Название: Met ander woorde
Автор: Wilna Adriaanse
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624067030
isbn:
“Of jy kan haar by jou opneem vir waarneming . . .” Willem kyk hoopvol na sy vriend en Ben begin stadig glimlag.
“Of jy kan haar vir Karel stuur. Hy hou daarvan om met studentemeisies te werk.”
“Julle stuur haar nie na Karel toe nie. Daai man het die morele waardes van ’n vlakhaas – en dan beledig ek waarskynlik die haas.” Lisa kyk ergerlik van die een na die ander.
Ben hou sy hand op. “Weet jy of sy en die kêrel ’n seksuele verhouding gehad het? As dit die geval is, is ek nog meer oortuig van my diagnose. Sy voel dalk nou skuldig omdat sy saam met hom geslaap het en nie met hom gaan trou nie. Sommige meisies se koppe werk so.”
“Hoe kan jy sommer net ’n diagnose uit jou duim sit en suig? Vroue is wragtig meer gekompliseerd as dit, en die lewe begin en eindig nie noodwendig vir ons by ’n man nie, al wil julle dit graag glo. Sy mag ’n plaaskind wees, maar sy is nie naïef nie en sy het nie ’n slagoffermentaliteit nie. Sy is eintlik een van daai mense wat high on life is.”
“Hoe lyk ’n mens wat high on life is?” Ben kyk spottend na Lisa.
“Dis die verskil tussen iemand wat ’n dop of ’n joint nodig het om ’n party te geniet en mense wat stone sober die lewe van ’n party kan wees. Hulle láát dinge gebeur. Sy is gedurig met een of ander projek besig. Sy dien op die juridiese vereniging, sy was lid van haar koshuis se HK en sy is in haar derde jaar as studenteraadslid verkies. Dis nie iemand wie se wiele afval as ’n verhouding nie uitwerk nie. En verder kom sy van die Karoo af. Daai mense het sterk ruggrate.”
Ben hou sy glas vir Willem om weer vol te skink. “Is dit nou ’n geval van virtue lies in the eye of the beholder?” Hy lag en hou dan sy hand op toe Lisa se mond weer oopgaan. “Ek is nie besig om haar karakter aan te val nie en ek sê ook nie dit is die oorsaak van haar probleem nie, maar niemand van ons kan sê hoe iemand onder sekere omstandighede sal optree nie. Sterk mense is nie onfeilbaar nie en sy is op ’n ouderdom waar vroue nog by tye baie emosioneel kan wees, veral as hulle studente is, want die fokus is nog grootliks op hulleself en enige rimpeling in die teekoppie kan as ’n volskaalse storm ervaar word.”
“Los nou maar die gemiddelde student,” maak Willem hulle stil. “Ek moet haar die voordeel van die twyfel gee en seker maak ons het nie hier met ’n groter probleem te doen as ’n kêrel nie.”
“Maak net seker van haar seksuele geskiedenis. Ek is ernstig as ek sê dit kan soms tot erge emosionele probleme aanleiding gee.”
“Jy klink nou soos een van Freud se dissipels. Wat is volgende? ’n Elektra-kompleks?”
Ben skud laggend sy kop vir Lisa. “Moenie sommer vir Sigmund afskryf nie. Hy het ook geglo dat ’n vrou se inherente afguns haar daarvan weerhou om ’n regverdige oordeel te hê. Ek vermoed hy gaan nog eendag tot profeet verklaar word.”
Toe Willem begin lag, kyk Lisa met nougetrekte oë na hom. “As ek jy is, sal ek versigtiger wees waarvoor ek lag.”
“Kan jy nie dink voor jy praat nie?” kla hy in Ben se rigting. “Here I was, peacefully minding my own business.”
“Moenie al die skuld op hom pak nie. Jy het nie nodig gehad om saam met hom en sy vriend Freud te stem nie.”
“Kan ons asseblief terugkom na die onderwerp onder bespreking? Wat sê ek Maandag vir Kristina se ouers?”
Ben staan stadig op en strek sy arms bo sy kop. “Verwys haar vir psigiatriese evaluering as dit jou sal gerusstel.”
“Jy kan dit vir my doen.”
“Ek het nie tyd nie, en die kliniek is buitendien vol.”
“Jy lieg; Riëtte het gister nog gesê julle het plek.”
Ben soen Lisa op die wang en begin voordeur toe stap.
Willem staan ook op en stap agter Ben aan. “Fok, maar jy’s eiesinnig. Ek vra jou mooi.”
“Ek sal daaroor dink.” Ben lig sy hand in ’n groet voor hy met die stoeptrappies afstap en in sy motor klim.
Kristina staar lank na die deur waar die verpleegster so pas uit is. Soveel vrae. Almal het soveel vrae. Die dokters, verpleegsters, haar familie en vriende. En sy het vir niemand antwoorde nie. Hulle druk koorspenne in haar mond, trek buise vol bloed, kyk in haar oë en neem bloeddruklesings, maar tog het hulle ook nie antwoorde nie. Waarom dink hulle sy moet weet?
Sy draai op haar sy, trek die duvet oor haar skouer en wonder hoe lank hulle haar nog hier gaan hou. Haar gedagtes is soos papiere wat op ’n winderige dag heen en weer gewaai word. Daar is geen ritme of patroon nie; net ’n sinnelose heen en weer van skynbaar gewiglose gedagtes. Dis asof iemand haar gedagtes met ’n besem deurmekaar gevee het. Begrippe wat logies langs mekaar gelê het, is nou onherkenbare woordflenters. Al wat oorgebly het, is sinne wat nie sin maak nie en begrippe wat sy nie meer begryp nie.
En tog vra almal elke oggend: “Hoe gaan dit?” met die sigbare verwagting dat vandag dié dag gaan wees. Dat daar oornag ’n wonderwerk plaasgevind het en almal kan uitroep: “Halleluja, prys die Heer, Kristina is weer haarself! Sy het uit die dood opgestaan en is selfs ’n bietjie honger.” Almal wag onbewustelik op die wonderwerk. Sy wag dan self daarop. Op die halleluja en prys die Heer! Terwyl daar voor haar ’n ligtonnel is wat vinnig besig is om al nouer te word. Haar instinkte waarsku haar dat sy deur die tonnel moet kom voor die donkerte toemaak, maar iets sê ook vir haar sy is reeds te laat en dat dit beter is om hier vir die donker te wag. Hier in die oopte. Binne-in die tonnel is daar rotse waarteen sy haar gaan stukkend stamp. Soos toe die landrowers van ouds die skepe met vals ligbakens op die rotse laat loop het.
Hoofstuk 3
Ben is Maandagoggend te besig om weer aan sy gesprek met Willem en Lisa te dink, en toe Riëtte net ná een kom sê Willem het gevra hy moet hom terugbel, gee hy ’n lang sug.
“Ek wil nie met hom praat nie.”
“Hy het gesê jy sal nie wil nie, maar ek moet sê dis baie dringend.”
Ben sak op sy lessenaarstoel neer en begin die bekende nommer skakel. “Hy is die naam vriend nie werd nie.”
“Kristina Lazarus se ouers wil jou kom sien,” val Willem met die deur in die huis toe hy hoor wie praat.
Ben verskuif die gehoorstuk na sy linkeroor en tel sy pen van die lessenaar af op. Hy begin sirkels op die wit bladsy van die skryfblok trek.
“Wat presies is dit wat jy nie van die woord ‘nee’ verstaan nie?”
“Ek het nie nou tyd nie. ’n Mens moet soms bereid wees om uitsonderings te maak, en nou is die tyd om dit te doen. Dit kan jou dalk sommer van ’n klomp van jou issues genees. En in elk geval, die ouers gee jou dalk een kyk en besluit hulle hou nie van jou nie.”
“I should be so lucky,” brom Ben voor hy die telefoon neersit en na die sirkels op die papier kyk. Dit vorm ’n ingewikkelde patroon wat van binne na buite uitkring en seker een of ander onderliggende betekenis moet hê, maar dis te diep vir hom.
“Meneer СКАЧАТЬ