartjie sou kon verskyn nie. Dit het haar skynbaar so gepas.
Op daardie aaklige Vrydagmiddag soek sy vrou na ’n foto van hulle kind se eerste skooldag. Dis deel van ’n skoolprojek, maar sy was besig by die werk en het nie die foto laat druk soos sy belowe het nie. Sy is haastig en moeilik. Frans bied aan om op sy hardeskyf na die foto te soek. Hulle is saam op die familiegroep se foto-albums wat deur die gedeelde internettoepassing geskep is.
Sonder dat sy vrou opsetlik na die inhoud op sy rekenaar kyk, klik sy op ’n lêer wat op die gedeelde skerm opkom. Sy word doodsbleek en sit hom en aanstaar waar СКАЧАТЬ