Название: Prooi
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780798177764
isbn:
Daar’s die een wat jy altyd in flieks sien, die ring in die glas sjampanje. Maar hulle is alkoholiste. Hy kan nie die ring só laat aandra nie. En hy het boonop al gehoor van ’n vrou wat die sjampanje – ring en al – gedrink het. En toe moes hulle twee dae wag voor hulle, met die kennis van die ring se baie onromantiese reis, verloof kon raak.
En jy sit tog nie ’n ring in ’n glas vonkelwater nie, maak nie saak hoe top-tien-in-die-land die vloeistof is nie.
Hy sal die ring eenvoudig in sy sak hou. Hy sal dit ná die voorgereg uit sy baadjiesak haal en die boksie oopmaak sodat die diamant in die lig kan flonker. Nie dat daar vreeslik baie flonker gaan wees nie, want die diamant is nie groot nie.
Hy sal dit op die tafel voor haar sit, en haar dan vra. Of dalk eers vir haar vra, en dán die ring uithaal? En as sy nie ’n voorgereg wil bestel nie?
Miskien weet Vaughn van sulke goed. Maar dit beteken hy moet asseblief tog nie vergeet om die ring saam te vat nie. Dit beteken hy sal moet nadink oor sy toesprakie, want jy kan nie net “Alexa, hier’s ’n ring, trou met my” sê nie.
Hy’s nie een vir toesprake nie.
Dis ’n groot stap dié. En ingewikkeld.
* * *
Hy eet met genot, want die burger is lekker. Hy betaal en loop uit, en toe hy buite kom, soek hy die nommer op van die BBP-Beskermingseenheid in Pretoria. Hy bel, vra of hy met sersant Kagiso Dimba kan praat, die man wat die laaste oproep van Johnson Johnson ontvang het.
’n Vrouekonstabel sê vir hom Dimba is aan diens, onbeskikbaar, en sy sal vir hom ’n boodskap laat.
Hy loop terug lykshuis toe, gaan sit in die wagkamer.
Eindelik kom haal ’n assistent hom en lei hom na die teater waar Phil Pagel besig is om met ’n klein elektriese sagie onnoembare dinge aan Johnson Johnson se skedel te doen, die geluid daarvan hoog en irriterend soos ’n reuse-insek.
Pagel is die slimste ou wat Griessel ken, buite die teater altyd flambojant aangetrek, sonbruin en fiks vir sy meer as sestig jaar, met sy lang, aristokratiese gesig. Maar nou staan Pagel in wit patologie-gewaad, ’n groot plastiek-beskermingsbril voor sy gesig, handskoene aan die hande, alles bespikkel met donker bloed- en weefselsaagsels, gebukkend oor die vlekvryestaal-tafel waarop die liggaam van Johnson Johnson lê.
Dit is die reuk wat Griessel altyd die meeste pla.
Pagel lê die instrument neer en dit is skielik stil.
“Nikita, jy lyk goed.”
“Môre, prof. Dankie, prof.”
“Gewig verloor?”
“So bietjie, prof. Ek ry fiets.”
“Uitstekend. En ek hoor die waterkar loop nog op al sy silinders,” sê Pagel terwyl hy ’n knyptangetjie optel en agter Johnson se kop daarmee woel.
“Ek hou, prof, ek hou.” Die wetstoepassingsgemeenskap is klein. Stories loop.
“Merkwaardig, Nikita. Respek.”
En dan, met ’n laaste, teatrale pluk van die tang en ’n kort, nat geluid, trek Pagel iets uit die skedel, hou dit teen die lig, en kyk daarna: “Hier is jou oorsaak van dood, Nikita.”
Dit is blink metaal, in die vorm van ’n afgebreekte lem, sowat ses sentimeter lank. “Okapi,” lees Pagel die inskripsie daarop. “Made in South Africa.”
Griessel staan nader. Hy kyk nie na die kadawer nie, fokus eerder op die lem. “Saturday Night Special,” sê hy, want dis hoe die Okapi bekendstaan.
“Inderdaad,” sê Pagel. “Net onder die oksipitale been ingestamp. Dring deur die serebellum tot in die breinstam. Onmiddellike dood. Nikita, ek sal baie verbaas wees as daar noemenswaardige bloeding op die toneel was. Die hoek van die steekaksie is van agter en onder. Met groot momentum, want dis nie maklik om ’n lem hier in te kry nie. Veral nie jou Okapi nie; hy’s gemaak vir sny, nie vir steek nie. As ek ’n rand gehad het vir elke Okapi-lem wat afgebreek het, jy kry hom nie maklik uit nie … Die aansienlike frontale skedelskade is na alle waarskynlikheid dan post mortem.”
“Hy het ’n staalpaal getref toe hulle hom uit die trein uit gegooi het, prof.”
“Hy was toe al dood, Nikita.”
“Verdedigingswonde, prof?”
“Nie wat ek kon sien nie, maar ek gaan nou deegliker kyk. Ons probleem is dat die liggaam post mortem blootgestel was aan die Karoo. Voëls, insekte en, vermoed ek, ’n jakkals of twee. Ek spaar jou die detail vir die amptelike verslag …” Pagel plaas die Okapi-lem in ’n plastiek-bewyssakkie, oorhandig dit aan Griessel.
Bennie kyk daarna en sug.
“Nie wat jy verwag het nie?”
“Dis moeilikheid, prof.” Want die Okapi is township-bendes en georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte se versteekte wapen van voorkeur. Onnaspeurbaar, anoniem en algemeen.
Dit bring ’n nuwe dimensie na die saak, een wat glad nie pas nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.