Название: Ridders van die grondpad
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Сделай Сам
isbn: 9780624056843
isbn:
Net vir die rekord: Wanneer ek saam met die plaaslike manne om die kampvuur sit, tel nie een van dié stories as uitsonderlik nie. Ook nie die een oor my en Jan du Toit se ervaring met die Kaapse kobra by Klipbokkop of die pofadder-petalje op pad Kaap Infanta toe nie. Dit is alles mos maar goed wat in die loop van ’n rit kan gebeur. Almal het al ’n diere-ervaring of drie gehad.
Maar nie die Amerikaners nie. Hulle hang aan my lippe. Skud hulle koppe. Begin prewel uit pure verbasing. Kyk na my met nuwe oë. Met respek. Agting. Asof ek die Camel-man van die Kaap is, die Marlboro-man van Afrika, Willeboer op ’n Mouterbaaik. En hoe meer hulle oe en aa, hoe meer hou ek daarvan, hoe vinniger groei ek in my nuwe rol. Ek meen, dit is nie elke dag dat ’n man hierdie soort aandag en … wel, bewondering kry nie. Toe ons boonop die volgende dag die teerpad Knysna se kant toe vat teen ’n gemiddelde spoed wat aansienlik hoër is as waaraan die buitelandse joernaliste gewoond is, was my status onaantasbaar.
Maar toe kom Dag 3. Grondpad, die R339 na die Prins Alfred-pas en die Baviaans. Twee van die buitelandse gaste vra my of ek asseblief die “vinnige groep” sal lei.
Hoe kan Willeboer só ’n redelike versoek weier?
Toe laat waai ek met die twee kêrels agterna, diep onder die indruk van my nuutgevonde reputasie, op die slingerpad deur die Knysnabos. So vinnig as wat ek kan. Nee, nóg vinniger, want ons land se eer is immers ook op die spel.
Nou, kyk, geen nugter denkende mens jaag só op daai pad nie. Nie met die seepgladde klam stukkies, die bosboulorries, die blinde draaie, lelike slaggate en pragtige natuurskoon nie. Maar ek het toe lankal nie meer nugter gedink nie – ek was die Marlboro-man.
Dit was ’n Land Rover Discovery wat my aarde toe gebring het. Om ’n skerp draai ry hy skielik die hele pad vol en daar’s net ’n klein spasie om links te verby. ’n Bietjie té klein blyk dit toe: Voorwiel teen die wal af en toe’s dit alles verby.
Ek het fisiek niks oorgekom nie. Hier ’n kneus en daar ’n verrekte spier. Maar die fiets was ’n wrak. En my ego het sleg seergekry. Sommer bitter sleg.
As jy dus in die volgende jaar of wat die R339 in Avontuur se rigting ry, doen dit tog maar stadig. En wanneer jy naby Assegaaibos kom, pink tog ’n traantjie ter ere van die harde manne wat daar begrawe lê – die Camel-man van die Kaap, die Marlboro-man van Afrika en Willeboer op ’n Mouterbaaik.
2 (As jy nie jaag nie)
Knysna
70 km tot by Avontuur.
As jy soos ’n nugter denkende mens ry, duur dit twee uur.
Sutherland en Merweville
Motorfietsryers het ook ’n binneste.
Dis danksy rolprente soos The Wild Bunch en aweregse groeperings soos die Hell’s Angels dat persepsies tot die teendeel bestaan, maar die waarheid is dat mense op motorfietse inderdaad gevoelens het – en boonop dikwels krampagtig aan ’n brose waardigheid vasklou.
Vat nou maar valhelmhare-sindroom. Dit verwys na die verskynsel waar dié hooftooisel jou haredos só platdruk dat jy kompleet soos die dorpsidioot lyk wanneer jy dit afhaal. Of wanneer jy aan die spoeg gaan soos ’n gebruiker van pruimtwak wanneer ’n insek by jou mond invlieg teen 140 km per uur. Daar’s ook die miere in die valhelm-dans (snaaks, maar nie vir die helmdraer nie), die beskermende klere wat jou in die winter laat lyk soos die afskuwelike sneeuman en, les bes, die by-in-die-mou-voorval, waaroor my storie eintlik gaan.
Dink jou dit in: Dis ’n Sondag in Desember en warm in die Kaap, dus nog ’n hele paar grade warmer in die Ceres- en Groot-Karoo. Ek moet Beaufort-Wes toe via Sutherland en Merweville om roetes te gaan verken vir die destydse GS Challenge. Ek is gestewel en gespoor en my haredos is lankal klassieke dorpsidioot, ook danksy die sweet wat stelselmatig in my valhelm opbou.
Die plan is om so min moontlik teerpad te ry tot by my bestemming. Ek vat die grondpaaie deur die Swartland Wellington toe. Daarna volg die immer indrukwekkende Bainskloofpas en die fraaie Michellspas na Ceres vir brandstof en ’n vinnige blikkie koeldrank (wat later baie goed te pas sou kom).
’n Mens moet kop hou om Sutherland van Ceres af met grondpaaie te bereik: Jy vat eers die R46 vir (toevallig) 46 km en hou dan links sodat jy op die R355 kom. Skaars 6 km verder op die grondpad – wat heel skouspelagtig deur die Doringrivier se valleitjie kronkel – draai jy regs op ’n nommerlose pad wat ná nog sewe kilo’s vurk. Hier hou jy links, want jy gaan nou Pienaarsrivier se berge toe (ek sweer dis die bergreeks se naam).
As jy moed en rigting hou, is dit net oor die 100 km voordat jy die R354 tussen Matjiesfontein en Sutherland raakry – en dis toe presies op daardie punt dat die by in my linkermou invlieg en besluit my naskeermiddel staan hom nie aan nie. En as ’n by ongelukkig is, steek hy.
Wat maak jy as jy links draai op die teer en ’n kool vuur is skielik doenig hier op jou voorarm, onder ’n motorfietsbaadjie wat minstens vyf minute gaan neem om los te gespe/rits/trek/druk? As jy ’n pampoen is (soos ek), dan vryf jy dringend en hard op die oorsprong van die brandpyn – en druk elke laaste druppeltjie gif uit die by se aansienlike voorraad, deur die angel tot in jou eie bloedstroom.
Fout Nommer 1. Dan brand dit eers.
Fout Nommer 2 lê toe net 38,7 km verder. Ek het gereken ek sal die hoogoond-hitte van bysteek-koors en my skielike groot dors op Sutherland kan les. Op ’n Sondagmiddag omsteeks 12:00. Wanneer daar nie ’n enkele sakeonderneming oop is nie. (Kon darem brandstof kry nadat hulle die tannie van die motorhawe gaan opklop het.)
Toe ry ek en my persoonlike hittegolfie maar aan Merweville toe … 10 km suid op die R354 draai jy links verby Sutherland se lughawe en na 32 km draai jy weer links op wat na ’n plaaspad lyk. Dan sal jy die windpomp en die sementdam sien en weet jy het net twee keuses – duik met klere, stewels, valhelm en al in of koel in jou adamsgewaad af.
Lank nadat ek poedelnakend onder die helder, heerlike water verdwyn het, het ek eers begin wonder of die boer sou omgee. Toe het ek versagtende omstandighede begin uitdink, waarvan die belangrikste was dat dit immers noodhulp was. Teen bysteek.
Die res van dié pragtige pad Merweville toe was loutere plesier. Canyons en berge, ’n pas met jakkalsdraaie en ’n uitsig oor die Groot Karoo wat jy nêrens anders kry nie. Net vir die rekord: Merweville se winkel was ook toe. Ek moes my dors op Beaufort-Wes gaan les. Teen daardie tyd het ek darem al my waardigheid СКАЧАТЬ