Название: Prooi
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780798177764
isbn:
The moment passed, and I never inquired as to whom he apparently recognised, for which I am now very sorry.
We retired to our respective compartments soon after, at about ten minutes to nine, as I wanted to call home from my compartment at nine o’clock. Mr Johnson gentlemanly escorted me to my door, and wished me a pleasant night’s sleep.
That was the last time I saw him.
21
“Okay,” sê Vaughn Cupido hardop vir sy leë kantoor toe hy die Scherpenzeel-verklaring klaar gelees het. “Okay.” Want as Johnson Johnson iemand op die trein herken het, beteken dit die ondersoek kan eers net op die Suid-Afrikaanse treinpassasiers fokus.
“Not a good sign, as ’n man eers met homself begin praat,” sê ’n stem van die deur af. Kaptein Frank Fillander, die gryskop-veteraan van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid, kom in. Agter hom is nog lede van die span, kaptein Vusumuzi “Vusi” Ndabeni en kaptein Willem Liebenberg.
“Met wie anders gaan ek ’n intelligent conversation in dié plek hê, uncle Frankie?”
“Fear not, the cavalry has arrived,” sê Fillander en maak hom tuis in ’n stoel oorkant Cupido.
“Die kolonel het ons gestuur,” sê Liebenberg. “Sy sê jy en Bennie is te useless om dié docket alleen te doen.”
“That’s not entirely true,” sê Ndabeni, altyd bekommerd dat sy kollegas se humor kwetsend kan wees. “We’re here to help.”
“New suit, Vusi,” sê Cupido. “Very stylish.”
“Thank you, Vaughn.” Die kleine Ndabeni is die speurder met die beste kleresmaak in die eenheid, ondanks Cupido se beste pogings.
“So, gaan ons chit-chat of gaan ons die Great Train Robbery oplos?” vra Fillander.
“Murder on the Rovos Express,” sê Vusi. “Classic.”
* * *
Johnson Johnson se voormalige kollega, adjudant-offisier Neville Bandjies van die SAPD se kantoor in Brackenfell, staan langs Griessel in die Soutrivier-lykshuis se uitkenningskamer. Die vertrek is klein en kaal met ’n sitbankie teen die muur en verbleikte blou gordyn voor die besigtigingsvenster. En die emmertjie, langs die bankie.
Bandjies is plomp; die blou uniform span styf om sy middellyf. “Ek is reg,” sê hy en haal diep asem, trek sy skouers terug. Hy het vir Bennie gesê dit is darem nie die eerste keer dat hy ’n lyk moet uitken nie.
Griessel klop aan die venster. Die patologie-assistent trek die gordyn weg. Die liggaam lê op ’n trollie, bedek met ’n groen laken, net die nek en kop is sigbaar.
“Jirre,” sê Bandjies.
Griessel verstaan. Die skade is grusaam.
Bandjies buk skielik af, gryp die emmertjie, braak daarin.
Na ’n rukkie kyk hy op, en sê: “Sorry, kaptein. Ma’ om te dink, dis miskien jou goeie pellie …”
“Jy hoef nie jammer te wees nie. Dis ’n kwaai een dié.”
“Dit lyk na hom,” sê Bandjies en kom regop. Sy asem jaag.
“Jy is nie seker nie?”
Bandjies wend hom weer teësinnig na die venster, maak ’n geluid agter in sy keel en roep vir die assistent: “Kan jy sy arm oopmaak? Die regterarm?”
Die assistent skuif aan die laken.
“Draai die arm so ’n bietjie.”
Die assistent maak so.
Griessel sien die tatoeëermerk. Een woord, swart ink, sierletters: Robyn.
“Dis J.J.,” sê Bandjies. En dan braak hy weer.
* * *
Cupido vertel vir hulle alles wat hy weet oor die dossier. Hy verdeel die werk tussen die speurders. Vir Frank Fillander en Mooiwillem Liebenberg – die man wat as gevolg van sy aantreklikheid vir vroue bekendstaan as die Valke se weapon of mass seduction – vra hy om die buitelandse passasiers te probeer kontak. “Daar was vyf-en-sestig passengers op die trein. Johnson se Hollandse employer is klaar gecover, en ek en Benna sal die sewe locals doen. That leaves you with fifty-seven. Email of foon, as you see fit. Ons wil weet of hulle vir Johnson gesien het, of geken het. Ons wil weet of hulle enigiets genotice het, ordinary of extraordinary. Basically your good old fishing expedition.”
Dan vra hy vir Vusi Ndabeni om by sersant Aubrey Verwey van Beaufort-Wes te hoor waar Johnson se stukkende selfoon op die oomblik is, sodat hulle vir IMC kan vra om dit aan die gang te probeer kry en te analiseer vir enigiets. Dalk ’n foto, dalk WhatsApp-boodskappe. Enigiets.
En dan begin hy kyk na die Suid-Afrikaanse passasiers.
* * *
Professor Phil Pagel laat vir Griessel weet hy behoort oor drie uur klaar te wees met die voorlopige nadoodse ondersoek, en Bennie hoef liefs nie by te wees nie, want “dit is ’n ongemaklike een”.
Pagel weet van Griessel se posttraumatiese stres omdat hy die professor se mening kom vra het toe die sielkundige dit destyds by hom gediagnoseer het. Dis hoekom Pagel hom nou die blootstelling aan die verminkte liggaam spaar.
Griessel wil nie by die lykshuis wag nie. Hy stap uit by die Durhamstraat-hek en loop af na Albertstraat toe. Hy hou van dié deel van Soutrivier en Woodstock, want dit laat hom dink aan die roesemoes van Parow in sy jeug – die energie, die hutspot van kulture, die uiteenlopendheid van ou en nuwe sakeondernemings wat skouer aan skouer staan, armoede en ontwikkeling langs mekaar. Hier, dink hy, is daar nog so ’n bietjie van die ou Kaap wat voortleef, maar nie meer vir baie lank nie. Woodstock verander nou vinnig, die huisies opgekoop en reggemaak deur jong mense wat in die stad werk en nie meer die nagmerrie-verkeer van die voorstede af wil trotseer nie.
Alles verander. Sonder ophou.
Hy besef dit is al amper twaalfuur. Hy loop in by die Old Biscuit Mill. Al die eetplekke lyk duur. Hy gaan sit by Redemption Burgers en bestel The Straight Ace en ’n Coke Zero. Hy haal sy notaboek uit en kyk deur sy aantekeninge. Hy moet Pretoria toe bel, maar sy kop wil nie nou fokus nie. Die ding van Alexa om haar hand vra, spook by hom: Vir wat het hy nie gisteraand vir haar gesê van die Overture-ete nie?
Omdat hy nie weet hoe om haar te vra om met hom te trou nie, dís die probleem.
Want as hy haar vra en hulle ry en hulle kom daar aan en hulle eet hulle top-tien-in-die-land-kos en hulle drink СКАЧАТЬ