Judy se stemnota volg amper onmiddellik: “Dis drie kilogram onder jou goal weight na die babas! Well done, girl!”
Melissa antwoord met nog ’n stemnota: “Ek moet bieg, my geheim is Christine se koolsop.”
Dan is dit Christine se beurt: “Dis nie ’n geheim nie, dis ’n leefstyl.”
Toe Adrie weer vir haarself in die spieël kyk, het haar glimlag heeltemal verdwyn. Dis nou al drie jaar na Leon se geboorte en sy is nie eens náby haar doelgewig nie. Laas Saterdag wou sy in trane uitbars toe sy sien dat daar ’n Blou Bul in die span is wat net soveel soos sy weeg. Darem nie ’n voorspeler nie, maar nog steeds.
Sy kyk na haar foon; sy sal seker ook iets moet sê. Na ’n rukkie druk sy op die blou mikrofoontjie onder in die hoek. “Jy beter daai resep op die groepie post,” sê sy met wat sy hoop na entoesiasme eerder as desperaatheid klink.
Judy stuur dadelik nog ’n stemnota: “Adrie, dankie dat ons die big reveal by jou huis kan doen. Julle weet hoe dit gaan met renovations.”
Sy druk weer op die mikrofoontjie. “Net ’n plesier …”
“Aaaaaaaaaaaa!”
Die bloedstollende krete vanuit die badkamer laat haar nie té veel skrik nie – teen hierdie tyd weet sy presies hoe haar kinders klink as hulle regtig seerkry – maar dan word haar man se paniekerige stem deel van die kattekoor: “Adrie! Adrie! ADRIE!”
“O, kakkers!” Toe sy haastig haar foon neersit, besef sy met ’n skerp, vinnige steek van verleentheid dat die mikrofoon nog aan was en dat sy haar huismanewales vir almal op die groep uitgesaai het. Maar daar’s nie tyd om nou daaroor te tob nie.
Daar is nie baie dinge in hierdie lewe wat Charl van stryk bring nie. Iets moet baie verkeerd wees.
Sy bars by die badkamerdeur in soos ’n wyfieleeu, gereed om met naels en tande te veg om haar gesin te beskerm. Die seuns staan saamgebondel in die water aan die een kant van die bad, al drie heeltemal histeries. Charl leun teen die muur in sy onderbroek en sokkies, sy groot lyf besig om te ruk asof hy wil opgooi.
Adrie kyk verward rond. Waar is die bloed? Die skerwe? Die weerligskade?
Dan sien sy dit. In die bad.
Op die water dryf ’n drolletjie.
Sy gee haar man ’n moedelose kyk. “Dammit, Charl. Ek dog die manne is al in hulle PJ’s.”
Want hy’t belowe. Hoog en laag gesweer dat hy haar régtig vanaand met die seuns gaan help. Date night was immers sy idee. Hy het gesê sy moet ’n slag weer onthou dat sy ’n vrou sowel as ’n ma is, en het belowe hy sal sorg dat die kinders in die bed is terwyl sy regmaak vir hulle spesiale aand uit. Maar natuurlik, sodra die kleinste probleempie opduik …
Adrie se gedagtes word onderbreek deur ’n wilde gespat soos die seuns die dreigende gevaar van hulle af probeer weghou. Ai tog. Normaalweg sou dié tipe ongelukkie haar skaars ’n wenkbrou laat lig, maar sy’t nou nét haar hare en grimering gedoen en sy het haar heel mooiste rok aan.
“Doen iets!” smeek sy vir Charl.
Maar haar dapper man, die ou wat op skool spelers twee maal sy grootte kon tackle, kan nou niks doen behalwe om haar smekend aan te kyk terwyl hy sy bes probeer om nie ’n kat te skiet nie.
Adrie dink vinnig, gryp Ben se speelgoedtrokkie en probeer daarmee die ding uit die water skep. Dis natuurlik op presies dié oomblik dat die voordeurklokkie lui.
“Die babysitter!” Charl neem sy kans waar en verdwyn uit die badkamer om te gaan oopmaak.
Absoluut tipies.
Adrie leun so versigtig moontlik oor die bad, maar die seuns is nou al so buite beheer dat hulle glad nie na haar dreigemente luister nie, en teen die tyd dat sy uiteindelik die droltrokkie kan neersit, is haar gesig en hare papnat gespat met die vuil water.
Ten minste is my rok nog droog, troos sy haarself, net voordat Leon huilend met sy nat lyfie aan haar begin klou en Sebastiaan in ’n kleurvolle stroom reg oor haar opgooi.
In die wasmasjien tol haar rok om en om.
Adrie voel onverwags ’n knop in haar keel, asof sy self nog ’n kind is wat in trane kan uitbars as die lewe ’n bietjie moeilik raak. Sy sluk dit weg, onmiddellik geïrriteerd met haarself. Hierdie tipe goed gebeur mos maar, dis nou regtig nie ’n tragedie nie. Eendag gaan hulle almal nog lekker daaroor lag.
En tog.
Dit was haar gunstelingrok dié. Die enigste een waarin sy nog regtig vrou gevoel het. Een van daardie kledingstukke – deesdae so skaars soos hoendertande – wat gesny is om ’n regte vrou in plaas van ’n winkelpop te laat goed lyk. En vanaand moes spesiaal wees. Sy wou so graag vir ’n verandering weer skaflik lyk. Wou so graag vir ’n rukkie weer mooi en begeerlik voel.
In die masjien tol haar rok om en om.
Om en om.
Charl kom die waskamer binne met een hand weggesteek agter sy rug. Dan rek sy oë. “Ek weet nie wat jy aanhet nie, maar ek hou daarvan.”
Oeps!
Adrie gryp ’n handdoek uit die wasgoedmandjie toe sy besef sy staan nog in haar Spanx. “Uit, Charl!”
Soveel vir die vroulike misterie.
Maar hy bly staan waar hy is, ’n stout glimlag op sy gesig, voordat hy met ’n flambojante gebaar ’n red velvet cupcake van agter sy rug te voorskyn bring soos ’n towenaar wat ’n hasie uit ’n hoed ruk.
“Dis vir môre,” sê sy.
“Dis date night.” Hy wikkel sy wenkbroue.
“Dit was voor Sebastiaan se geboorte laas date night.”
Adrie besef dat sy kortaf klink, maar sy kan dit nie verhelp nie. Sy weet Charl probeer sy bes om haar op te beur na die fiasko van vroeër vanaand, maar die lááste ding wat sy nou nodig het, is die sewe biljoen kalorieë wat in daardie onskuldige stukkie koek skuil. As mens self iets bak, weet jy mos presies hoeveel suiker en botter daarin gaan.
Haar man laat hom egter nie so maklik afsit nie. Die bliksem weet alte goed wat haar swakplekke is, en hy vat stadig ’n suggestiewe hap uit die cupcake, die genot op sy gesig so intens dat dit amper lyk asof hy iets onbehoorliks doen.
Adrie voel hoe haar mond begin water.
“Charl.”
Maar sy kry dit nie heeltemal reg om afkeurend te klink nie. Na al die jare vind sy haar man nog steeds verskriklik aantreklik, en met die manier waarop hy nou met daardie stuk koek tekere gaan, kan sy nie anders as om aan ’n heel ánder soort plesier te dink nie.
Hy doop stadig ’n vinger in die versiersel en vee daarmee oor haar lippe, sy oë vuurwarm, sy groot hand sag.
Dis meer as wat vlees en bloed kan weerstaan.
Adrie lek haar lippe af, stadig en deeglik, die genot van die tuisgemaakte versiersel soos ’n soet, СКАЧАТЬ