Название: Lobola vir die lewe
Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780798167345
isbn:
en eindelik slaap hy diep en droomloos voort.
VRAELYS
1. Hoe sou jy hierdie ontmoeting verklaar in die lig van alles wat hierná gebeur het?
2. Watter rol speel die effens belaglike verwysing na jou deurmekaar hare in die opset van die hele toneel?
3. Kan ’n droom enige deurslaggewende waarde hê in ’n moderne kroniek?
4. In watter mate kan die bonatuurlike ’n sensuele konnotasie hê?
(d) KAFEE
Kat op sinkplaatdak in haelstorm: musiek uit jukebox in die hoek.
Weekblad met gekleurde buiteblad: meisie met kaal ledemate uitgestal soos slaghuisvenster.
Lusteloos, bladsy na bladsy, op sy geel-en-chroomstoeltjie by sy rooi-en-chroomtafeltjie by sy halwe koppie koffie en sy moedelose worsbroodjie (want as die oubaas hom ontbyt gegee het—en dit sy eerste môre en ná die ellende van gisteraand—dan was dit nie nou nodig om hier te sit nie). Flets verhaaltjies, flets briefies-aan-die-redakteur, flets stukkies raad aan Eensaam op A. en Teleurgestel op B. en Sekswolf op Z., flets advertensies (Laat Hulle van jou Hou en jou Lief hê. Trek Populêrheid aan en Kweek ’n MAGNETIESE PERSONALITEIT. Volledige Kursus SLEGS 11/3 Verkry Pragtige Buuste en maak ’n SUKSES van u Vakansie. Volledig geïllustreer—16/-, met GRATIS Gids oor Seksuele Aangeleenthede.)
Toe skuif die geel-en-chroomstoeltjie oorkant sy rooi-en-chroomtafeltjie weg en die meisie met die suèdebaadjie en die swart langbroek kom daar sit. Hy kyk vlugtig op, verbaas, bewus van leë tafels alkant, dan weer af op sy tydskrif en koffie en broodjie.
(Diana. Miskien was dit onvermydelik, maar in ’n openbare banale kafee?)
“Jy sal heeltemal goed lyk as jy jou kuif ’n slag kam, weet jy?” sê sy skielik nonchalant, en lag.
“Jy het seker nie hier ingekom om my dít te kom sê nie, juffrou,” sê hy gebelg, snedig.
“Ek het. Waarom nie?”
“Wie is jy miskien?”
“Is dit so belangrik?”
(Hy: ‘Dit is tog nog dieselfde jý, dieselfde ék!’
Diana: ‘Dis wensdinkery, François.’ Sy lag kortaf. ‘Hoe kan ek jou trouens selfs nog “François” noem? Dit het álles verander, begryp jy nie?’)
“Kyk, juffrou: ek het niks met jou uit te waai nie; en jy nie met my nie. Laat my asseblief in vrede hier sit en lees.”
“Vind jy my nie interessant genoeg nie?” vra sy en glimlag oor die rand van sy tydskrif.
Hy sit dit vinnig neer. “Kan jy my asseblief sê wát jy presies daarmee bedoel het om hier by my te kom sit?” vra hy.
“Gesels.” Sy kyk na haar naels. “Is daar iets verkeerd mee?”
“Luister,” sê hy ergerlik, “dis hopeloos te vroeg in die môre vir dié soort ding.”
“Dis nie juis ’n kompliment nie.” Sy draai om en wink die kelner om te kom, bestel tee, en leun weer met haar elmboë op die tafel. Haar hoë borste terg teen die baadjie. “Ek het vanoggend gesien toe jy van arme ou Serfontein af kom,” sê sy.
Hy vra: “Waarom ‘arme ou’ Serfontein?”
“Waarom nie? Arme ou siel in sy eensame skemerwêreldjie.”
“Verskil dit soveel van enigiemand anders s’n?”
“Jy’s glad te jonk om só te praat.”
“Ek het ewewel genoeg rede.”
“Jy weet, sy seun was ál wat hy gehad het,” sê sy.
“Raak dit my?”
“Miskien nie. Maar vir ons skyn die son darem nog.” Sy wag dat die kelner die tee voor haar neersit en begin dan skink.
(Diana: ‘Jy besef dit tog, François: my ouers—my toekoms—ons planne, alles—al ons sekerhede—’)
Maar halfpad deur die takie kyk sy skielik op en vra: “Dink jy ek is mooi?
“Watter saak sou my opinie maak?”
“Ek voel mooi vandag.” Sy skud haar ligte hare, deurmekaar, oor haar ore terug.
“Waarop stuur jy af?” vra hy reguit.
“Op jou, miskien.”
“Jy’s gek.”
Haar oë glim. “As jy my nie hier wil hê nie, dan gaan ek maar.” Sy staan op. “Ek gaan betaal.”
“Moenie verspot wees nie. Ek sal.”
Maar sy het klaar die geld op die toonbank gaan neersit—vir sy ontbyt ook—en verdwyn by die deur uit met die slank beweging van haar lang bene in die smal broek. Waarheen gaan jy, dink hy, tussen die mense deur, en wat het jy juis kom soek en waar kom jy vandaan en waarom laat jy skielik vrae agter waar voorheen niks was nie?
(Hy: ‘Ek verstaan dan.’ Hy steek sy hand uit. ‘Dan—groet ons maar.’
Haar lippe begin onverwags roer. ‘François, ek—dis nie dat—’
‘Tot siens, Diana. Dit gaan jou goed.’)
VRAELYS
СКАЧАТЬ