Jesus ruik na mirre en stof. Pierre du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis страница 5

Название: Jesus ruik na mirre en stof

Автор: Pierre du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796319418

isbn:

СКАЧАТЬ In die Joodse tradisie is wierook as offer gebruik. In werklikheid was daar meer wierookoffers as diereoffers. Elke dag het die priester by die tempel na die oggend- en die aandoffer ’n wierookoffer gebring. Hulle het die kole wat na die diereoffers oorgebly het van die altaar gevat en die op die wierook-altaar gebruik om die wierook aan die brand te kry. Die priester het deur middel van lotery bepaal wie die offer moes bring. Johannes die Doper se pa het juis die wierook-offer op die dag gebring toe die engel vir hom gesê het hy gaan ’n seun hê.8

      God hou van lekker reuke.

      “… ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.”9

      * * *

      Elke keer wanneer ek wierook ruik, dink ek onmiddellik terug aan die Kerk van die Heilige Graf (Church of the Holy Sepulchre) in Jerusalem. Ons het die een aand laterig in die doolhof van winkeltjies in die ou Jerusalemstad rondgeloop waar jy amper enige tipe Jesus-aandenkings kan koop – van heilige water en heilige grond tot made in china-kruisies. Die straatjies is nou en vol, oral hang drade en flitsende tekens en staan mense by die deure van die winkeltjies wat jou innooi om te kom kyk. Hier en daar is ’n Arabier wat ’n Afrikaanse woord of twee van al die toeriste geleer het en die woorde rondgooi om jou aandag te trek.

      Ons toerleier, wat saam met ons deur die straatjies geloop het, draai toe skielik om en sê dat die Kerk van die Heilige Graf net om die draai is en alhoewel ons eers die volgende dag saam met die res van die toergroep daar sou ingaan, ons dalk net vinnig moet gaan kyk as dit nog oop is.10

      Die groot ou houtdeure, half stukkend, staan toe nog oop toe ons om die draai en af teen die trappies kom. Die gebou is ’n aangelapte stuk werk soos almal oor 2 000 jaar hul deel aangelas het of die dele in ’n nuwe styl na die oorloë herstel het. Dit vergelyk glad nie met iets soos die Notre Dame in Parys of St Paul’s in Londen nie, maar tog het dit sy eie bekoring. Die feit dat dit so baie besoek en gebruik word, is roerend. Ek is nou nog dankbaar ons het daardie aand besluit om vinnig te gaan loer, want die volgende dag toe ons probeer ingaan het, was dit soos om by die FNB Stadion na ’n popgroep te gaan luister. Daar was duisende mense wat deur ’n klein opening probeer druk het om iets te sien. Die aand toe ons laat daar ingesluip het, was dit in vergelyking eintlik leeg.

      Die monnike was besig met die laaste vyf stasies van die Via Dolorosa. Die Via Dolorosa beteken “Die weg van lyding” en loop deur die ou stad. Die laaste vyf stasies is in hierdie kerkgebou.

      Die stasies van die kruis volg Jesus se pad na Golgota. Daar is tussen ag en veertien stasies, afhangend van die tradisie waaruit dit kom. Stasies een en twee is byvoorbeeld deel van die verhoor by Pontius Pilatus, stasie vyf is waar Simon van Sirene die kruis neem, ensovoorts. Die stasies word vandag nog in Katolieke en Ortodokse kerkgeboue en katedrale uitgebeeld. Sommige Protestantse gemeentes het ook hulle eie weergawe van die stasies, gewoonlik net die agt wat in die Bybelteks voorkom en nie dié wat deur oorlewering kom nie.

      Soos die monnike deur die gebou loop, stop hulle by elke stasie en dreunsing die teks. Daarna speel die orrel ’n paar note. Dit weergalm in die kerkgebou en dring deur jou. Ek het nog nooit ’n orrel so hard en duidelik gehoor nie. Die monnike swaai brandende houers vol wierook soos hulle loop. Die rook van die wierook hang dik in die gebou en die soet reuk brand jou neus en jou oë. Dit is, soos Ilse sê, amper asof die reuk ’n kamer of ’n fisiese ruimte op sigself is.

      Die reuk trek deur jou en om jou. Die aand toe ek by die hotel uittrek, het die reuk nog aan my klere geklou. Ek kon die soet geur aan my hare ruik toe ek gaan slaap.

      Elke keer wanneer ek nou wierook ruik, ruk dit my terug na daardie belewenis. Ek sien weer die ou gebou, hoor die monnike dreunsing, en onthou hoe ons die nou trappies geklim het, op Golgota gestaan het en deur die glas, die goud, die lampe en die ikone geloer het na ’n klip waar die kruis geplant was.

      * * *

      Wierook verteenwoordig die teenwoordigheid van God en die aanbidding van sy mense. In Openbaring 5 staan die ouderlinge met 24 goue bakke vol wierook, die gebede van God se mense.11 Wierook is ons erkenning dat God god is.

      “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer” (Psalm 141:2; 1953-vertaling).

      Wanneer Aäron voor die wierookaltaar gestaan het, het die rook opgestyg en ’n kolom gevorm, soos die kolom in die woestyn wat voor die volk uitbeweeg het. Dit is die teenwoordigheid van God self; dit is soos die wolk wat op Sinai kom rus het toe God sy liefdeswet met sy volk kom deel het.

      Die reuk en die rookwolk is albei simbole van ons aanbidding, sowel as van God se teenwoordigheid.

      Terwyl ek hierdie boek geskryf het en op sosiale media gedeel het, het mense vir my stories geskryf van hoe hulle God se teenwoordigheid al as ’n reuk ervaar het. ’n tannie skryf dat die reuk van frangipani’s, haar gunsteling-reuk, altyd vir haar ’n simbool was van Jesus se teenwoordigheid. Sy het dit geruik na haar man oorlede is. ’n vriendin het weer ’n soet reuk geruik toe sy een aand in haar bed lê en bid het, asof die Here die kamer kom vul het.

      Die woord ketoret, wat die wierook beskryf wat die priester voor God moes brand, beteken “om te bind of om te knoop”. Die pad van wierook is ’n tweerigtingstraat. Ons offer ons gebede, ons aandag aan God en ons erken Hom as god.12 God vou ons dan toe in sy rook en sy reuk kleef aan ons en verdryf ander slegte, onwelkome reuke.13

      * * *

      Die wyse manne waarvan ons in Jesus se geboorteverhaal lees, het ’n ster in die ooste gesien en op ’n pelgrimstog gegaan, op soek na die Koning, en die nuwe koninkryk. ’n Mens kan jou indink hoe die lang reis hulle saam in ’n klein gemeenskap gebind het – die saam slaap onder die sterre en die lang dae op die kamele se rûe. Na hul reis bring hulle vir Jesus drie geskenke: wierook, goud en mirre. Wierook was ’n teken dat hulle Hom herken as goddelik en ’n offer vir Hom, maar onwetend meer as dit. Jesus is nie net ’n god wat ons met ons mooi reukoffers moet paai nie. Jesus self is die reukoffer. Jesus bind ons aan Hom vas, Hy maak ons toe in sy reuk. Hy is ’n reukoffer wat aanneemlik is vir God.14

      Dit is Jesus wat ons in God se nuwe koninkryk inneem. Soos die wierook die ruimte van die tempel en die sale van die katedraal vul, so vul Jesus ons lewe met ’n reuk wat aanneemlik is vir God. Ons leef in ’n ruimte wat swaar hang van God se glorie, ’n ruimte waar daar liefde, geluk en lewe is.

      * * *

      HOOFSTUK 3

      Na mirre

      My ma vertel altyd dat dit vir seker nie wyse vrouens was wat die kind Jesus gaan besoek het nie. Wyse vrouens sou eerder boudsalf en doeke gebring het, natuurlik saam met die goud. Wierook was seker nodig vir die doeke se reuk, maar mirre is ’n vreemde geskenk vir ’n baba.

      * * *

      Mirre was en word steeds as ’n bestanddeel van parfuum gebruik. Dit is so baie gebruik dat die woord mirre sommer gebruik is om enige parfuum te beskryf, amper soos wat ons die word “Sunlight” vir enige skottelgoedseep gebruik.

      Mirre word gemaak van ’n hars wat verkry word deur ’n snytjie in die bas van ’n boom te maak sodat die hars, of boomgom soos ons dit ken, stadig kan uitdrup en droog word. Die korrels mirre word fyngemaak en soms met olie gemeng om onder andere die basis van ’n parfuum te vorm.

      Mirre het ’n diep leeragtige reuk, ’n bietjie soos speserye СКАЧАТЬ